Chaos in Kaboel, kopseer vir Nederland

  • 0

Foto: Amber Clay | Pixabay

Met die opmars van die Taliban na die Afghaanse hoofstad Kaboel het Nederland op die nippertjie besluit om sy ambassadepersoneel, plaaslike tolke en hul gesinne in Afghanistan te gaan haal.

Laat Maandagoggend het die demissionêre minister van verdediging, Ank Bijleveld, nog op Twitter laat weet dat verskeie reddingsvlugte na Afghanistan gestuur word om mense te gaan haal.

Maar enkele ure later het Reuters laat weet dat geen reddingsvlugte meer moontlik is nie weens die chaos wat daar op die lughawe in Kaboel heers. Na wat berig word, is minstens vyf mense in die chaos dood. Die oorsaak van hul dood is nog nie bevestig nie. Op sosiale media kan egter gesien word hoe iemand daarin geslaag het om aan die vliegtuig te klou terwyl dit opstyg, maar dan aarde toe val, na sy dood. Navo-troepe het vroeër waarskuwingskote en traangas afgevuur om die skare in bedwang te probeer bring.

Premier Rutte het ook Maandag laat weet dat Nederland alles in sy vermoë doen om ambassadepersoneel, tolke en “anderen die onze bescherming verdienen” in Afghanistan te gaan haal. Volgens die ministerie van buitelandse sake gaan dit om honderde mense wat nog in Kaboel gestrand is.

Die NOS het Dinsdag berig dat die vliegtuig van die Nederlandse weermag steeds nie in Kaboel kon land nie, hoewel vliegtuie volgens Reuters weer op die lughawe kan land en opstyg. Dit beteken dat geen ambassadepersoneel of ander vlugtelinge nog na Nederland gebring kon word nie.

Beweerde boelie weer by die huis

NH Nieuws berig dat die 14-jarige seun wat daarvan verdink word dat hy die 14-jarige Frédérique in Amstelveen naby Amsterdam aangerand het, vrygelaat is. Die hof in Amsterdam het gelas dat die seun onder sy ouers se toesig vrygelaat mag word in afwagting op sy verhoor. As voorwaarde mag hy geen kontak met Frédérique hê nie. Frédérique is verlede maand in ’n parkie wreed aangerand nadat ’n seun haar gevra het of sy ’n seun of ’n meisie is, en sy volgens hom nie ’n bevredigende antwoord gegee het nie.

Mislukte rooftog by Zaanse Schans

Het Parool berig dat daar Sondagoggend ’n mislukte poging was om ’n skildery in die Zaans Museum in Zaandam naby Amsterdam te steel. Die museum is op die toeristiese Zaanse Schans-terrein geleë. Volgens die kurator, Arthur Brand, het die gewapende rowers probeer om ’n werk van die Franse skilder, Claude Monet, te steel. Hulle het gelukkig nie daarin geslaag nie. Skote is afgevuur, maar niemand is beseer nie.

Die swart bromponie waarmee die verdagtes op die vlug geslaan het, is later naby die toneel gevind. Die polisie soek na twee verdagtes wat op ’n bromponie weggery het.

Daar word vermoed dat die misdadigers die skildery wou steel, dan voorgee hulle het dit gevind het en sou ingee om straf in ’n onverwante hofsaak af te koop. Dit het glo in ’n vorige era gewerk, maar dié soort afkoop vind nie meer plaas nie.

Weg met windmeulparke!

Die NOS berig dat daar afgelope Saterdag langs die Afsluitdyk in Nederland ’n protesoptrede deur sowat 50 vissersbote gehou is. Die vissers betoog teen die uitbreiding van windmeulparke op see, omdat die windmeulens volgens hulle steeds groter dele van hul visvanggebied in beslag neem. Hulle is bekommerd oor of hul nageslagte nog ’n toekoms in die bedryf het.

Daar is verlede jaar ’n ooreenkoms tussen die regering en vissers bereik oor die verdeling van die Nederlandse Noordsee, omdat daar in die komende jare nog meer windmeulparke op die Noordsee gebou gaan word. Verder moet daar ook ruimte wees vir natuurgebiede, ruimte om vir olie en gas te boor, vir skeepsverkeer en vir oefengebiede vir die weermag. Die kabinet het €200 miljoen opsygesit vir die ooreenkoms, waarvan die grootste deel aangewend sal word om vissers uit te koop wat wil ophou. Die aktiviste sê egter hulle het nog nie ’n sent hiervan gesien nie.

Moedersdag vir Antwerpenaars

Waar die meeste Westerse lande, en ook België, Moedersdag op die tweede Sondag in Mei vier, doen die Antwerpenaars dit op 15 Augustus, en hulle doen dit al langer as die res van die wêreld. Die Moedersdagviering op die tweede Sondag in Mei, wat sy ontstaan in die VSA het, het eers in die 1920’s in België posgevat, maar die Dag der Moeders word al sedert 1913 in Antwerpen gedenk op die Hemelvaart van Maria – die beskermheilige van die stad Antwerpen – toe dit deur die kunstenaar Frans van Kuyck bekendgestel is. Sedertdien word Moedersdag in Antwerpen, anders as in die res van die land of die wêreld, op 15 Augustus gevier.

Verdrinking in die Leie

Leie, Gent (Foto: Yves Nevelsteen, WikiMedia, CC BY-SA 3.0)

VRTNWS berig dat ’n man Maandag in die middestad van Gent in België in die Leie verdrink het nadat die kajak waarin hy gevaar het, omgeslaan het. Die voorval het naby ’n sluis by die Sint-Jorisbrug aan die Reke plaasgevind. Die slagoffer was ’n 59-jarige man uit Halle naby Brussel. Die man se familie word bygestaan. Omstanders wat die toneel aanskou het, kry ook berading.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top