Die burgerlike samelewing het Woensdag as oorwinnaars uit die stryd getree in die hantering van die energiekrisis en die beëindiging van die nasionale ramptoestand oor energie.
Die ramptoestand wat Cyril Ramaphosa in Februarie tydens sy staatsrede aangekondig het, sou deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en Solidariteit in die hof betwis word. Die regering het Woensdag die aftog geblaas en die handdoek ingegooi nog voordat die saak in die hof kon draai.
Die staatsprokureur het Woensdag in regsbriewe aan Outa en Solidariteit bekendgemaak dat die ramptoestand teruggetrek word. Hy het ook versoek dat hulle die hofaansoeke om die ramptoestand te skrap, terugtrek.
Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Thembi Nkadimeng, het kort daarna aangekondig dat die nasionale ramptoestand wat op 9 Februarie afgekondig is, met onmiddellike ingang beëindig is.
“Dit is ’n groot oorwinning vir die burgerlike samelewing. Ons is verheug. Die burgerlike samelewing het gewys dat ons ’n stem het, en ons stemme maak saak,” sê Stefanie Fick, Outa se uitvoerende direkteur, in ’n verklaring.
Outa sê die regering se besluit om die nasionale ramptoestand te herroep ná Outa se regstappe wys weer die mag van burgers wat saamstaan teen irrasionele besluite.
Govt's decision today to revoke the #StateOfDisaster following #OUTA's legal action again shows the power of citizens standing together against irrational decisions. Please donate to us. Any amount welcome, donations are #taxdeductible. Join here: https://t.co/QdK5p1Vo9s pic.twitter.com/cecyH77G7t
— OUTA (@OUTASA) April 5, 2023
Solidariteit het in hulle reaksie gesê die onttrekking van die ramptoestand minder as twee maande nadat dit ingestel is, dui daarop dat Solidariteit van die begin af reg was om aan te voer dat die ramptoestand bloot politieke teater is.
Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê in ’n verklaring al die instrumente wat benodig word om die kragkrisis op te los, is al vir jare in die regering se hande. Die regering se onbevoegdheid of onwilligheid om dit te gebruik is volgens hom die groter ramp.
MEDIAVERKLARING
“Die regering moet homself nou bloot daarop toespits om alle belemmerende regulasies te skrap sodat enigiemand wat elektrisiteit wil opwek en verkoop, dit maklik kan doen” @SolidariDirk @maroelamedia @Netwerk24 @Klankkoerant @zarsg @eNuus https://t.co/7YxtFmeryQ— Solidariteit (@solidariteit) April 5, 2023
Ramaphosa het tydens die afkondiging van die ramptoestand gesê dit sou die regering in staat stel om praktiese maatreëls te voorsien wat nodig is om besighede in voedselproduksie, berging en kleinhandelverskaffingsketting te ondersteun en help met die ontplooiing van kragopwekkers, sonpanele en ononderbroke kragtoevoer.
Solidariteit sê die jongste mislukte pogings deur die regering om dié krisis weer oppermagtig en alleen te probeer oplos, is die doodskoot vir die idee dat die regering alleen Suid-Afrika se krisisse kan oplos.
“Die oplossing lê in afwenteling van mag. Die energie-oplossing lê in grootskaalse kleinskaalopwekking. Dit lê op miljoene dakke eerder as in enkele Uniegebou-gange,” sê Hermann.
Nkadimeng voer aan dat die aanstelling van Kgosientso Ramokgopa as minister van elektrisiteit ’n bydraende faktor was waarom die ramptoestand beëindig kon word. Sy sê die regering sal deur middel van die energiekrisiskomitee voortgaan met pogings om beurtkrag te beperk deur die gebruik van bestaande wetgewing en gebeurlikheidsplanne. Dit sluit maatreëls in wat reeds ingestel is om kritieke infrastruktuur te beskerm en noodkragopwekking te fasiliteer.
Intussen het die minister van finansies, Enoch Godongwana, Woensdag ook die besluit om Eskom vry te stel van sekere bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur terug te trek. Ingevolge die vrystelling sou dit vir ’n bepaalde tydperk nie van Eskom vereis word om onreëlmatige en verkwistende uitgawes in sy finansiële state aan te dui nie.
Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa, sê albei hierdie besluite is groot oorwinnings vir die burgerlike samelewing.
“Die regering het vandag (Woensdag) teruggegaan op twee groot besluite wat diegene wat deursigtigheid en goeie bestuur wil hê, woedend gemaak het. Dit is ’n welkome aanduiding dat die regering uiteindelik die publiek erken en na die publiek luister,” het Duvenage gesê.
Hy het gesê beide die verklaring van die ramptoestand en die Eskom-vrystellingsbesluite was slegte besluite. “Ons glo dat die regering nie sy planne deurdink het nie; ons glo dat die regering van die heup af geskiet het en moontlik sleg ingelig was oor sommige van hierdie besluite.”