Die minister van polisie, Bheki Cele, se emosionele uitbarsting tydens ’n vergadering oor gemeenskapsveiligheid in Kaapstad maak landwyd opslae.
Cele het Dinsdag tydens ’n vergadering oor gemeenskapsveiligheid in Gugulethu sy humeur verloor toe die leier van ’n burgerregte-organisasie hom skerp gekritiseer het.
Ian Cameron van Community Safety Action Society het hom Cele se toorn op die hals gehaal toe hy hom daarvan beskuldig dat hy sy ministeriële pligte versuim om plaaslike inwoners teen ernstige misdade te beskerm.
Cameron het Cele verder die harnas ingejaag toe hy hom nooi om sonder sy lyfwagte en deftige motor self op grondvlak te gaan kyk wat in die townships aangaan ten opsigte van misdaad en om die gebrek aan polisiëring eerstehands te aanskou.
Nadat Cameron sy kommer oor die hoë misdaad in Gugulethu uitgespreek het, het Cele hom aangesê om stil te bly en te gaan sit.
There was a tense exchange as Police Minister, Bheki Cele, met Gugulethu residents today. Action Society accused him of neglecting the Western Cape. The group wants policing devolved to the province. #DStv403 pic.twitter.com/TKwp2L6n2C
— eNCA (@eNCA) July 5, 2022
’n Woedende Cele het Cameron van rassisme beskuldig en beveel om die vergadering te verlaat toe Cameron by wyse van ’n tussenwerpsel beswaar maak omdat Cele die rassekaart speel. Die polisie het Cameron hardhandig uit die saal verwyder toe hy nie dadelik loop nie.
Video’s van Cameron se vrae aan Cele, die minister se reaksie sowel as die hardhandige manier waarop hy uit die saal verwyder is, het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde het Cameron geloof vir sy reguit kritiek op Cele en die minister se bedanking geëis.
So this is what raised Bheki Cele’s high blood pressure 🤣🤣🤣 pic.twitter.com/HC0jcG87mC
— Ankole Farmer (@ShadowRau) July 6, 2022
Action Society, waarvan Cameron direkteur van gemeenskapsveiligheid is, is ’n burgerregte-organisasie wat hom daarvoor beywer om ’n stem te gee aan die stemloses wat deur misdaad geteister word.
Cameron sê hulle was reeds in kontak met hul regspan en sal stappe teen Cele doen.
This the young white man of minister Bheki Cele's side of the story #BreakingNews pic.twitter.com/vLdJ2enlpb
— Follower (@FollowerRSA) July 5, 2022
“Ek en Action Society gaan vier klagte lê teen Bheki Cele en die lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat my ruggraatloos verwyder het van gister (Dinsdag) se gemeenskapsvergadering wat in Gugulethu gehou is,” het Cameron, in ’n verklaring gesê
PRESS RELEASE | Action Society takes legal action against Bheki Cele and @SAPoliceService after meltdown in Gugulethu.https://t.co/LUEAuoONKf
— Action Society (@ActionSocietySA) July 6, 2022
Action Society gaan ook ’n klag by die Openbare Beskermer indien. Hulle sê dit sal geskied ingevolge die Etiekwetsontwerp en gedragskode vir lede van die uitvoerende gesag vanweë Cele se “skandelike optrede, versuim om in goeie trou op te tree en omdat hy die geloofwaardigheid en integriteit van sy amp in gedrang gebring het”.
Tweedens sal Action Society ’n klag by die kantoor van die registrateur van ledebelange by die parlement indien vir Cele se beweerde oortredings van die parlement se gedragskode in sy hoedanigheid as lid van die wetgewer.
“Ons sal ’n derde klag by die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (Opod) indien om die wangedrag deur lede van die SAPD te ondersoek toe hulle my met geweld van die vergadering verwyder het en my onregmatig van my reg op vryheid en liggaamlike integriteit ontneem het,” het Cameron gesê. “Vierdens sal ek ’n strafregtelike klag indien teen Bheki Cele en die SAPD-lede wat my fisiek aangerand het.”
Action Society sê hulle sal voortgaan om te pleit en te veg vir die duisende Suid-Afrikaners wat slagoffers is van Cele se mislukkings as minister van polisie.
“Ons moedig eendersdenkende Suid-Afrikaners aan om ons petisie om Cele uit sy amp te verwyder by hierdie skakel te ondersteun.”
Meer as 50 000 mense het reeds die #CELEMUSTGO-petisie onderteken.
Action Society voer tien redes in die petisie aan waarom Cele uit sy pos verwyder moet word. Dit wissel van onbevoegdheid tot versuim om sy plig te doen.
Hulle sê dit is duidelik dat die SAPD ’n mislukte organisasie is en dat Cele moet uit. “Hy het versuim om die publiek te dien en om die mees kwesbares te help beskerm. Wys jou ondersteuning deur jou naam by die oproep te voeg,” lui die petisie.