Twee burgerlike organisasies wat onlangs tot stand gekom het, StandupSA en die jeuggedrewe Enough is Enough, het gister (Maandag)) ’n optog na die Uniegebou in Pretoria gelei waarin hulle president Cyril Ramaphosa se bedanking geëis het.
Die optog het ’n memorandum van eise by die Uniegebou oorhandig, met die sentrale eis dat Ramaphosa moet bedank weens beweerde mislukkings in die bekamping van korrupsie, werkloosheid, swak dienslewering en swak leierskap.
Die optog vorm deel van Suid-Afrikaners se toenemende frustrasies rondom die ANC-regering se onvermoë om sosio-ekonomiese beloftes na te kom. Hulle beskryf hulself as ’n beweging wat “nie uit woede nie, maar uit liefde vir ons land” optree, geïnspireer deur die anti-apartheidstryd se vreedsame verset.
StandUpSA and Enough Is Enough to march for Ramaphosa’s resignation on Monday
Civic movement StandUpSA, in partnership with the youth-led organisation Enough Is Enough, will lead a “Ramaphosa Must Go” march in Pretoria tomorrow, Monday, calling for President Cyril Ramaphosa to… pic.twitter.com/xcLC7mJTqK
— MDN NEWS (@MDNnewss) October 19, 2025
Enough is Enough, wat in September vanjaar na vore getree het, is ’n jeuggedrewe inisiatief met ’n fokus op werkloosheid (veral onder die jeug, waar die syfer byna 60% is), gendergebaseerde geweld, korrupsie en ekonomiese swaarkry.
Die betogers se griewe sentreer op Ramaphosa se leierskap, wat volgens die organiseerders “afsydig is van die werklikhede van die mense”. Hulle wys op aanhoudende kragkrisisse, swak dienslewering in munisipaliteite, hoë werkloosheid en korrupsie as bewyse van mislukte beleid.
Die organisasies sê dat hulle “genoeg gehad het van swaarkry, korrupsie en swak leierskap”. Enough is Enough het bykomende eise bygevoeg, soos ’n verbod op politici ouer as 65 jaar en nasionalisering van sleutelsektore, wat die beweging se radikale jeugagenda onderstreep.
StandupSA, wat in 2023 ontstaan het, is ’n voetsoolbeweging wat momentum gekry het deur middel van sosialemediaplatforms soos X.
⚠️🚨: Herewith the list of demands compiled by South Africans. These will be read out to the office of the Presidency, tomorrow, 20 October 2025, in Pretoria. The day is a few hours away. Let's go make history! #RamaphosaMustGo #StandUpSA 🇿🇦 pic.twitter.com/jlq1HgdnJt
— #StandUpSA🇿🇦 (@StandUpSA_1) October 19, 2025
Van die plakkate het slagspreuke gehad soos: “South Africa, Rise Up!” en “#RamaphosaMustGo”. By die Uniegebou is die memorandum oorhandig wat spesifieke hervormings eis, insluitend:
- die verwydering van die Departement van Staatsveiligheid uit die presidensie om onafhanklik te funksioneer
- prioritisering van die indiensneming van vaardige Suid-Afrikaners in staatsdepartemente en -instellings, en laer kwotas vir buitelandse werknemers in die private sektor.
- ’n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid na korrupsie in behuisingsprojekte en die toewysing van huise aan dakloses.
- versterking van die nasionale weermag se kapasiteit om die land se grense te beveilig
- strenger antikorrupsiemaatreëls en jeugbemagtigingsprogramme.
A group of protesters from #StandulUpSA and Enough is Enough braved the cold and rainy weather on Monday, marching to the Union Buildings, where they demanded President Cyril Ramaphosa to step down.#news #CyrilRamaphosa #resignation #demands #EnoughIsEnough #protesters
Read on… pic.twitter.com/puo721U7Nk— IOL News (@IOL) October 20, 2025
Hierdie betoging is ’n duidelike teken van groeiende ontevredenheid onder burgers, veral die jeug, wat voel dat die ANC se beloftes van ’n “beter lewe vir almal” nie verwesenlik is nie. Die spesifieke eise, soos die onafhanklikheid van staatsveiligheidinstansies en ondersoeke na behuisingskorrupsie, plaas direkte druk op Ramaphosa se administrasie om sistemiese kwessies aan te spreek.
Vir Ramaphosa, wat reeds onder druk is weens strydende ANC-faksies intern en openbare kritiek oor korrupsieskandale, is sulke optogte ’n verdere simboliese hou in die maag. Hoewel dit hoogs onwaarskynlik is dat hy as gevolg daarvan sal bedank, kan dit die regering dwing om dringende kwessies soos werkloosheid, dienslewering en grensbeheer met meer erns aan te spreek.
Die samewerking tussen StandupSA en Enough is Enough dui op ’n nuwe golf van burgerlike alliansies wat die potensiaal het om toekomstige nasionale protes te inspireer, soortgelyk aan #FeesMustFall in 2015. Die eis vir Ramaphosa se bedanking kan ook politieke spanning binne die ANC vererger, veral met die 2026 plaaslike verkiesings wat nader kom.
As die beweging momentum behou, kan dit opposisiepartye aanmoedig om hul kritiek te verskerp. Kritici waarsku egter dat die beweging se radikale eise, soos laer kwotas vir buitelandse werknemers, spanning met gemeenskappe kan veroorsaak en die protes se inklusiwiteit kan ondermyn.
Die sukses van Maandag se optog sal daarvan afhang tot watter mate hulle daarin kan slaag om hul digitale momentum in volgehoue aksie te omskep. Hulle gebruik van X, WhatsApp en petisies toon ’n moderne benadering tot mobilisering, maar daar is baie ander uitdagings wat hulle sal moet te bowe kom om volhoubaar protes aan te teken.
Indien die regering nie reageer nie, kan verdere soortgelyke protesaksies ontstaan, moontlik met breër samewerking. Hierdie betoging onderstreep Suid-Afrika se lewendige tradisie van burgerlike verset en die jeug se groeiende rol in die vorming van die land se toekoms.
