
Van links: Johan van der Merwe, Rudi Swanepoel, Heinz Winckler en Llewelyn Macmaster
Christelike nasionalisme is nie meer net ’n Amerikaanse verskynsel nie en Suid-Afrika moet versigtig wees dat geloof nie toenemend as politieke wapen gebruik word nie.
Dit was die afgelope week een van die kernboodskappe tydens ’n gesprek (Resonans-gespreksreeks: Wie praat namens God?) oor onder andere Christelike nasionalisme by die Toyota Stellenbosch Woordfees 2026, waar die vraag bespreek is of die kerk nog ’n profetiese stem in die samelewing is, of toenemend ’n propagandis vir bepaalde politieke en ideologiese standpunte word.
Die vraag of Christelike nasionalisme ook in Suid-Afrika begin posvat, en hoe gevaarlik die vermenging van Christelike geloof met politieke ideologie kan wees, het sentraal gestaan in die gesprek.
Die gesprek is gelei deur die teoloog Johan van der Merwe, met die predikante Rudi Swanepoel van die NG Kerk, Heinz Winckler van LoveKey Church en Llewelyn Macmaster van die Verenigende Gereformeerde Kerk as paneellede.
Swanepoel het gewaarsku dat die invloed van die Amerikaanse regse Christelike beweging reeds tot in Suid-Afrika sigbaar is.
“Ek dink regtig daar moet ’n pertinent onignoreerbare stopteken wees rondom wit Christelike nasionalisme,” het hy gesê.
Volgens hom behoort die NG Kerk een van die stemme te wees wat teen dié pad waarsku, omdat Suid-Afrika reeds die gevolge van ’n vorige vorm van wit Christelike nasionalisme beleef het.
“Dit het nie gewerk nie en ons pluk nou nog die vrugte van daardie pad,” het Swanepoel gesê.
Hy het aangevoer dat die regse Amerikaanse politieke beweging se invloed ook in Suid-Afrika weerklank vind omdat dit met mense se vrese resoneer. Hy is veral bekommerd oor die manier waarop bepaalde politieke narratiewe en propaganda deur geloofstaal versterk kan word.
Winckler se posisie oor die Amerikaanse regse beweging het egter ’n meer omstrede sy aan die gesprek gegee. Hoewel hy gewaarsku het dat God nie as ’n politieke instrument gebruik moet word nie, het hy gesê dat hy, wanneer hy tussen “twee euwels” moet kies, eerder ’n regering in die Withuis sal wil hê wat beleid, aanbidding en Skriflesing openlik met Christenskap verbind as ’n “immorele ontkleedanser” wat voor die Withuis optree.
Sy opmerking plaas sy kritiek op Christelike nasionalisme in ’n ongemaklike spanning: Hy waarsku teen die vermenging van geloof en politiek, maar toon terselfdertyd simpatie met ’n politieke bestel wat Christelike geloof prominent in die openbare sfeer plaas.
Die gevaar ontstaan volgens hom wanneer kerkleiers en Christene die Bybel selektief gebruik en hard praat oor die sondes van ander, maar nie dieselfde maatstaf op hulself toepas nie.
Hy het apartheid se rassisme as onversoenbaar met die Bybel beskryf en aangevoer dat die kerk dieselfde maatstaf vandag teenoor alle vorme van politieke ideologie moet gebruik.
Macmaster, wat in die 1980’s sterk by die kerklike stryd teen apartheid betrokke was, het op sy beurt gewaarsku teen mense wat daarop aanspraak maak dat hulle namens God praat.
Hy het verwys na die Belhar-belydenis en die Kairos-dokument, wat albei in die konteks van die stryd teen apartheid ontstaan het, en gesê selfs binne die kerk was daar destyds nie eenstemmigheid oor wat ’n profetiese stem behels nie.
Volgens hom is daar vandag ’n soortgelyke gevaar dat mense bloot verkondig wat ander graag wil hoor.
“Daar is vals profete wat dit uitbuit en wat mense eksploiteer in die naam van die Here,” het hy gesê.
Hy het beklemtoon dat Christene oor kerklike en ideologiese grense heen moet leer om saam te luister en mekaar se “blinde kolle” uit te wys.
Die gesprek het ook die toenemende polarisasie tussen Christene onder mekaar en andersdenkendes op sosiale media aangeraak.
Van der Merwe het daarop gewys dat sommige Christene selfs geweier het om die gesprek by te woon omdat hulle van mening was dat dit “teen God” sou wees, terwyl ander die paneellede op sosiale media aangeval het.
Die kernvraag wat uit die gesprek na vore gekom het, is of die kerk sy profetiese stem kan behou sonder om God se naam vir ’n politieke agenda in te span.
Die vraag is veral relevant in ’n grondwetlike demokrasie waarin Christene wel ’n groot deel van die bevolking vorm, maar nie die enigste geloofsgroep of politieke gemeenskap is nie.
Volgens die 2022-sensus het 84% van Suid-Afrikaners aangedui dat hulle Christene is. Winckler het dié syfer aangehaal, maar toegegee dat blote identifikasie as Christen nie noodwendig beteken dat al dié mense dieselfde geloofsoortuigings of politieke standpunte deel nie.
Teen die einde van die gesprek het ’n belangrike vraag egter bly hang: Hoe onderskei gewone burgers tussen iemand wat werklik ’n profetiese boodskap verkondig en iemand wat bloot sy of haar eie politieke oortuigings met God se gesag beklee?

