Cele skuld Suid-Afrika ’n verskoning na woede uitbarsting

  • 0

Die minister van polisie, Bheki Cele, skuld die hele land ’n verskoning nadat hy deur die parlement se etiekkomitee skuldig bevind is aan die oortreding van die etiese gedragskode vir parlementslede.

So sê die direkteur van die burgerlike organisasie Action Society en misdaadaktivis Ian Cameron.

Tydens ’n misdaad-imbizo wat in Julie verlede jaar in Gugulethu gehou is, het daar ’n oor-en-weer-skreeuery tussen Cele en Cameron ontstaan waartydens Cele hom toegesnou het om sy mond te hou.

Cameron het Cele tydens die imbizo daarvan beskuldig dat hy versuim het om die land se burgers te beskerm en nie die polisie voldoende na misdaadbrandpunte ontplooi het nie.

Meer as 30 geïdentifiseerde gemeenskapsorganisasies, insluitend gemeenskapspolisiëringsforums van Nyanga en Gugulethu, was teenwoordig om die kwessies van misdaad, polisiëring en uitdagings wat die polisie in die gesig staar, te bespreek.

Dit is meer as ’n jaar sedert Cele verfilm is terwyl hy met sy vinger na Cameron wys en vir hom skreeu om te “shut up”.

Cameron sê in ’n verklaring die vingers wys nou terug na Cele, aangesien hy deur die parlement beveel is om hom om verskoning te vra vir sy uitbarsting.

“Om Cele te beveel om verskoning te vra is ’n eerste en gewaardeerde stap, maar ons glo hy skuld die hele land ’n verskoning. Vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is op ’n laagtepunt en misdaad op sulke skokkende vlakke dat ons nommer drie op die lys van die onveiligste lande is.”

Cameron sê hy glo steeds dat Cele uit sy amp moet bedank. “’n Eerbare persoon sal grasieus uitstap. Maar Cele lyk te magshonger daarvoor. Daarom sal Action Society voortgaan om te eis dat hy uit sy pos as minister van polisie verwyder word,” het Cameron gesê.

Die Gesamentlike Komitee oor Etiek en Ledebelange het bevind dat Cele tydens hierdie uitbarsting item 10.1.1.3 saamgelees met 4.1.5 van die Kode van Etiese Gedrag en Openbaarmaking van Lede oortree het. Die Nasionale Vergadering het aanbeveel dat Cele vir Cameron verskoning moet vra.

Cele is tydens die onderonsie deur Cameron gedruk oor die polisie se mislukkings om die plaaslike gemeenskap te beskerm, toe hy kwaad geword en sy humeur verloor het. Cameron is aangesê om te “sit en luister” en later hardhandig uit die lokaal verwyder omdat hy geweier het om stil te bly.

“Niks het sedert daardie dag verander nie; om die waarheid te sê, meer mense sterf. ’n Verskoning sonder optrede sal altyd leeg wees. Die SAPD moet herstruktureer en herbou word. Cele moet die eerste wees om te gaan,” sê Cameron in sy verklaring

Intussen het Cele ook opnuut onder skoot gekom van die DA se kant.

Die DA het aan hom geskryf om dringende ingryping van die SAPD te versoek om spesialishulpbronne te ontplooi om die voortslepende moorde in die noordelike gebiede van Nelson Mandelabaai (NMB) te hanteer.

Die DA sê in ’n verklaring hulle het Cele reeds voorheen versoek om die misdaadgeteisterde NMB by te staan, maar alle pogings tot dusver het te kort geskiet terwyl geweldsmisdaad buite beheer raak. Daar was vanjaar ’n vlaag moorde in NMB, en hoewel ’n aantal arrestasies gemaak is, gaan misdadigers voort om inwoners straffeloos te terroriseer.

“Die moorde in die noordelike gebiede die afgelope week dra die kenmerke van bendemoorde met die slagoffers wat in die kop en mond geskiet is. Dit is duidelik dat spesialisvaardighede en hulpbronne na NMB ontplooi moet word om beslissend te kan omgaan met hierdie bloedige oorlog wat inwoners in vrees laat leef,” sê Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie.

Die DA eis onder andere dat die aantal lede wat aan die antibende eenheid toegewys is, verdubbel word en die beste speurders van regoor die land gestuur word om die SAPD in NMB te ondersteun.

Hulle vra ook dat die SAPD se Nasionale Intervensie-eenheid of Spesiale Taakmag in die noordelike gebiede versterk en ontplooi word en dat polisiesigbaarheid verhoog moet word.

Die DA het in Augustus ’n veldtog teen die stygende vlakke van misdaad in NMB van stapel gestuur. Met vier van die top 30 moordstasies in die land wat in NMB geleë is, is dit volgens die DA duidelik dat meer gedoen moet word.

Die DA se petisie daaroor het tot op hede sowat 5 000 handtekeninge gekry en sal in die parlement ter tafel gelê word sodat die minister van sy mislukkings kan rekenskap gee, sê Whitfield.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top