Buitelandse plakkers wil Kaapstad nie los

  • 0

..........

“Selfs Kapenaars het die Groentemarkplein die afgelope week vermy, aangesien dit onveilig geword het om daar te wees.”

..........

Die onwettige immigrante in Kaapstad wat die Groentemarkplein onwettig beset en deur die hof gelas is om die gebied te verlaat, het na ander oop ruimtes in die stad uitgewyk.

Die historiese Groentemarkplein, wat een van Kaapstad se grootste toeriste-aantreklikhede is, het byna oornag in ’n hool vol urine en rioolvuil verander as gevolg van die onwettige plakkers wat hulle daar gevestig het.

Selfs Kapenaars het die stinkende Groentemarkplein die afgelope week vermy, aangesien dit onveilig geword het om daar te wees.

..........

“Inwoners van Kaapstad is verdeel oor die vlugtelinge se lot. ‘Waarom is daar nie voorsiening gemaak vir verblyf vir hierdie mense nie? Hulle is vlugtelinge wat nou hier is, en met menslikheid hanteer moet word’.”

..........

Die Metroraad se hande was aanvanklik afgekap toe die hof verlede jaar nie ’n dringende interdik wou toestaan om die vlugtelinge te verwyder nie.

’n Hofbevel wat verlede maand uitgereik is, het egter aan die stad toestemming gegee om sy munisipale wetgewing in die Groentemarkplein-gebied toe te pas. Stad Kaapstad het Sondag die taak om die onwettige vlugtelinge van Groentemarkplein langs die Metodistekerk te verwyder afgehandel.

Die “vlugtelinge” het egter besluit om eenvoudig ander persele in die Moederstad onwettig te beset.

’n Groot groep van hulle het oornag op ’n oop terrein rondom die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) gaan plak. Die stad se wetstoepassers het Dinsdag begin om hulle ook van daardie terrein te verwyder.

..........

“Baie ander Kapenaars is egter nie so simpatiekgesind nie. ‘Hulle mislei jou ook, kyk na hulle kleredrag en die baniere wat hulle rondswaai. Dis nie mense wat niks het en uit hulle eie lande ‘gevlug’ het nie. Dis waarskynlik veiliger in hul lande van herkoms as in SA’.”

..........

Inwoners van Kaapstad is verdeel oor die vlugtelinge se lot. “Waarom is daar nie voorsiening gemaak vir verblyf vir hierdie mense nie? Hulle is vlugtelinge wat nou hier is, en met menslikheid hanteer moet word. Hulle kan nie net iewers op ’n stuk grond afgegooi word sonder enigiets nie! Daar moet tog ’n sekere protokol wees wat gevolg moet word? Daar is vroue en kinders by betrokke. Skandalige situasie. Wat gaan die regering daaromtrent doen? Of speel hulle dalk volstruis?” het een van die stad se inwoners sy mening op sosiale media verwoord.

Baie ander Kapenaars is egter nie so simpatiekgesind nie. “Hulle mislei jou ook, kyk na hulle kleredrag en die baniere wat hulle rondswaai. Dis nie mense wat niks het en uit hulle eie lande ‘gevlug’ het nie. Dis waarskynlik veiliger in hul lande van herkoms as in SA. Hulle is hier ‘geplant’ vir ’n sekere politieke doel,” is iemand anders se mening.

Nog iemand sê niemand het gevra hulle moet hierheen vlug nie. “Hulle moet nie hulle probleem ons s’n maak nie. Ons het genoeg van ons eie. Vat hulle Vrystaat, Limpopo of Mpumalanga toe. Al hulle tjomme wat hul graag in ons land wil hê bly daar, nie hier by ons nie,” was nog een van die menings.

Die buitelanders wat ook probeer het om die terrein by die St Mary’s-kerk naby die parlement te beset het opnuut ’n beroep gedoen op die Verenigde Nasies se Hoë Kommissariaat vir Vlugtelinge om hulle na ander lande te repatrieer.

Die St Mary’s Katolieke Kerk het Maandag ’n klag van betreding teen die plakkers ingedien nadat ’n groep van diegene wat by die Groentemarkplein verwilder is, hulle daarheen gewend het. Van hulle sê hulle verkies om gearresteer te word as om pad te gee, want dan het hulle ten minste ’n dak oor hulle kop.

“Ons kan nie teruggaan na ons eie lande nie,” het van die vlugtelinge gesê. “Ons is daar weg omdat dit nie veilig is nie, en nou moet ons hier ook padgee omdat dit nie veilig is nie.” Al die pogings om die groep elders te vestig was tot dusver onsuksesvol gewees.

Hulle dring aan dat Stad Kaapstad hulle van tydelike verblyf moet voorsien totdat daar ’n meer permanente oplossing gevind word of na ’n ander land van hulle keuse gerepatrieer kan word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top