.....
“Sowat 17 000 mense is reeds sedert die begin van die 21-dag-inperkingstyd op 27 Maart in hegtenis geneem.”
.....
In plaas van huweliksklokkies het ’n bruidspaar die afgelope naweek die geklingel van tronksleutels gehoor toe hulle in hegtenis geneem en toegesluit is omdat hulle in stryd met die inperkingsregulasies troue wou hou. Pleks van ’n wittebrood moes die twee verliefdes die naweek agter tralies in die tronk spandeer.
Foto: Pixabay.com
Die pastoor wat hulle in die huwelik sou bevestig het, is saam met die paartjie en omtrent 50 gaste in hegtenis geneem. Videomateriaal van die bruid in haar spierwit bruidsuitrusting en haar voornemende bruidegom wat onseremonieel in ’n vangwa geprop word, het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.
Police arrested people who were attending a wedding at eNseleni outside Richards Bay. The about-to-be newlyweds will spend their honeymoon under stringent bail conditions. Amongst the arrested, is the Pastor who was officiating in the matrimony.Mabonya bonke! Haak! pic.twitter.com/N9sPmoVoEL
— @UncleLupi (@lupingcayisa) April 5, 2020
Die verdwaasde gaste moes magteloos toekyk hoe die bruidspaar en die pastoor voor hulle oë in hegtenis geneem word voordat hulle self in hegtenis geneem is. Die reaksie op Twitter was nie juis simpatiekgesind teenoor die paartjie nie. Die meeste mense het vir hulle gelag en sê die enigste voordeel is dat hulle nooit die datum van hulle huweliksherdenking sal vergeet nie.
Hier en daar het iemand simpatie gehad vir die twee, terwyl nog iemand gespot het dit moes ’n voormalige liefde van die bruid of bruidegom gewees het wat die polisie uit weerwraak gebel het om ’n stokkie voor die huwelik te steek.
Brigadier Vish Naidoo, die nasionale polisiewoordvoerder, het volgens Netwerk24 gesê ongeveer 53 mense is in Enseleni net buite Richardsbaai in hegtenis geneem. Dit sluit die dominee, pastoor en gaste in wat tydens die staat van inperking steeds troue wou hou.
Naidoo het beklemtoon dat geen byeenkomste gedurende die staat van inperking toegelaat word nie. Hy sê die mense gaan heel moontlik van ’n oortreding van die Wet op Rampbestuur aangekla word.
.....
“Die verdwaasde gaste moes magteloos toekyk hoe die bruidspaar en die pastoor voor hulle oë in hegtenis geneem word voordat hulle self in hegtenis geneem is.”
.....
’n Pasgetroude paartjie van Suid-Afrika is intussen op ’n eiland in die Maldive gestrand nadat hulle weens die koronaviruspandemie nie kon terugkeer huis toe nie. RSG het Maandag berig Olivia en Raul de Freitas is nou die enigste gaste in die vyfsterhotel en vrees dat hulle bankrot gaan wees wanneer die afsonderingstydperk verby is. Olivia het aan die New York Times vertel dat mense dikwels droom om op ’n tropiese eiland gestrand te raak maar dat dit ’n ander saak is wanneer dit regtig gebeur.
Die polisie het weer gewaarsku dat diegene wat die afsonderingsmaatreëls oortree, swaar gestraf sal word. Sowat 17 000 mense is reeds sedert die begin van die 21-dag-inperkingstyd op 27 Maart in hegtenis geneem. ’n Pretorianer wat ’n bespotting van die COVID-19-regulasies gemaak het, ’n groep jeugdiges van Hammanskraal wat die minister van polisie, Bheki Cele, op sosiale media gevloek het, en twee mense wat fopnuus op sosiale media geplaas het, is onder die jongste arrestasies. Naidoo sê ’n Gautenger wat die regulasies oortree het deur alkohol in Ga-Rankuwa noord van Pretoria te verkoop, is ’n R10 000-boete opgelê.
Illustrasie: Pixabay.com
In die Vrystaat is ’n nutsman van Brandfort wat toestemming by die polisiekantoor wou gaan vra het om iemand in nood te help, summier met R5 000 beboet.
Netwerk24 het Maandag berig dat Ignatius Hurter Saterdagoggend beboet is toe hy by die plaaslike polisiekantoor toestemming wou kry om iemand met ’n verstopte drein te help. Hy sê hy weier om die boete te betaal en sal sy saak in die hof stel.
Die voorval het groot kritiek op sosiale media van die publiek uitgelok. Johan Willemse skryf op Facebook dit gebeur as polisiebeamptes heel magsbehep word en geen oordeel het nie. “Ek het dit gesien toe ek ’n polisieman was. Dis so asof hulle Superman wil wees en almal en alles wil vervolg, maar soos hulle ouer word begin die oordeel meer intree.”
In ’n ander voorval het die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, SAMA, ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Polokwane ingedien teen Limpopo se Departement van Gesondheid wat na bewering twee dokters teen hulle wil afsonder. Die dokters is in opdrag van die LUR van gesondheid, Phophi Ramathuba, na die Modimolle-tuberkulosehospitaal geneem. ’n Woordvoerder van die departement sê die regering het besluit om mense wat positief vir COVID-19 toets, in afsondering te plaas om die verspreiding van die virus te bekamp.
SAMA se woordvoerder, Angelique Coetzee, het volgens RSG gesê die departement hou nie by die riglyne van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes en die Wêreldgesondheidsorganisasie nie.
Buro: MvH