Buchan blameer die duiwel vir Kaapse droogte

  • 0

 

Angus Buchan

Die lekeprediker Angus Buchan, wat verlede jaar voorspel het dat Kaapstad se damme volgende maand weer vol sal wees na die droogte, beweer nou die aanhoudende droogte is die gevolg van God se woede. Volgens hom is God ontevrede oor die huidige toedrag van sake in die Moederstad, daarom wil hy die Kapenaars se aandag hê.

Verlede jaar in November het Buchan ’n gebedsbyeenkoms van parlementslede in die parlement toegespreek en gesê die provinsie se damme sal reeds volgende maand vol wees. Volgens die weervoorspellers is daar egter geen aanduidings dat Kaapstad se damme volgende maand naastenby genoeg water sal hê om in al die stad se behoeftes voorsien nie.

Buchan het sy voorspelling verlede jaar in die teenwoordigheid van parlementslede gemaak kort nadat hy beweer het dat ’n vrou wat dood was en vir wie hy gebid het, weer lewend geword het.

Die afgelope week het hy gesê Kapenaars moet hulle sonde bely as hulle wil hê dit moet reën, want God is kwaad vir hulle. “God is nie gelukkig met Kaapstad nie. Hy het genoeg gehad van vroue- en kindermishandeling, bendegeweld, en wetteloosheid.”

Volgens Buchan heers daar vrees in die Moederstad vir al die geweld, misdaad, armoede en rassespanning. Hy sê die duiwel is die outeur daarvan. God sal sake regruk as mense volgende maand in hulle duisende na Mitchells Plain stroom en hulle skuld voor God bely, het hy Bybel in die hand verklaar met sy kenmerkende cowboyhoed op sy kop.

Buchan beplan om op 24 Maart ’n herlewingsbyeenkoms in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte te hou sodat die Moederstad se mense hulle sonde kan bely en tot inkeer kom. Hy beloof dit sal die grootste saamtrek van mense wees wat nog ooit in die geskiedenis van Kaapstad gehou is.

Verlede jaar het hy ’n biddag in Bloemfontein gehou waar hy ook gebid het vir reën, rasseharmonie en dat die geweld in die land moet ophou. Hy beweer meer as ’n miljoen mense het die byeenkoms bygewoon, maar die meeste bronne hou vol daar was heelwat minder as ’n halfmiljoen mense. Kort na sy biddag in Bloemfontein het daar groot rassegeweld in Coligny uitgebreek en die land se politiek het verskeie laagtepunte bereik.

Vandeesweek het hy op Facebook gespog dat die positiewe veranderings in die land se politiek en die sterker rand aan verlede jaar se gebedsaksie toegeskryf kan word.

Voordat daar fisiese reën in die drooggeteisterde Wes-Kaap val, moet daar volgens Buchan eers geestelike reën val. Volgens die weerburo kan daar egter reeds hierdie naweek reën in die Kaap uitsak. Die Suid-Afrikaanse Weerburo voorspel dat daar teen Vrydagaand reeds 15 mm reën in die droogtegeteisterde provinsie kan val en dat dit waarskynlik tot Saterdag sal voortduur.

Tydens ’n nuuskonferensie vroeër die week in Kaapstad het Buchan gesê “die gruwels van die Wes-Kaap en Kaapstad” sal tydens volgende maand se gebedsbyeenkoms gepak word. Hy het beloof dit sál weer reën, want “God is die reënmaker.”

Op sosiale media was daar uiteenlopende reaksies op Buchan se profesieë. Sy aanhangers is vol lof vir hom en glo sy saamtrek gaan ’n groot verskil in Kapenaars se lewe maak.

Sarel Corrie, ’n leraar van die NG Kerk in Afrika, skryf egter op Facebook dat sonde in die Wes-Kaap beslis nie erger of meer as in die res van die land en die res van die wêreld is nie. “As ek die oom se verstaan konsekwent moet toepas, dan mag dit byna nooit reën in Indonesië nie (die land met die grootste getal Moslems in die wêreld!). Indonesië (vir dié wat nie weet nie) is op die ewenaar en dit kan tot drie maande aaneen reën. Mense se sonde bepaal nie waar dit reën of nie reën nie.” 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top