Cholera-uitbraak kan ’n landwye krisis word

  • 0

Die cholera-uitbraak by Hammanskraal in Gauteng wat reeds byna 20 lewens geëis het, is moontlik nie net tot Tshwane beperk nie en kan ’n landwye krisis word.

So sê die DA in reaksie op beskuldigings dat die DA-geleide veelpartykoalisie in Tshwane daarvoor verantwoordelik is.

Die uitbraak het teen Woensdag reeds 17 lewens geëis. Die Gautengse Departement van Gesondheid het Woensdagoggend gesê daar is 29 laboratoriumbevestigde gevalle in die provinsie.

Die Jubilee-distrikshospitaal het minstens 165 pasiënte gesien, insluitend 18 pasiënte wat na ander gesondheidsfasiliteite in Tshwane oorgeplaas is.

Hammanskraal noord van Pretoria word volgens mediaberigte reeds jare lank deur swak sanitasie en waterkwessies geteister, en het ’n spilpunt vir die verspreiding van die bakteriese siekte geword.

Voorvalle van cholera is egter ook in die Vrystaat en Limpopo aangemeld, wat bevestig dat die uitbraak in Tshwane nie die gevolg is van ’n verval in dienslewering van ’n regering wat nog net twee maande aan bewind is nie, sê die DA in ’n verklaring.

“Dit is die gevolg van jare en jare se nasionaleregering-verwaarlosing en vorige plaaslike regerings wat metro’s bankrot gemaak het tot die punt dat hulle amper onder administrasie geplaas moes word.”

Die adjunkminister van menslike nedersettings, water en sanitasie, David Mahlobo, het Maandag by ’n media-inligtingsessie by Hammanskraal se Jubilee-distrikshospitaal gesê die Rooiwal-afvalwatersuiweringswerke, die gereelde verandering van burgemeesters in die Stad Tshwane, en ongerymdhede met oor ooreenkomste is die middelpunt van die Hammanskraal-waterkwessies.

Die DA sê egter in hulle reaksie die ANC probeer doelbewus die publiek mislei met propaganda oor hoe hierdie krisis direk aan die DA-geleide veelpartykoalisie in Tshwane gekoppel word, en ignoreer die geskiedenis van hul eie verwaarlosing.

Die DA se skaduminister vir water en sanitasie, Leon Basson, sê in ’n verklaring dit kan nie duideliker bewys word as in ’n parlementêre antwoord van die minister van water en sanitasie vandeesmaand nie. Volgens die minister gaan waterinfrastruktuur-agterstande oor 10 jaar R89,9 miljard per jaar kos, met 3 698 074 kiloliter water wat elke dag verlore gaan as gevolg van mislukte infrastruktuur en lekkasies. Dit kos Suid-Afrika elke jaar R250 miljoen.

Die 2014-Groendruppel-verslag (die jongste beskikbare een) het aan die lig gebring dat 84% van die 824 afvalwatersuiweringsaanlegte in die land elke dag 4 200 miljoen liter onbehandelde of onvoldoende behandelde rioolwater onwettig in 82% van die land se riviere stort.

Basson sê dit is verbysterend, en gegewe hierdie situasie, was die huidige uitbraak in werklikheid onvermydelik.

Hy sê daar was nog ’n paar gevalle van cholera-agtige uitbrake in ander munisipaliteite en ander provinsies wat bewys dat swak watergehalte en sanitasie nie net ’n Tshwane-probleem is nie, maar een wat die hele land raak.

As die nasionale regering nie intree om munisipaliteite te help met die opgradering van waterinfrastruktuur nie, sal daar volgens hom baie meer lewens in Suid-Afrika verlore gaan.

Die DA het ’n beroep gedoen op die nasionale regering, en die ANC in Gauteng, om goedkoop politiek te staak en eerder dringend ’n plan te beraam vir ’n algehele opknapping van die land se waterinfrastruktuur om toekomstige uitbrake te voorkom.

Die DA doen ook ’n beroep op minister Mchunu om met Tshwane en die private sektor saam te werk om alle opsies te ondersoek om die Rooiwal-aanleg op te gradeer. Die voltooiing van fase 2 van die opgraderings sal die Stad ’n verbysterende R2,5 miljard kos, wat gelykstaande is aan die Stad se hele kapitaalbegroting.

Gauteng se Departement van Gesondheid het ’n beroep op die publiek gedoen om by hul naaste gesondheidsfasiliteite aan te meld wanneer hulle ligte tot ernstige en waterige diarree en dehidrasiesimptome het sodat hulle behandeling kan ontvang.

Die provinsiale en distriksuitbraakreaksiespanne is na die Jubilee-hospitaal en die geaffekteerde gebiede gestuur om die bron van die maagderminfeksie verder te ondersoek. Mense word versoek om behoorlike handhigiëne te verseker, wat insluit om hande deeglik met water en seep te was voor en na die gebruik van die badkamer/toilet en die voorbereiding of eet van kos.

Gebruik slegs veilige of ontsmette water vir die voorbereiding van voedsel, drank en ys om moontlike oordrag van die infeksie te voorkom.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top