Cele uit alle oorde gekap omdat hy in polisiehelikopter na ANC-funksie vlieg 

  • 0

Die minister van polisie, Bheki Cele, bevind hom vir die soveelste keer in die middel van ’n politieke storm nadat hy die afgelope naweek met ’n polisiehelikopter by die ANC se manifesbekendstelling by die Moses Mabhida-stadion in Durban opgedaag het.

Politieke partye, burgerlike organisasies en aktiviste teen misdaad beskuldig Cele daarvan dat hy staatshulpbronne vir ’n ANC-party-geleentheid misbruik het.

Die DA wil hê Cele moet uit sy eie sak opdok vir die gebruik van ’n SAPD-helikopter om ’n politieke byeenkoms van die ANC by te woon. Cele beweer die DA is net behep met hom en dat hy die helikopter in sy hoedanigheid as minister gebruik het in die uitvoering van sy pligte.

Die fluitjieblaser en menseregte-aktivis Patricia Mashale het op  X gesê Cele het nie die reg om polisiehulpbronne te misbruik terwyl die polisie self sukkel met basiese dinge soos skryfbehoeftes en drukpapier nie. “Sommige polisiestasies het nie eers toiletpapier nie. Waar stop die geld met hierdie minister wat nie sy eie mandaat ken nie?” wou sy weet.

Die teenmisdaadaktivis Ian Cameron het gesê Cele is nie ’n polisieman nie en beweer verkeerdelik dat hy betrokke is by operasies wat veronderstel is om deur die polisie uitgevoer te word.

Cameron sê dit is geen wonder dat so baie lede van die polisie nie meer hul leierskap ernstig opneem nie en dat hierdie vertoon van Cele die pogings om dissipline, respek en gesag by lede van die SAPD te kweek, goedkoop maak.

Die beleidshoof van Solidariteit, Ernst Roets, het hom ook tot sosiale media gewend en op X gesê die feit dat Cele ’n polisiehelikopter gebruik om na ANC-vergaderings te reis en nie verstaan ​​hoekom dit ’n probleem is nie, is nog ’n bewys dat die ANC-regering nie die basiese beginsels van regering begryp nie.

Die DA sê in hulle verklaring Cele moet in sy persoonlike hoedanigheid gefaktureer word vir die gebruik van die helikopter.

“Cele se helikoptertoertjie was ’n growwe misbruik van staatshulpbronne en hy moet verplig word om vir elke vlugminuut te betaal,” het Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, gesê.

Daarbenewens vra die DA vir ’n volledige interne SAPD-ondersoek om die besluitnemingsproses te hersien wat die gebruik van die helikopter deur Cele gemagtig het. Al die SAPD-beamptes regoor die bevelsketting wat hierdie onreëlmatige gebruik van ’n polisiebate afgeteken het, behoort volgens die DA aan ’n dissiplinêre proses onderwerp te word.

Whitfield sê op tipiese Cele-manier het die minister van polisie weer eens sy minagting vir die Suid-Afrikaanse publiek getoon.

Hy sê staatshulpbronne, insluitend SAPD-bates, moet nooit vir partypolitieke geleenthede gebruik word nie. “Deur ’n helikopter van die SAPD se Lugvleuel na die ANC-saamtrek te stuur, het Cele ’n arrogante ‘gevoel van geregtig wees op’ geopenbaar wat die kenmerk geword het van ANC-politici regoor die regeringstelsel. Hy sal eerder die SAPD se misdaadbekampingshulpbronne vir sy persoonlike gebruik inspan as om Suid-Afrikaners te beskerm wat geterroriseer word deur ’n misdaadgolf wat ’n nasionale krisis geword het,” sê Whitfield.

Mmusi Maimane van Build One South-Africa (Bosa) het gesê Cele het geen respek vir die land se belastinggeld nie. Eers het Cele se uitvoerende assistent se uitstappie na die Wêreldrugbybeker-eindstryd ons, die belastingbetalers, R450 000 gekos, en nou hierdie. “Hoeveel het hierdie helikopterlanding ons gekos? Dit spreek vanself dat dit verkwistende uitgawes was,” het Maimane gesê.

Volgens die DA is dit duidelik dat die ANC en sy amptenare in die regering so gewoond is aan die hoë lewe sonder beurtkrag om dag en nag BBP-beskerming te geniet, deur blouligbrigades vervoer te word, en totaal uit voeling is met die daaglikse stryd van Suid-Afrikaners dat hulle lankal die lyn tussen staat en party vergeet het.

Die party sê in hulle verklaring oor die lengte en breedte van die land gaan moordenaars, verkragters, kapers en rowers voort om Suid-Afrikaners te terroriseer wat meegedeel word dat die SAPD nie die hulpbronne het om hierdie misdade te bekamp nie. Tog gebruik die man wat afgedank behoort te word weens die rampspoedige toestand van die polisiediens hierdie beperkte hulpbronne as ’n Uber om betyds by die stadion te kom vir die bekendstelling van die ANC se manifes.

Die DA sê hulle sal elke hulpmiddel tot hul beskikking gebruik om te verseker dat Cele persoonlik aanspreeklik gehou word vir die vlugkoste wat deur Saterdag se helikoptervlug aangegaan is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top