Titel: Close
Regie: Lukas Dhont
Geskryf deur: Lukas Dhont en Angelo Tijssens
Hoof van die verfilming: Frank van den Eeden
Oorspronklike musiek: Valentin Hadjadj
Tale: Frans en Nederlands, met Engelse onderskrifte
Hoofspelers:
Eden Dambrine as Leo
Gustav De Waele as Remi
Émilie Dequenne as Sophie
Close is ’n lieflike, hartseer film.
Dit is skynbaar onder die Engelse titel vrygestel, ek kon geen aanduiding kry dat dit ’n ander oorspronklike titel in België gedra het nie.
Twee seuns, ongeveer 13 jaar oud en nog prepuber, word naby mekaar groot vandat hulle klein is. Hulle doen alles saam, eet by mekaar se huise, slaap gewoon oor en is skynbaar onskeidbaar. By geleentheid vra Leo se pa, toe die seun aankondig dat hy op pad is na Remi: “Gaan jy ooit weer terugkom?” Waarop Leo laggend antwoord: “Dalk.”
Ek deel ’n skermgreep waar Leo (blond en links) saam Remi se ma (gespeel deur Émilie Dequenne) op Remi lê. Hulle is close.
Alles verander wanneer die twee seuns hoërskool toe gaan. Skielik word hulle gevra: “Is julle bymekaar?”
Aanvanklik snap die seuns nie wat aangaan nie, maar dan kom kwetsende woorde ook na vore.
Leo verduidelik dat hulle “soos broers” is, maar dit oortuig nie almal nie.
Kyk self verder.
Verlies
My geliefde, wat dekades ouer is as die seuns oor wie die film gaan, se opmerking ná ek die storie aan haar vertel het, was: “Om te lewe is om te verlang.”
My geliefde kon al die verlange en die verlies binne konteks beleef en besef dat ’n mens daarmee kan saamleef, maar hoe moet twee dertienjariges hierdie konsep van verlies verstaan?
Meer nog: Wanneer twee kinders so ná aan die ander se gesin geleef het, is daar geen manier dat ouers nie deur die seuns se verlies geraak sou word nie. Ek is versigtig om nie die verhaal te verklap nie, maar oneindige verlies is wat hierdie film teken.
Die verfilming
Ek stel belang in die tegniese aspekte van fotografie en filmografie. Ek kon nie anders as om verwonderd te sit oor die filmtegnieke nie.
Close is ’n beeldskone film.
Soms hardloop die kinders deur plate en plate blomme, met die kamera wat hulle volg (sien die skermgreep hier bo).
Hulle ry fiets, die kamera volg.
Leo speel yshokkie, en die kamera ervaar die stampe en stote.
Soms word ’n tyd lank op ’n oog, of ’n mond, gefokus.
Frank van den Eeden, wat aan die hoof van die verfilming gestaan het, verdien vermelding.
Musiek
Remi speel hobo. Ons sien hom oefen en ook later op die verhoog.
Valentin Hadjadj se klankbaan onderstreep sekere temas in die film.
Kyk maar self, en ervaar die subtiele wyse waarop klank die fotografie ondersteun.
Die stel
Leo se ouers is blomboere. Aan die een kant gee dit die film ’n onverwagte skoonheid; aan die ander kant gee dit aan die kyker ’n baie interessante blik op doodgewone Belgiese burgers se lewens. Dié gesin werk bitter hard vir hulle inkomste, Leo ook.
Hulle is gewone mense, eerlike burgers, wat skielik gekonfronteer word met vrae waaraan hulle nooit eers gedink het nie.
Kyk dit! Dit is gratis.
Die European Film Festival 2023 (ek gee opsetlik die Engelse titel) bied talle films gratis aan.
Ek het Close in my huis in Gqeberha gekyk sonder om ’n sent te betaal.
Dit filmfees is ’n enorme plus vir Suid-Afrika.
Ondersteun hulle gerus; teken nou al in op hulle nuusbrief, sodat jy volgende jaar kan saam kyk.