Chaos in SA se gesondheidsektor oor befondsingskrisis

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid het ’n dringende oorlegplegingsproses van stapel gestuur met nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat geraak word deur die Amerikaanse regering se besluit om skenkerbefondsing vir MIV/Vigs- en tuberkulose- (TB-) responsprogramme te bevries en te sny.

Hierdie stap kom te midde van groeiende kommer oor die impak van die befondsingsverlies, veral ná die skielike beëindiging van programme soos die President’s Emergency Plan for AIDS Relief (Pepfar), wat dekades lank ’n spilpunt van Suid-Afrika se MIV-strategie was.

Die jongste inisiatief, onder leiding van die direkteur-generaal in die Departement van Gesondheid, Sandile Buthelezi, is daarop gemik om eerstehandse inligting in te samel oor die omvang van die krisis.

Die gesprekke, wat hierdie week begin het, behels vergaderings met NRO’s soos Anova Health Institute en Treatment Action Campaign (TAC), wat ernstig geraak is. Buthelezi het Donderdag die eerste vergadering gelei en belowe om die terugvoer te gebruik om ’n strategie te vorm.

Hoewel die Amerikaanse ambassade op 10 Februarie ’n “beperkte ontheffing” vir Pepfar aangekondig het, bly die omvang daarvan onduidelik, en die 90-dae-hersieningsperiode eindig eers op 19 April. Intussen bly die gesondheidsektor onseker, met aktiviste wat vrees dat Suid-Afrika na die donker dae van die vroeë 2000’s kan terugsak.

Die departement wil verstaan hoe die uitwis van ongeveer 17% van die land se MIV-programbefondsing, wat Pepfar voorheen gedek het, dienslewering beïnvloed, om sodoende ingeligte besluite oor regeringsingrepe te neem. “Ons waardeer die enorme bydrae wat hierdie organisasies tot ons reaksie op MIV/Vigs en TB maak,” het die departement in ’n verklaring gesê. “Ons bly daartoe verbind om saam met hulle kort-, medium- en langtermyn-oplossings te ontwikkel.”

Die onmiddellike gevolg van Donald Trump se besluit om sekere finansiering aan Suid-Afrika te onttrek, was dat klinieke wat op Pepfar gesteun het, pasiënte begin wegstuur het, en ongeveer 15 000 gesondheidswerkers wat deur die program befonds is, hul werk verloor het.

Organisasies soos die Anova Health Institute en TAC het melding gemaak van massiewe afleggings. TAC het byvoorbeeld 101 van hul 189 personeellede verloor. Dit het veral kwesbare groepe geraak, soos sekswerkers, transgender persone, en mense in landelike gebiede, wat dikwels afhanklik is van Pepfar-ondersteunde dienste buite die staat se bereik.

Suid-Afrika se MIV-program is die grootste ter wêreld, met sowat 5,5 miljoen mense wat antiretrovirale middels (ARV-middels) ontvang. Hoewel die staat 74% van die koste dek, het Pepfar die gaping gevul vir dienslewering en voorkoming wat die regering nie alleen kan bekostig nie. Die verlies van hierdie steun bedreig nou die land se vordering om MIV onder beheer te kry, veral aangesien ekonomiese groei laag bly en die openbaregesondheidsbegroting reeds onder druk is.

Gesondheidsminister Aaron Motsoaledi het staatsklinieke intussen opdrag gegee om te verseker dat geen pasiënt sonder ARV-middels huis toe gaan nie. “Ons doel is om kontinuïteit van behandeling te waarborg,” het hy vroeër die week gesê. Hy het provinsies gevra om aanpassings te maak om nuwe pasiënte te akkommodeer, in ooreenstemming met standaardbedryfsriglyne. Die departement doen ook ’n beroep op mense wat voorheen behandeling by Pepfar-gesteunde sentrums ontvang het om na hul naaste openbare gesondheidsfasiliteite te gaan. “Ons ARV-voorrade is stabiel, maar die ondersteunende dienste is in gevaar,” het Motsoaledi erken.

Die publiek word aangemoedig om gereeld gesondheidstoetse te ondergaan en voorkomingsmaatreëls te tref. “Kennis van jou status is die eerste stap om jouself en jou geliefdes te beskerm,” het die departement beklemtoon.

Kenners waarsku egter dat die impak verwoestend kan wees as die finansieringsgaping nie gevul word nie. Linda-Gail Bekker van die Desmond Tutu HIV Foundation skat dat tot 500 000 ekstra Vigs-verwante sterftes en 565 000 nuwe infeksies oor die volgende dekade moontlik is. “MIV vereis konsekwente behandeling en voorkoming, enige onderbreking kan vordering van jare uitwis,” het sy gesê.

Lees ook:

Twenty million people face death due to aid cuts

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top