Chaos en wanorde by polisie se Sentrale Vuurwapenregister

  • 0

Die polisie se Sentrale Vuurwapenregister is in ʼn totale chaotiese en wanordelike toestand. Duisende aansoeke vir vuurwapens lê opgestapel in kantore en gange waar die aansoeke geberg word.

Daar is nie meer plek vir ʼn muis om die groot aantal onafgehandelde aansoeke te stoor nie. Selfs die gebou waar die aansoeke geberg word se veiligheid word bevraagteken en is glo met rotte besmet.

Die chaotiese toestand by die plek waar die land se vuurwapenaansoeke verwerk moet word, is deur die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, aan die lig gebring.

Groenewald het na ʼn besoek aan die Sentrale Vuurwapenregister se kantore foto’s en ʼn video op Twitter geplaas waar daar duidelik gesien kan word hoe groot die chaos werklik is. Stapels en stapels van die aansoeke staan die vertrekke en gange vol.

Groenewald sê in ʼn verklaring die chaotiese en wanordelike toestand by die polisie se Sentrale Vuurwapenregister wys waarom aansoeke vir vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate so sloer en feitlik tot ’n stilstand gekom het.

Die agterstand van aansoeke vir vuurwapenlisensies is tans volgens die polisie self sowat 250 000. Groenewald sê in sy verklaring aansoeke word nie behoorlik geliasseer nie, en soos op die foto’s gesien kan word, lê dit op stapels in gange en kantore tussen ander personeel.

Die nasionale polisiekommissaris, genl Khehla Sitole, en die polisie se topbestuur het parlementslede vroeër die maand tydens ʼn vergadering van die polisie se portefeuljekomitee die versekering gegee dat alles moontlik gedoen word om die enorme agterstand met die hernuwing of uitreiking van vuurwapenlisensies uit te wis.

Daar is egter ’n totale gebrek aan ruimte vir die groot aantal vorms en feitlik geen sprake van ’n werkende liasseerstelsel nie. Sou enige persoon navraag doen oor sy dokumentasie, sou dit volgens Groenewald ’n lang en haas onbegonne proses wees om dit op te spoor.

“Die probleem word vererger deur die gebou self. Dit is onveilig en gebrekkig. Onderhoud is swak, daar is ’n strukturele probleem van krake in die mure wat ’n veiligheidsrisiko inhou en die gebou behoort in werklikheid ontruim te word.”

Groenewald sê die struktuur is waarskynlik nie ontwerp om die gewig van die groot aantal dokumente te dra nie.

“Ek het met die instelling van die nuwe vuurwapenwet reeds gewaarsku dat die wetgewing ’n moeilike administratiewe las op die polisie gaan plaas wat nie hanteer sal kan word nie. Hierdie probleem kom daarom reeds ’n lang pad. Daar is aansoeke wat volgens die polisie self reeds meer as twee jaar agterstallig is.”

Die polisie se mikpunt was aanvanklik om binne 90 dae met ’n aansoek te handel. Met die gevolge van die Covid-regulasies is dié mikpunt verleng tot 120 dae. Selfs dit is duidelik totaal onmoontlik.

Die VF Plus is van mening dat die huidige wet gewysig moet word. Die party sê daar is tans te veel onnodige administratiewe rompslomp rondom lisensiëring. “Vuurwapens behoort net een keer gelisensieer te word sonder die vyfjaarlikse hernuwing. Dit sluit bevoegdheidsertifikate in.”

Groenewald sê in sy verklaring daar moet ʼn behoorlike elektroniese stelsel in gebruik geneem word soos by die inkomstediens om verwerking te vergemaklik waar personeel selfs van hul huis kan voortgaan om te werk. Hy sê die bestuur is swak en ’n tekort aan personeel vererger die probleem.

“’n Verdere oplossing sou wees om die stelsel te privatiseer. In 2010 het die destydse minister van polisie, Nathi Mthethwa, ’n taakspan saamgestel oor probleme met aansoeke. Aanbevelings is toe reeds gemaak wat nie nagekom is nie.”

In Maart vanjaar het die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale, weer ’n besoek aan die vuurwapenregister gebring en op ernstige gebreke in die huidige Polvin-stelsel gewys wat daartoe lei dat inligting foutiewelik gelaai word.

Die VF Plus vra dat daar nou dringend aandag aan die saak gegee word. Volgens die party word alle vuurwapeneienaars en -handelaars in die steek gelaat omdat ’n noodsaaklike diens wat aan die publiek gelewer moet word, tans nie gelewer word nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top