Burgerlike organisasies eis hernubare energie om kragkrisis te verlig

  • 0

Bron: https://pixabay.com/photos/light-bulbs-ideas-inspiration-1875384/

’n Groeiende lys van Suid-Afrikaanse burgerlike organisasies wat bekommerd is oor die land se energiekrisis, doen ’n beroep op die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, om onmiddellik toe te laat dat nuwe hernubare energie geskep en aan die kragnetwerk gekoppel word.

Hulle sê in ’n ope brief aan die minister dit is ’n poging om die verergerende energiekrisis te verlig.

In die brief haal hulle artikel 34 van die Wet op Energieregulering aan wat daarvoor voorsiening maak dat die minister van energie ’n bepaling onderteken voordat enige groot nuwe opwekkingsvermoë (meer as 100 MW) gebou kan word.

Altesaam 16 organisasies het die brief onderteken. Volgens die ondertekenaars is daar ook bykomende ondersteuners wat die oproep onderskryf het nadat dit aan die minister gestuur is.

...........
In die brief haal hulle artikel 34 van die Wet op Energieregulering aan wat daarvoor voorsiening maak dat die minister van energie ’n bepaling onderteken voordat enige groot nuwe opwekkingsvermoë (meer as 100 MW) gebou kan word.
Altesaam 16 organisasies het die brief onderteken. Volgens die ondertekenaars is daar ook bykomende ondersteuners wat die oproep onderskryf het nadat dit aan die minister gestuur is.
............

Die Organisasie Teen Belastingmisbruik (OUTA) sê op hulle webwerf met Suid-Afrika wat die afgelope tyd fase 6-beurtkrag ervaar het (sy ergste kragonderbrekings sedert 2019) en die ekonomie wat tussen R20 miljoen en R100 miljoen per uur per fase verloor, was die toevoeging van nuwe elektrisiteitskapasiteit tot die netwerk nog nooit so dringend nie.

In die brief gee die organisasies minister Mantashe tot Sondag 17 Julie om dié bepaling uit te reik. Indien dit nie nagekom word nie, sal president Ramaphosa versoek word om die minister opdrag te gee om dit onmiddellik te doen, soos nodig was om die perk vir maatskappye om hul eie elektrisiteit sonder ’n lisensie te produseer van 1 MW tot 100 MW op te hef.

Peter Becker, ’n woordvoerder van die Koeberg Alert Alliance wat een van die ondertekenaars is, sê dat die elektrisiteitskrisis en beurtkrag steeds menslike lyding veroorsaak en die ekonomie miljarde rand kos.

“Hernubare energie en berging het getoon dat dit baie vinniger gebou kan word as ander vorme van opwekking. As minister Mantashe met dringendheid optree en die beste belang van Suid-Afrikaners op die hart dra, moet hy alles in sy vermoë doen om so vinnig moontlik meer elektrisiteit by die netwerk te voeg. Daar is ’n dringende behoefte dat hy bepalings onderteken vir grootskaalse windkrag-, sonkrag- en bergingskapasiteit,” het hy gesê.

Nog ’n ondertekenaar, Thando Lukuko van die South African Climate Action Network (SACAN), het gesê: "Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening is in ’n ernstige nood. Ons het dringend ’n nuwe regime nodig om ons huidige energievraag aan te vul.”

Hy sê die Geïntegreerde Hulpbronplan (IRP) van 2019 bied ’n geleentheid om vinnig tot aksie oor te gaan om die huidige toestande wat deur alle burgers van Suid-Afrika ervaar word, te verbeter. “Ons doen ’n ernstige beroep op minister Mantashe om die 13 GW van hernubare energie en berging te ontsluit soos goedgekeur deur die kabinet in die 2019-IRP. Dringende optrede is nou ’n noodsaaklikheid, meer as ooit.”

Die IRP van 2019 is ’n padkaart vir die toekoms van Suid-Afrika se opwekkingskapasiteit. Dit sit die tydlyne uiteen vir die afskaling van steenkoolkragstasies en die toevoeging van 44 GW se nuwe kapasiteit, insluitend 18 GW windkrag en 8 GW sonkrag.

Dit sluit planne in om hernubare-energie-aanlegte te bou wat teen 2030 20 400 MW elektrisiteit en 2 088 MW berging kan voorsien.

..........
Dit sluit planne in om hernubare-energie-aanlegte te bou wat teen 2030 20 400 MW elektrisiteit en 2 088 MW berging kan voorsien.
...........

Tans is bepalings uitgereik vir slegs 6 800 MW se hernubare energie en 513 MW se berging. Dit laat 13 600 MW se hernubare energie en 1 575 MW se berging oor waarvoor bepalings nog uitgereik moet word.

Die brief meld dat die uitreiking van bepalings nie die rooster hoef te volg soos uiteengesit in IRP 2019 in gevalle van dringendheid wat verband hou met energiesekerheid nie.

Volgens Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, moet Suid-Afrika 50 000 MW se bykomende opwekkingskapasiteit oor die volgende 13 jaar by die nasionale transmissienetwerk voeg om die energievoorsieningsgaping te dek en uittredende steenkoolstasies te vervang.

Die brief kan hier gelees word.

 

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top