Chaos by Suid-Afrikaans hawens stuur af op ekonomiese krisis

  • 0

Die ontwikkelende Transnet-spoor-en-hawe-krisis dreig om Suid-Afrika se hele uitvoersektor in duie te laat stort en kan die land se ekonomie ernstige skade berokken.

So sê die DA in ’n verklaring na aanleiding van die  huidige krisis by onder meer Durban en die Richardsbaaise hawe.

Transnet sê dit gaan nog ’n geruime tyd duur voor ’n agterstand by die Durbanse hawe uitgewis is. Verskeie vragskepe kan weens die agterstand nie goedere aflaai nie. Volgens die voorsitter van Transnet, Sandile Sangqu, is die agterstand te wyte aan ’n lang tydperk waarin daar nie genoeg ontwikkeling gedoen is nie, en ook weens verouderende infrastruktuur.

Sangqu sê hoewel die maatskappy onverpoosd werk om toerusting te herstel, kan dit gemiddeld tussen 12 en 18 maande duur om die nodige toerusting aan te koop.

Die Padvragvereniging (RFA) beskuldig Transnet daarvan dat hy spoorinfrastruktuur laat verval en ineenstort. Hulle sê die haglike toestand van die netwerk plaas geweldige druk op openbare paaie en oorlaai dit met vragmotors.

Twee weke gelede het die Umhlathuze-munisipaliteit in Richardsbaai die regering en Transnet voor die hof gedaag oor die beweerde versuim om spoorinfrastruktuur in stand te hou, wat gelei het tot erge opeenhoping van vragmotors wat vrag, veral steenkool, na die hawe vervoer.

Die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Mimmy Gondwe, sê in ’n verklaring  ten spyte van onweerlegbare bewyse dat die spoor-, hawe- en padknelpunte krisisvlakke bereik het, het nie een van die betrokke partye ’n merkbare poging aangewend om te evalueer wat gedoen moet word om die kwessie op te los nie.

Transnet erken dat die opeenhoping op paaie in Durban reeds onbeheerbare vlakke bereik het, wat ’n risiko vir padgebruikers inhou.

Die DA eis binne die volgende paar dae ’n duidelike multi-agentskap-reaksie om die knelpunte by hawens uit te klaar met die oog op die voorsiening van tussentydse maatreëls wat verligting aan die geaffekteerde partye sal bied.

Die DA het Maandag weer aan die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings geskryf om te versoek dat die komitee, benewens die toesigbesoeke aan die Durban- en Kaapstad-hawes, ook ’n dringende toesig oor die Richardsbaai-hawe onderneem.

Die DA het reeds verlede week aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, Khaya Magaxa, geskryf en versoek dat die komitee dringende oorsigbesoeke aan die Durbanse en Kaapstadse hawens onderneem.

Gondwe sê dit is noodsaaklik dat die parlement sy rol vervul om die leierskapsleemte te vul wat deur ’n ondoeltreffende ANC-regering geskep is en nou dreig om die ekonomie in duie te laat stort.

Te midde van al die chaos is daar ’n gapende leierskapsvakuum van president Cyril Ramaphosa se nasionale logistieke krisiskomitee, die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, en Transnet self.

Die DA sê Transnet moet met ’n duidelike plan vorendag kom om die skeepsverkeer by hawens te bespoedig, insluitend die herstel en instandhouding van hawe-infrastruktuur.

Die party sê as deel van die langtermyn-ingrypings moet Pravin Gordhan ook besonderhede verskaf oor stappe wat gedoen word om die private sektor se deelname aan hawebestuur te verhoog.

Hulle vra vir ’n nasionale beraad, bestaande uit belanghebbendes in die uitvoersektor, Transnet en die regering om oplossings te vind wat die voortslepende krisis sal oplos, wat langtermyningrypings sal bied om die land se hawebedrywighede doeltreffender te maak.

Die hoof- uitvoerende beampte van RFA, Gavin Kelly, sê die RFA het ’n baie duidelike voorstel: “Gee die hawens en die spoorweë aan die private sektor. Laat ons dit doeltreffend en volhoubaar bestuur.”

Volgens die DA is dit eenvoudig onaanvaarbaar dat Transnet op ’n reddingsboei van R50 miljard aandring om kwansuis sy probleme op te los, maar nog nie sy omkeerplan in die parlement ter tafel gelê het nie.

Die DA hou vol dat vir enige plan om die lotgevalle van Transnet heeltemal om te keer, daar nie net haalbare en tydgebonde teikens moet wees wat duidelik gekommunikeer word nie, maar ook teikens wat direk spreek tot elk van die grootskaalse uitdagings wat die entiteit tans ervaar, insluitend die bedryfsdoeltreffendheid wat sy hawebedrywighede teister.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top