Caster Semenya wend haar tot sokker ná atletiekklappe

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Olimpiese atletiekkampioen Caster Semenya se besluit om haar na die sokkerveld te wend beteken nie noodwendig sy is verlore vir atletiek nie.

Die tweemalige Olimpiese kampioen gaan egter volgende jaar haar atletiekskoene vir ’n sokkerbal verruil.

Foto van Caster Semenya: Erik van Leeuwen [GFDL], via Wikimedia Commons

Semenya het verlede week ’n kontrak met die plaaslike JVW-sokkerklub onderteken.

Haar besluit om op sokker te konsentreer, geskied te midde van ’n hofsaak in die Switserse Federale hooggeregshof waarin sy gewikkel is oor haar status as vroueatleet.

Bronne sê Semenya se skuif van atletiek na sokker dui moontlik daarop dat sy haar voorberei dat sy nie daarin gaan slaag om haar veelbesproke saak teen die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) te wen nie.

.........

“Eenmaal ’n kampioen altyd ’n kampioen. Ons wil jou namens die ANC-vroueliga ons volle ondersteuning gee.” ‒ Bathabile Dlamini, president van die ANC-vroueliga

.........

Volgens die IAAF se regulasies mag vroueatlete met onnatuurlike hoë testosteroonvlakke nie aan items tussen die 400m en myl deelneem sonder dat hulle medikasie gebruik wat hulle testosteroonvlakke verlaag nie.

Die besluit het wêreldwyd opslae gemaak en atletiekliefhebbers is diep verdeeld daaroor.

Sommige steun haar reg om sonder medikasie aan alle vroue-items deel te neem terwyl ander die IAAF steun omdat sy volgens hulle ’n onregmatige voordeel bo ander vroue geniet.

Sy het egter op Twitter gesê sy wil dit duidelik stel dat om ’n sokkerspeler te word, beteken nie dat sy nie langer ’n baan- en veldatleet is nie.

Vroeër het sy ’n foto op Twitter geplaas waar sy een van haar nuwe sokkerklub se truie vashou. Sy sê sy is bly om aan te kondig dat sy vir volgende jaar se seisoen deel sal wees van die JVW-sokkerklub.

“Ek sien uit na hierdie deel van die reis,” het sy getwiet. JVW beklee tans die tweede plek op die puntelys van die Gauteng-liga.

JVW wat deur die Banyana Banyana (die nasionale vrouespan) se kaptein Janine van Wyk besit word het in ’n verklaring bevestig dat Semenya ’n kontrak met haar klub onderteken het.

Verskeie van Caster se aanhangers het haar sterkte toegewens met haar nuwe sportloopbaan op die sokkerveld.

“Eenmaal ’n kampioen altyd ’n kampioen. Ons wil jou namens die ANC-vroueliga ons volle ondersteuning gee. Moet asseblief nooit opgee nie, ons is ten volle agter jou. Moet asseblief nie huiwer om jou stem te laat hoor as jy dink ons faal jou nie. Ons is lief vir jou,” lui die boodskap op haar Twitter-rekening van die president van die ANC se vroueliga, Bathabile Dlamini.

Volgens Netwerk24 kan Semenya reeds saam met die sokkerspan oefen maar eers volgende jaar vir hulle in die Sasol-vroueliga uitdraf nadat die oordragtydperk waartydens klubs nuwe spelers kan kontrakteer vir die reeks, reeds gesluit het.

’n Video van Semenya waar sy saam met die klub oefen, is ook op Twitter gedeel.

Een van die kommentators het sarkasties gevra sy wonder of die IAAF nou ook vroue-sokkerspelers gaan monitor om hulle testosteroonvlakke te toets.

Sommige meen sy gaan dit nie maak op die sokkerveld nie terwyl ander glo sy kan ’n groot verskil aan Suid-Afrika se vrouesokker maak.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top