#cocreateSANL: Die ontwerp van blougroen stede

  • 0

Op 20 April 2022 is die eerste van vyf gesprekke oor water in ons stedelike omgewings gehou.

Die gesprekke vind plaas onder die vaandel “Creative Exchange” en die hutsmerke #cocreateSANL en #cocreateDESIGN word gebruik, want die Nederlandse konsulaat in Kaapstad borg die gesprekke, terwyl Kaapstad se Craft + Design Institute die reeks bestuur.

Die eerste praatjie het gehandel oor die ontwerp van blougroen stede.

’n Blougroen stad ondervang beide die blou aspek natuurlike water en die groen aspekte, wat die natuur, besparing, hergebruik en hersirkuleer insluit.

Africa Melane (Argieffoto: Izak de Vries)

Africa Melane was die gasheer en gespreksleier. Volgens hom is ’n blougroen stad waarskynlik die soort stad waarin almal van ons wil woon.

Gesprekke oor water is belangrik.

  • Kaapstad was vir baie lank vasgevang in ’n knellende droogte.
  • Gqeberha in die Oos-Kaap het slegs vir nog 50 dae water.
  • Kort voor hierdie gesprek plaasgevind het, is Durban se inwoners geteister deur die ergste vloed wat nog ooit in daardie streek plaasgevind het. Meer as 400 mense is in daardie ramp dood.

Dus:

  • Hoe keer ons vloede?
  • Hoe vang ons genoeg water op vir ons stede se inwoners?
  • Wat van stormwater wat gewoon see toe loop?
  • Hoe kan landskapkuns en stedelike beplanning hiermee help?
  • Water en sanitasie is ’n grondwetlike reg, maar hoe maak ons dit moontlik?

Die Nederlandse konsul-generaal, Sebastiaan Messerschmidt, het self ingeloer.

Sebastiaan Messerchmidt (Argieffoto, Izak de Vries)

Hy beklemtoon nogmaals dat water iets is wat almal in die wêreld raak.

Selfs in Nederland is daar tye van droogte. Die uitdagings daar is baie anders. Wanneer daar in Nederland nie genoeg reën val nie, droog die dyke uit, wat gevaarlik is. Sy eie huis in Nederland lê byvoorbeeld vier meter onder seevlak. ’n Dyk wat breek, kan enorme lewensverlies tot gevolg hê.

Dit is waarom die Nederlandse regering graag meewerk aan gesprekke soos hierdie. Ons kan baie leer van mekaar.

Een ding weet ons, sê hy: Droogtes gaan terugkeer. Soos die aarde warmer word, gaan die uitdagings meer word.

Daarom is vernuwing belangrik, en dit nie net op ’n hoëtegnologievlak nie. Almal moet saamwerk, saam innoveer. Kaapstad was baie vernuwend met die maniere waarop hulle gekommunikeer het; besighede en gewone mense het uiteindelik almal saamgewerk en die watergebruik is tydens die droogte met 50% gesny.

Dit is die punt van innovasie – almal moet baat, nie net die ryk mense nie.

Dus? Hoe word hulpbronne regverdig verdeel? Hoe maak jy seker almal, nie net ryk mense nie, kry skoon water?

Dit is maklik om na die groot vloed in Durban te wys as ’n bron van kommer, maar kort na die ergste droogte in Kaapstad se geskiedenis is talle townships oorstroom toe dit weer begin reën. Daaroor word minder geskryf.

  • Hoe voorkom jy dit?
  • Hoe maak jy seker daar is voldoende sanitasie vir almal?
  • Hoe stel ’n mens die nodige fondse beskikbaar?

Daar moet dus sosiale innovasie, die politiese wil én die finansiële beplanning wees om water optimaal te kan bestuur. Kortom, sê Messerschmidt: Waterbestuur verg dus ’n holistiese benadering.

Kirsty Carden

(Foto verskaf)

Kirsty Carden is ’n medeprofessor in die Departement Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit Kaapstad en is die interim direkteur van die navorsingsinstituut vir die toekoms van water aan dieselfde instansie.

