’n Facebook-plasing die afgelope week deur ’n (swart) redakteur van ’n plaaslike Sondagblad was, na alle waarskynlikheid, ’n reaksie op die wyse waarop die dood van Mangosuthu Buthelezi ou wonde oopgekrap het. Dit is rou wonde - ongeneeslike wonde vir sommige - oor die swart teen swart politieke geweld van die tagtiger- en negentigerjare.
Buthelezi, stigtersleier van die IVP en een van Suid-Afrika se bekendste politici, was geliefd onder groot getalle Zoeloes én ander Suid-Afrikaners; sluit daarby in Afrikaners, Engelssprekende wit mense en Indiërs. Maar hy is ook deur baie gehaat oor hy ingekoop het in apartheid se staatkundige oëverblindery van sogenaamde onafhanklike of selfregerende swart “state”.
Die beloning was dat dié Zoeloe-prins en tradisionele eerste minister van die Zoeloe-volk in 1976 as hoofminister van KwaZulu ingesweer is en homself in dié rol ingeburger het tot die aanvang van demokrasie in 1994. Maar ten spyte daarvan dat hy vir twee dekades die swier en byvoordele van ’n kamtige “staatshoof” geniet het, stel sy biografie op die Parlement van Suid-Afrika se webwerf dié rol as ’n beginselvaste daad van teenstand voor: “[Buthelezi] refused nominal independence for KwaZulu from the apartheid Government, thereby derailing the grand scheme of apartheid to balkanise South Africa.”
En op die koop toe sommer dié stuk historiese aanspraak ook: “[He] persuaded President FW de Klerk to release Nelson Mandela and other political prisoners, and to allow exiles to return, in order to begin negotiations towards democracy.” Die enigste moeilikheid wanneer jy vir jouself hierdie soort invloed opeis, is dat dit gemeet sal word daaraan of die ander rolspeler(s) jou ook in die openbaar daarvoor erkenning gee. Indien De Klerk in gebreke gebly het om dit te doen, in soverre die Buthelezi-selfverheerliking akkuraat was, het die EFF se Mbuyiseni Ndlozi vergoed daarvoor deur Buthelezi die afgelope week ’n “vredemaker” te noem.
Ander beskuldig Ndlozi nou daarvan dat hy “revisionisme” ingespan het ter wille van ’n beoogde koalisie tussen die EFF en die IVP om met volgende jaar se verkiesing die beheer van KwaZulu-Natal uit die ANC se hande te neem.
Wat my bring by die Facebook-plasing deur die swart redakteur van ’n Sondagblad, waarnaas ’n foto van ’n groep jong, swart mans met ’n doodskis op hul skouers. In die plasing skryf die redakteur dat indien jy ’n (swart) tiener of in jou twintigerjare was in die 1980’s en in een van die swart townships in die voormalige Transvaal, Natal, Oranje-Vrystaat en die Kaap woonagtig was, was dit (wat jy op die foto sien) waarskynlik jou werklikheid oor naweke.
Dit is onmiddellik deur ander geïnterpreteer as ’n verwysing na die politieke geweld wat gedurende daardie tydperk tussen ondersteuners van die ANC en die IVP geheers het. Bloedige swart teen swart geweld wat honderde lewens gekos het, aangevuur deur die apartheidstaat se ondersteuning vir Buthelezi.
Maar die treffendste kommentaar was dié deur ’n ander joernalis wat geskryf het dat wanneer hy vandag na die land kyk en dink aan al die jong mense wat (weens die politieke geweld gedurende die struggle) begrawe is en ander wat met fisieke of sielkundige littekens saamlewe, vra hy hom af of die opoffering die moeite werd was. “Ek is jammer om te sê,” beantwoord hy dan, pynlik eerlik, sy eie vraag, “maar ek is bly dat ek nie gesterf het vir wat ons vandag het nie.”
Wat ons vandag het, is onder meer: Onbeheerste geweldsmisdaad en ’n polisieminister, Bheki Cele, wat met ’n groot swart hoed en loeiende sirenes op die toneel opdaag om leë beloftes te maak van oortreders wat vasgetrek sal word. Beurtkrag wat nou onbepaald op fase 6 vasgestel is, maar waarvan politieke hoëkoppe in hul gesubsidieerde staatswonings vrygestel word. Werkloosheid – veral onder die jeug – wat tussen 30% en 40% vassteek, en daarmee gepaardgaande sowat ’n derde van die land se bevolking wat van maatskaplike toelae afhanklik is, terwyl honderdduisende van hulle hierdie week weer met leë hande by betaalpunte moes terugdraai weens die onbeholpenheid van diensverskaffers.
Dit was ’n spektakel om te hoor hoe omgekrap LP’s is oor dié skande en die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het ’n onoortuigende verskoning aan begunstigdes aangebied. Maar wat hier gebeur, is geen uitsondering nie: Talle ander diensverskaffers, wat ingevolge die regering se swartbemagtigingsbeleid aangestel word, laat heel dikwels werk onafgehandel of verdwyn met die geld. Studente sukkel om hul studiehulp by die nasionale studentefinansiering-bystandskema te kry. Behuisingsprojekte word halfklaar voltooi of toon krake nog voordat die nuwe huiseienaars hul voordeursleutels ontvang het. En-zo-voort.
Maar die ANC en sy leier, president Cyril Ramaphosa, vra nou reeds vir kiesers om die goeie uit die party se prestasierekord van die afgelope 30 jaar voorop te stel: Meer mense het nou lopende water (selfs al sukkel talle dorpe met hul watersuiweringsaanlegte weens die nie-instandhouding daarvan) en miljoene meer het nou toegang tot elektrisiteit (wanneer daar nie beurtkrag geskeduleer is nie en die tariewe nie onbekostigbaar is nie).
Die fokus van kiesers – en selfs die mees lojale ondersteuners van die ANC – is egter deesdae nie slegs op die “fisieke en sielkundige littekens” van die verlede ingestel nie, maar ook op die nuut toegediende wonde van wat deur Ramaphosa belowe is as ’n nuwe daeraad. Dit het egter in ’n groot verraad ontaard. Nou ly Suid-Afrikaners ook onder die “littekens” van (onbeëindigde) staatskaping, korrupsie en selfverryking wat gepleeg word deur diegene wat danksy hul “kaderskap” gunste en gawes uit die ANC se politieke hand ontvang. Selfs die veronderstelde troonopvolger van Ramaphosa, adjunk-president Paul Mashatile, is in die spervuur oor sy bande met twyfelagtige tenderpreneurs. Maar dan is dit ook so dat Ramaphosa se eie geldsake of (dalk regverdiger gestel?) sakebeginsels onder verdenking is na aanleiding van sy selferkende verkope van wild op sy Phala Phala-plaas, wat volgens die Reserwebank toe nooit ’n afgehandelde transaksie was nie.
Die beloofde beter lewe vir Suid-Afrikaners is eweneens ’n “onafgehandelde transaksie”. Die onus rus op Buthelezi se party en ander opposisiepartye om dit reg te stel deur die ANC se wanbestuur tot ’n einde te bring – en dit sal Buthelezi se politieke beeld, geregverdig, laat blink.