Cele spandeer glo miljoene op eet en drink terwyl misdaad floreer

  • 0

Suid-Afrika se omstrede minister van polisie, Bheki Cele, en sy departement spandeer glo miljoene rand per jaar aan kos, drank en vermaak terwyl misdaad in die land besig is om te floreer.

Daar is nie genoeg polisiebeamptes om die werk te doen nie, maar daar is glo geld om op groot skaal aan kos en drank te spandeer.

Dit het die afgelope week in die parlement aan die lig gekom dat die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) en die ministerie van polisie R1,58 miljard aan verblyf bestee het, R42,7 miljoen aan spyseniering en R1,8 miljoen aan vermaak sedert Cele minister van polisie geword het.

Die DA se skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, wat die vraag tydens vraetyd in die parlement geopper het, sê in ’n verklaring die land getuig week na week van die aakligste geweldsmisdade wat teen onskuldige Suid-Afrikaners gepleeg word terwyl die SAPD sy begroting op “nice to haves” blaas.

“Terwyl minister Cele die begroting vir spyseniering en verblyf blaas, het sigbare polisiëring deur die jare personeel- en begrotingsbesnoeiings ervaar terwyl miljoene Suid-Afrikaners in ’n permanente toestand van vrees leef.”

Die DA sê hulle aanvaar dat verblyfkoste die wettige onkoste aan huisvesting van SAPD-lede weg van hul gewone pligte insluit, maar eis dat die buitensporige bedrag deur die portefeuljekomitee oor polisie ondersoek word. “Dit is eenvoudig verregaande dat SAPD meer as R1,4 miljoen per dag bestee om SAPD-lede te huisves.”

Volgens Whitfield is dit ongehoord dat meer as R1,5 miljard aan verblyf en R42,7 miljoen aan spyseniering bestee kan word, terwyl die SAPD elke jaar sy frontliniepersoneel, speurders en reserviste verminder en Suid-Afrikaners vermoor, vermink en verkrag word.

“Wat moet minister Cele nóg doen sodat president Ramaphosa hom kan afdank? Suid-Afrikaners is siek en sat vir sy onbevoegdheid en minagting vir hulle. Dit is tyd dat Cele moet uit,” het Whitfield gesê.

Dit is nie enigste kwessie waaroor Cele tans in die spervuur is nie. Die DA het hom ook by die  parlement verkla oor ’n opmerking wat hy gemaak het oor die grusame bendeverkragting van agt vroue onlangs in Krugersdorp.

In ’n gesprek met eNCA het die minister besonderhede oor die skokkende aanval gegee, onder andere dat een vrou deur 10 mans verkrag is. Hy het gesê een van die ander vroue was “gelukkig” om deur net een man verkrag te word.

Ian Cameron van die drukgroep Action Society wat ook onlangs met Cele swaarde gekruis het, het verlede week op Twitter gesê dit is ’n gruwel dat Cele kan sê ’n vrou is “gelukkig” omdat sy deur net een man verkrag is. Cameron sê Cele het bloed aan sy hande. “Onder jou toesig word meer as 150 vroue per dag in Suid-Afrika verkrag en dit neem toe. Krugersdorp is die punt van die ysberg,” het Cameron op Twitter gesê.

Die DA sê hulle is ontsteld en gewalg oor Cele se “gelukkig”-sentiment.

“Erger nog, meer as sewe dae later het Cele nog nie om verskoning gevra of president Ramaphosa die loslippige minister berispe nie,” sê Nazley Sharif, die DA se adjunkskaduminister van vrouesake.

Sy sê in ’n verklaring dit skep ’n kultuur om vroulike verkragtingslagoffers te blameer en impliseer dat daar ’n soort dankbaarheid ontbreek onder daardie vroue wat daarin slaag om uit Suid-Afrika se “verkragtingspandemie” te ontsnap.

Die DA meen Cele se uitspraak is so teenstrydig met sy eed as lid van die parlement dat dit ’n parlementêre ondersoek deur die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange regverdig. “Ons glo dat die registrateur van ledebelange Cele moet verwys vir ondersoek vir die verbreking van sy eed en die oortreding van die kodes wat op hom bindend is,” sê Sharif.

Die DA het weer eens ’n beroep op Ramaphosa gedoen om Cele te veroordeel en verkieslik af te dank “sodat die SAPD uit sy hande gered kan word”.

Meer as 30 000 Suid-Afrikaners het reeds die DA se petisie onderteken om vir Cele se afdanking te vra.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top