China rol rooi tapyt uit vir Ramaphosa

  • 0

Suid-Afrika se buitelandse betrekkinge met China sal dié week heel bo aan die regering se agenda wees tydens ’n hoëvlakstaatsbesoek deur president Cyril Ramaphosa en senior kabinetslede, onder wie twee DA-ministers.

Dit is Ramaphosa se tweede staatsbesoek aan China en die eerste keer dat hy op ’n staatsbesoek na die buiteland vergesel word deur DA-ministers in sy regering van nasionale eenheid, onder andere die leier van die DA, John Steenhuisen.

Ramaphosa en sy span besoek China tot Donderdag op uitnodiging van die land se president, Xi Jinping.

Ramaphosa se besoek aan China het Maandag amptelik begin met ’n verwelkomingseremonie by die Groot Saal van die Mense. Hy het ook ’n krans gelê by die Monument vir die Volkshelde op Tiananmen-plein ter ere van Chinese revolusionêre.

Hy word vergesel deur die ministers van internasionale betrekkinge en samewerking; wetenskap, tegnologie en innovasie; menslike nedersettings; kleinsake-ontwikkeling; presidensie; handel, nywerheid en mededinging; elektrisiteit en energie; openbare werke en infrastruktuur; hoër onderwys; en landbou; asook die premiers van die Oos-Kaap, Oscar Mabuyane, en Limpopo, Phophi Ramathuba, sowel as senior regeringsamptenare.

China is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot wêreldwyd, terwyl Suid-Afrika China se grootste handelsvennoot in Afrika is. Totale bilaterale handel het gegroei van R614 miljard in 2022 tot R692 miljard in 2023.

Suid-Afrika en China se bilaterale betrekkinge word gehandhaaf op die vlak van ’n omvattende strategiese vennootskap (CSP) wat gebaseer is op ’n tienjaar- strategiese samewerkingsprogram (2020–2029).

Die twee lande sal in die komende week ooreenkomste onderteken wat daarop gemik is om ekonomiese samewerking te verbeter en die implementering van tegniese samewerking, veral op die gebiede van menslike nedersettings, landbou, en wetenskap en tegnologie, te bevorder.

Vandag (Dinsdag) sal Ramaphosa Suid-Afrika se ekonomiese diplomasie met China bevorder deur ’n besoek te bring aan Sjenzhen, ’n ekonomiese tegnologiespil in die Guangdong-provinsie, om met bedryfsleiers in gesprek te tree en die hoofkwartier van twee tegnologiemaatskappye as deel van die bilaterale sakeprogram van die staatsbesoek te besoek.

Ramaphosa sal Woensdag die Suid-Afrika-China-sakeforum in Beijing toespreek.

Donderdag sal hy deelneem aan die Focac-beraad wat gehou word met die tema: Hande vat om modernisering te bevorder en ’n hoëvlak-China-Afrika-gemeenskap met ’n gedeelde toekoms te bou.

“Die President sal saam met die voorsitter van die Chinese Volkspolitieke Konsultatiewe Konferensie, Wang Huning, die hoëvlakseminaar oor die begeleiding van Afrika in industrialisering, landboumodernisering en groenontwikkeling voorsit om die pad na modernisering aan te pak,” het die presidensie in ’n verklaring gesê.

Suid-Afrika se deelname aan Focac word gedryf deur ’n konstante bevordering van Afrika se posisie oor ontwikkeling soos uiteengesit deur die Afrika-Unie se Agenda 2063: Die Afrika wat ons wil hê en sy verwante vlagskipprogramme.

’n Verklaring en aksieplan (2025–2027) sal na afloop van die 2024 FOCAC-beraad uitgereik word.

Ramaphosa het Maandag tydens sy openingsopmerkings by die verwelkomingseremonie gesê Suid-Afrika is stewig verbind tot die een-China-beleid.

Volgens Ramaphosa deel die twee lande baie doelwitte. Hy sê dit is gebou op ’n vaste fondament van solidariteit wat ondersteuning bied in die bevordering van beide lande se belange, dié van die Afrika-kontinent en die globale Suide.

“Ek is vol vertroue dat ons die geleentheid sal hê om openlik menings uit te ruil oor baie kwessies rakende ons politieke, ekonomiese en tegniese samewerking soos uiteengesit in die 10-jaar- Strategiese Program van Samewerking,” het Ramaphosa gesê.

Hy het ook die hoop uitgespreek dat hulle gemeenskaplike terrein sal vind oor belangrike streekskwessies en ander wêreldwye uitdagings.

Ramaphosa sê Suid-Afrika het ’n nuwe tydperk in die land se 30 jaar van demokrasie binnegegaan en die nuutgestigte regering van nasionale eenheid gaan voort om die bereiking van die Afrika-Unie se Agenda 2063 en die strewe na ’n beter Afrika en wêreld as die kern van sy buitelandse beleid te beskou.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top