’n Buurtwag in Stellenbosch het met ’n hommeltuig daarin geslag om twee tikgebruikers en ’n dwelmhandelaar vas te trek nadat dié buurtwag se hommeltuig die verdagtes vroeër die maand bespeur het.
Metamfetamien, of “tik” soos dit meer algemeen in Suid-Afrika bekend staan, is al vir ’n aantal jare een van die mees misbruikte middels in die Wes-Kaap.
Die 2023 World Drug Report van die Verenigde Nasies se Kantoor oor Dwelms en Misdaad het onlangs aan die lig gebring dat metamfetamienhandel aan die toeneem is in Afrika. Suid-Afrika word geïdentifiseer as een van die streke met die grootste gemiddelde hoeveelheid metamfetamien waarop beslag gelê is, naas Mosambiek en Nigerië.
Die verslag, wat verlede jaar vrygestel is, sê dwelmgebruik het wêreldwyd toegeneem, met 296 miljoen mense wat dwelms gebruik het in 2021. Dit kom neer op een uit elke 17 mense – ’n 23%-toename in wêreldwye dwelmgebruik oor die afgelope dekade.
Die AfriForum-buurtwag in Stellenbosch het die dwelmsmouse vroeër die maand tussen 22:00 en 04:00 in die Franschhoek- en Simondium-gemeenskappe tydens ’n operasie in samewerking met die Franschhoek- en Groot Drakenstein-polisiekantore vasgetrek.
???????????????? ???????????????????????????????????????????????????? ???????? ’???? ????????????????????????????????????????????????????????
Stellenbosch-buurtwag help om tikgebruikers en dwelmhandelaar vas te trek https://t.co/JyaMeNivVh pic.twitter.com/TCFdKeAnvM
— AfriForum (@afriforum) February 19, 2024
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se doelwit met hierdie operasie was om misdadigers vas te trek in gebiede waar dwelmhandel en kabeldiefstal hoogty vier.
Die Stellenbosch-buurtwag se hommeltuigspan, bestaande uit vier lede in dié buurtwag se lugvleuel, het sowat 300 m vanaf elke teikenarea stelling ingeneem en die hommeltuig opgestuur vir ’n verkenningsvlug. Nadat die area rondom die teikenarea met die hommeltuig se nagsigkamera verken is, het die SAPD inbeweeg. Tydens die SAPD se patrollie het die hommeltuig in die lug gebly om enige verdagtes te volg en die polisie op hulle spoor te hou.
Beslagleggings op die dwelm is die afgelope dekade deur 26 lande in Afrika aangemeld. Volgens die World Drug Report was die grootste hoeveelhede metamfetamien waarop daar oor die afgelope dekade in die streek beslag gelê is, in in Mosambiek en Suid-Afrika, gevolg deur Nigerië.
AfriForum sê in ’n verklaring die oordrag van inligting tussen die hommeltuigspan en die SAPD was baie effektief as gevolg van die nuwe boks wat onlangs vir die hommeltuig aangeskaf is.
Hierdie boks, wat soos ’n koffer lyk, is spesiaal gebou om die hommeltuigspan se operasionele doeltreffendheid en uithouvermoë te verbeter. Die boks is deur AfriForum se Stellenbosch-tak gefinansier en deur lede van die buurtwag ontwerp en gebou.
Die boks beskik oor al die nodige toerusting om die hommeltuig vir minstens agt ure in die lug te hou. Die boks het voldoende interne ruimte om die hommeltuig, batterye, radio’s, nagsigteleskoop en ander toerusting te stoor. Die boks het ook ’n groot litiumbattery met laaipoorte om die hommeltuig en radio’s se batterye te laai. ’n Groot platskermtelevisie is aan een kant binne die boks gemonteer waarop die hommeltuig se perspektief direk uitgebeeld word. Dit was voorheen moeilik om die taktiese situasie aan die polisie te wys, maar nou kan hulle maklik sien wat die hommeltuig sien.
Die Stellenbosch-buurtwag sê hulle was baie tevrede met die eerste operasionele ontplooiing van hierdie hommeltuigboks. Die boks het dit moontlik gemaak om die misdadigers se bewegings te beperk deur die hommeltuig langer in die lug te hou.
Die platskermtelevisie het ook kommunikasie en samewerking met die SAPD verbeter. Ontplooiing en demobilisasie van die hommeltuig by elke teikenarea is ook versnel te danke aan die boks. Buiten die arrestasies wat gemaak is, is die SAPD en die buurtwag se teenwoordigheid in areas wat deur kabeldiefstal geteister word, ook versterk.
AfriForum se Stellenbosch-buurtwag sê hulle verhouding met die SAPD en ander wetstoepassers in die gemeenskap is ’n prioriteit. “Daar is ’n groeiende behoefte vir lugverkenning wanneer die SAPD operasies in die gemeenskap uitvoer. Stellenbosch-buurtwag se ondersteuning met die hommeltuig verskerp die SAPD se doeltreffendheid. Die buurtwag se professionele optrede het ook verseker dat hy genader word om betrokke te raak by toekomstige plaaslike SAPD-operasies,” het AfriForum in hulle verklaring gesê.
- Vir meer inligting oor dwelmverwante middelmisbruikdienste, skakel die tolvrye nommer 0800 220 250 of besoek die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se naaste plaaslike kantoor in die Wes-Kaap, of besoek https://www.westerncape.gov.za/dept/social-development/services/956.