Bruin onderwyser in die pekel omdat hy sê hy is swart

  • 0

’n Bruin Wes-Kaapse onderwyser is in die moeilikheid omdat hy geweier het om as bruin geklassifiseer te word toe hy aansoek doen vir ’n onderwyspos. Hy het homself op sy CV as “African” bekend gestel in plaas van “Coloured” omdat hy gekant is teen rasseklassifikasie.

TimesLive het Woensdag berig Glen Snyman, ’n onderwyser van Grootkraal Laerskool in Oudtshoorn, moet drie maande nadat hy aansoek gedoen het vir ’n pos by ’n ander skool, voor ’n dissiplinêre komitee verskyn weens bedrog.

Snyman is ’n uitgesproke kritikus van rasseklassifikasie. Hy het die Wes-Kaapse Departement van Onderwys verlede jaar by die Arbeidshof aangekla om te versoek dat die rasseverwysings “Coloured” en “Indian” van die departement se vorms verwyder word.

Hy voer reeds sedert 2010 ’n veldtog teen die regering se voortgesette gebruik van raskategorieë, naamlik “Black”, “Coloured”, “Indian” en “White” op hulle dokumente, insluitend werkaansoekvorms. Snyman het ook ’n webwerf begin waarop hy hom beywer vir die afskaffing van enige vorm van rasseklassifikasie.

Verlede jaar het hy en ’n kollega van die organisasie People Against Race Classification teen rasseklassifikasie op Clifton se Vierde Strand betoog om hulle boodskap uit te dra. Hulle het T-hemde gedra waarop geskryf staan: “Ek is nie bruin, swart, wit of Indiër nie. Ek is ’n Suid-Afrikaner.”

Volgens TimesLive is hulle in besit van ’n klagstaat teen Snyman wat deur die Wes-Kaapse Departement van Onderwys opgestel is. Hy word glo daarvan aangekla dat hy bedrog gepleeg het deur na homself as swart te verwys toe hy aansoek gedoen het om ’n pos as skoolhoof by Fezekile Sekondêre Skool. Daardeur het hy homself volgens die klag teen hom onregmatig bevoordeel om op die kortlys vir die pos te kom. 

In ’n brief wat hy verlede maand aan Rapport geskryf het, sê Snyman mens is net swart wanneer dit die ANC pas. Hy verwys onder meer na die onlangse aanstelling van Christo van der Rheede as die nuwe uitvoerende direkteur van Agri SA. Hy sê daar word op verskeie webwerwe na Van der Rheede as die eerste swart uitvoerende direkteur verwys terwyl almal weet hy word as ’n bruin man beskou.

“Hoekom dan wanneer bruin mense hoë hoogtes bereik, word daar na hulle verwys as swart mense? Maar wanneer dit kom by die regering se werkskeppingsprogramme, bevordering en  hulpfondse-uitdelery word hulle as bruin mense en kleurlinge beskou?” wil hy in sy brief aan Rapport weet.

’n Woordvoerder van Wes-Kaapse onderwysdepartement wou volgens TimesLive nie kommentaar lewer oor die klag teen Snyman nie, omdat die saak sub judice is. Sy het egter bevestig dat die klag teen hom verband hou met “bedrieglike inligting” op sy CV.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, het haar Woensdag in ’n verklaring gedistansieer van die klag wat teen Snyman ingestel is. Sy sê sy het eers Woensdag daarvan te hore gekom.

Schäfer sê in haar verklaring een van die talle booshede van apartheid was die klassifikasie van mense op grond van hulle sogenaamde ras. “Dit is waarteen baie mense geveg het om van ontslae te raak. Ek is dus verstaanbaar geskok om te ontdek dat my departement oënskynlik iemand aankla wat verkies om self te besluit hoe hy geklassifiseer wil word.”

Sy sê indien dit die geval is, sy ten sterkste daarteen gekant is. “Ons sal nie toelaat dat mense geviktimiseer word omdat hulle gekant is teen ’n kunsmatige en eensydige klassifikasie van wie hulle veronderstel is om te wees nie.”

Die Minister sê sy het reeds as ’n saak van dringendheid al die nodige inligting oor die saak aangevra en op die oog af strook dit nie met wat haar departement glo en voorstaan nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top