A family
Europese Filmfees
Nederland / België
Regisseur: Mees Peijnenburg
Skrywers: Bastiaan Kroeger, Mees Peijnenburg
Met: Celeste Holsheimer, Finn Vogels, Carice van Houten, Pieter Embrechts
Genre: Drama
Duur: 1h 27min (87 min)
Taal: Nederlands, met Engelse subtitels
Jaar: 2026
Ek het Mees Peijnenburg se film A family as deel van die Europese Filmfees gesien en kan dit aanbeveel vir die regte gehoor.
Iets meer oor die Europese Filmfees
Dit is weer tyd vir filmliefhebbers om die Europese Filmfees in Suid-Afrika te omarm. Van 17 tot 27 September word Suid-Afrikaners vergas op van die beste films wat Europa onlangs kon lewer. As jy nog nie hiervan weet nie, klik hier en vergewis jou van die fees, beter bekend onder die Engelse titel European Film Festival South Africa.
Diegene wat in of naby Kaapstad, Durban of Gauteng woon, kan hierdie films teen ’n nominale koste op die grootskerm beleef. Vir dié van ons wat ver woon, is daar vier films wat gestroom word. Klik net op die hofie “Streaming”.
Ek het aan die organiseerders genoem hoeveel ek, en talle ander, wat baie ver van die uitgesoekte filmteaters woon, dit geniet om ook te kan deel hê aan hierdie besonderse fees. Kom ons hou duime vas!
Meer oor A family
A family is ’n Nederlandstalige film ten spyte van die Engelse titel.
In ’n sekere sin is dit ’n klein film, maar dis baie, baie goed gedoen.
Die titel is deels ironies, want ons ontmoet die gesin se twee kinders waar hulle voor ’n kinderadvokaat vertel van hul ouers se onvermoë om met mekaar uit te hou.
Die film split daarna in drie dele.
- Deel een volg die tienerdogter Nina (gespeel deur Celeste Holsheimer).
- Deel twee volg haar jonger boetie Eli (baie, baie knap vertolk deur Finn Vogels). Ons beleef talle van die tonele in deel een weer oor, maar dié keer vertel uit die perspektief van die jong boetie.
- Deel drie is dan ’n kort ontknoping wat nog eens op die twee kinders fokus.
Egskeidings tref diep
Ek sou A family nie as ’n maklike film bestempel nie, maar dit is ’n besonderse blik op die psige van vier mense wie se lewens uitmekaar geruk word wanneer ’n ouerpaar gewoon nie meer met mekaar kan saamleef nie.
Die lokteks van die Europese Filmfees lees:
Dutch director Mees Peijnenburg offers a quiet but powerful window on divorce in modern Europe told empathetically through the eyes of a brother and sister each trying to each find their own ways and hopefully a path together through the aftermath of the bitter war between their parents.
Hoe die kinders reageer (of nie): Nina
Nina, wat reeds ’n relatief onafhanklike tiener is, vind nog oomblikke van “normaliteit” in die arms van haar meisie Steffie (gespeel deur Livia Lammers).
Een aand wanneer sy en Steffie mekaar liefkoos, raak Nina ’n bietjie rof en Steffie ontsnap deur Nina van die bed af te stamp.
Vir Steffie is dit ’n oomblik wat moet verbygaan, maar vir Nina is dit ’n wrede kykie in haar eie psige. Gaan sy in haar verhoudings altyd dieselfde patrone beleef as haar ouers?
Hoe die kinders reageer (of nie): Eli
Eli is ’n stil seun. By die skool doen hy goed en het maats.
By die huis praat hy bitter min en hy weet werklik nie wat om met sy ouers se bitter oorloë te doen nie.
Wanneer hy gevra word om kant te kies, doen hy dit nie.
Hy probeer, onskuldig soos hy is, nog hoop op ’n versoening.
Nina, die ousus, is sy steunpilaar. Maar Nina trek ook swaar en sukkel om ousus én surrogaatouer te speel.
Eli trek al hoe meer in sy dop in en sukkel om oor homself en oor sy behoeftes te praat. Hy word kleiner en stiller, tot hy die dag nie meer kan nie.
Die baie jong akteur Finn Vogels, wat Eli speel, het al ’n rits films agter sy naam. In A family skitter hy.
Carice van Houten as die ma
Soms het ’n mens ’n briljante akteur nodig om ’n baie klein rol te speel. Lobke de Boer, wat in beheer van die rolverdelings was, het die room gekies vir hierdie klein, stil film.
Carice van Houten is ’n baie groot naam. Ek is nie bekend met Game of thrones nie, maar diegene wat die reeks ken, sou haar klaarblyklik kon sien as Melisandra.
Ek het Van Houten al gesien as Ingrid Jonker in Black butterflies. Blikskottel. Sy kon die sexy, uitlokkende Ingrid laat stoom voor die swymelende mans, maar wanneer Ingrid ernstige, sielkundige probleme ontwikkel in Europa, was Van Houten eweneens reg met ’n diep traumatiese uitbeelding van Jonker se inploffing.
In Paul Verhoeven se Zwartboek (ook bekend onder die Engelse titel Black book) het Van Houten ook haar staal gewys as die Joodse meisie Rachel Stein wat haarself as Ellis de Vries vermom om die Nazi’s te infiltreer. Dit was ’n groot rol.
En nou speel Van Houten die baie klein rol van Maria, ’n onderduimse, manipulerende ma.
Natuurlik doen sy dit goed. Om te sê sy skitter, sou verkeerd wees. Maria se rol is veel meer soos ’n swartgat in die ruimte. Jy weet dis daar, want alles daarom heen word omvergewerp, maar eintlik kan jy nie die swartgat sien nie.
Van Houten vertolk hierdie onverstaanbare, negatiewe energie met onderspeelde, ingehoue kilheid.
Pieter Embrechts as Jacob
Wat doen ’n akteur wat eintlik niks moet doen nie? Jy doen dan seker niks op die beste moontlike manier.
“Doe niet so dom,” sê Nina by geleentheid aan haar pa. En dit is ’n goeie opsomming van ’n man wat sag probeer wees met sy kinders, hulle guns wil wen, maar dan totaal opvlieënd raak wanneer sy manipulerende vrou ’n rooi vlag voor sy neus waai – of wanneer hyself ’n rooi vlag skep, al was daar nie een nie.
’n Klein film wat diep tref
Mees Peijnenburg, die regisseur, se film doen min, maar doen dit goed.
Om die trauma van ’n egskeiding deur die oë van twee kinders te beleef, soos A family dit aanbied, is besonders.
Die film se wêreldpremière was op die Berlynse Internasionale Filmfees. Dit het ook reeds plekke gedraai op die Nieu-Seeland Internasionale Fees van 2026 en Biarritz-fees van 2026.
Dis ’n voorreg om A family ook in Suid-Afrika te kon sien as deel van die Europese Filmfees.
Lees ook:
Tiago Guedes’s Aquí is a masterclass in changing one art form into another

