Cele ontketen ’n storm met uitlatings oor plaasmoorde

  • 0

Die minister van polisie, Bheki Cele, het hom vasgeloop teen ’n golf van woedende kritiek uit die landbougemeenskap, burgerlike organisasies en politieke partye oor sy stelling dat plaasmoorde nie prioriteitsmisdade moet wees nie.

Dit volg nadat Cele Maandag tydens ’n imbizo in KwaZulu-Natal gesê het dat plaasmoorde nie as prioriteitsmisdade verklaar kan word nie, omdat dit bloot verwys na voorvalle van moord, verkragting, aanranding en roof met verswarende omstandighede wat op plase voorkom.

Organisasies en partye wat Cele se uitlatings skerp gekritiseer het, sluit onder andere in die Demokratiese Alliansie (DA), Vryheidsfront Plus (VF+), AfriForum, Suider-Afrika Agri Inisiatief (SAAI) en die Transvaalse Landbou Unie van Suid-Afrika (TLU SA).

Al hierdie partye en organisasies het Dinsdag sterk-bewoorde verklarings uitgereik waarin Cele se uitsprake ten sterkste veroordeel word.

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê in hulle verklaring die Minister se uitdruklike stelling dat plaasmoorde nie ’n prioriteit is nie, bevestig wat nog al die jare die werklikheid in Suid-Afrika is. Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê Cele se uitspraak is niks anders as diskriminasie teen boere nie, omdat dit klaarblyklik nie by die regerende party se politieke projek inpas om hom met die veiligheid van voedselprodusente te bemoei nie.

AfriForum het ’n aanlyn petisie vir die prioritisering van plaasmoorde van stapel gestuur. Elke keer wanneer iemand op dié petisie se “Stuur”-knoppie druk, word ’n e-pos direk na Cele se kantoor gestuur. Die publiek word aangemoedig om die petisie by www.stopdiemoorde.co.za te ondersteun.

Saai sê in hulle verklaring elke boer in Suid-Afrika – groot en klein, arm en ryk, swart en wit, en ongeag politieke affiliasie – wil weet: Hoe moet ons boer as kommunale beeste elke nag in ons lande ingejaag word en ons oeste vernietig? Hoe moet landbou gedy as daar geen respek vir eiendoms- of verblyfreg is nie? “Die tirade van Bheki Cele, minister van polisie, voor boere in Normandien – nadat die vraag baie beleefd aan hom gestel is – ontbloot die kern van die probleem en die ANC se rol daarin.”

Volgens Saai het die Minister ná sy “emosionele uitbarsting” nooit die vraag beantwoord nie. Hulle sê boere hoop dat elke opposisieparty in die parlement dié vraag sal bly vra.

Die leier van die VF+, Pieter Groenewald, sê in sy verklaring Cele se uitlatings dat boere nie moet kla as hulle seerkry nie, is niks anders as subtiele aanhitsing tot geweld teen boere nie. “Dit is duidelik dat die Minister kant kies en hy blaas op hierdie wyse geweld aan tussen boere en grondbesetters.”

Groenewald sê wat Maandag se vergadering op Normandien by Newcastle in KwaZulu-Natal aanbetref, is dit hoogs onaanvaarbaar dat die Minister ná klagtes van die gemeenskap sê hy sal ’n saak teen ’n boer laat heropen nadat die saak reeds in ’n hof gedien het en die boer onskuldig bevind is aan die bewerings teen hom.

TLU SA het in hulle verklaring geëis dat die Minister duidelikheid gee oor of plaasaanvalle en -moorde die aandag ontvang wat dit dringend benodig. Selfs al het dit volgens hom nie meer die status van ’n nasionale prioriteitsmisdaad nie.

“Vir die Minister gaan dit blykbaar oor die semantiek en nie die beskerming van menselewens nie,” sê Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Navorsing het reeds bewys dat die tipe aanvalle en moorde op plase ander elemente as die ‘normale’ moord- en roof-voorvalle het.”

Cele het vandeesweek in die parlement, in antwoord op ’n vraag van die DA, gesê dat hierdie misdade nie as prioriteitsmisdade geklassifiseer word nie, omdat dit reeds onder ander misdade soos moord, poging tot moord, seksuele aanvalle, aanranding en roof as statistiek vasgelê word. Volgens hom word hierdie misdade onder die SAPD se Nasionale Landelikeveiligheidstrategie hanteer. Die strategie is op 1 Maart vanjaar ingestel en sal vir die volgende vyf jaar geïmplementeer word.

Die DA sê in hulle verklaring hulle het byna die ANC geglo toe die party hom in Junie sterk teen plaasmoorde uitgespreek het. Hulle sê Cele se antwoord in die parlement dat plaasmoorde een van die polisie se prioriteite is, word weerspreek deur sy uitlatings in KwaZulu-Natal. Die DA sê dit is opvallend dat plaasmoorde skynbaar nie vir die Minister saak maak  nie.

Die DA sê vir ’n tyd het die ANC voorgegee dat lewens in landelike gebiede saak maak. Hulle het voorgegee hulle gee om vir boere en plaaswerkers. Dit was volgens die DA egter ’n leuen. “Cele het hierdie hoop aan skerwe laat spat en nou weet ons vir die ANC beteken hierdie moorde minder as ’n wa vol geld wat tydens ’n transito-roof gekaap word,” sê die DA in hulle verklaring.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top