Vir haar is ’n blougroen stad een wat die natuur in ag neem. Die natuur moet beskerm word en aangemoedig word om as buffer te dien teen risiko’s soos oorstromings, droogtes, wind en brande, ook om klimaatsverandering teen te werk. Om dit te doen, moet die nodige plante, en veral ’n verskeidenheid plante, in die stad kan gedy.

Enige stad moet die nodige geriewe aan inwoners bied, maar die natuur moet daarby geïntegreer word.

Die blou infrastruktuur, soos vleilande, riviere en ondergrondse water, moet bewaar word. Die natuurlike vloei van riviere moet herstel word en vleilande moet toegelaat word om water op ’n natuurlike manier te filtreer. Daarmee saam moet die stad se infrastruktuur groen wees – water moet dus korrek en met sorg bestuur word.

Die einddoel is ’n watersensitiewe stad, een wat aanpasbaar is in tye van swaar reën én droogte.

Die probleem is dat die beleidmakers dikwels in die regering sit en alle prosesse van bo af dryf – daar word dus nie genoeg geluister na gewone mense se behoeftes nie. Dit is verstaanbaar, maar nie altyd wys nie. Die navorsingsinstituut waarby Carden betrokke is, het bewys dat dit ’n mens beter resultate kry deur die gemeenskap te betrek. Gedurende hulle navorsing oor grondwater is inwoners van Mitchells Plain byvoorbeeld betaal om sandsakmure te bou en om die boodskap van grondwaterbewaring op groot muurskilderye aan te bring. Dit het mense laat saamgesels.

“Is Suid-Afrika gereed vir die uitdaging om blougroen stede te skep?” vra Africa Melane haar toe.

Suid-Afrika het baie goeie beleid rakende hierdie kwessies, sê sy. En talle van die groter stede het spanne wat goeie idees skep, maar ons integreer nie noodwendig genoeg nie.

Durban, wat nou pas onder die vloede deurgeloop het, se idees rakende stormwaterbestuur is byvoorbeeld baie goed, maar is die natuur noodwendig in ag geneem? Dit is die dilemma. Ons dink in kompartemente en die verskillende departemente (in die staat en in die stede) praat nie noodwendig met mekaar nie.

Tamsin Faragher

(Foto verskaf)

Tamsin Faragher werk vir die Stad Kaapstad. Sy het al tevore in Londen, Dubai en Abu Dhabi gewerk en ondersoek tans grondwater in Kaapstad. Sy stel veral belang in maniere om al die verskillende dissiplines met mekaar te laat praat, en om ruimtes daar te stel om kosproduksie binne ’n stedelike omgewing moontlik te maak.

Sy sê die probleem met water is dat dit soveel mense op soveel vlakke raak, daarom moet gewone mense betrek word, maar hulle moet ook kan saamwerk met die beleidmakers en die uitvoerders van die beleid. Die regering maak beleid oor water, die stad maak verdere regulasies, en dan moet almal dit implementeer. Dit kom alles van bo af.

Beleid is nodig. Water is ’n komplekse sisteem. Daar is opvangsgebiede, damme, pype na die stad, pype na woonbuurte, dan na huise (of naby die huis in die geval van ons townships). En die afvalwater? Dit moet weer uit die huise, uit die woonbuurte kom en skoongemaak word.

Dit is die stad se ingenieurs wat water na en van mense se huise moet kry, maar dit is die regering se departemente wat in beheer is van damme, riviere en opvangsgebiede.

Meer nog, die ingenieurs dink daaraan om die meeste water op die sinvolste manier te vervoer. Hulle sal die omgewing in ag neem in terme van die werk wat hulle doen, maar dis nie hulle werk om die omgewing te bewaar of te laat benut nie. Ander departemente sien daarna om.

Die stad se ingenieurs moet oppervlakwater sou gou en effektief as moontlik wegvoer en in die see kry;  die regering se damme moet egter water opvang, sodat die stad pype kan aanlê om die water aan die mense te voorsien.

Wat van vleilande? Dit is nie die ingenieurs se werk om vleilande te onderhou nie, maar vleilande is belangrike bydraers tot die blou en die groen van ’n blougroen stad.

Die ingenieurs gebruik paaie om water vinnig weg te voer in stormwaterdreine in en pype om die water in die see te kry. Die vleilande het egter daardie water nodig.

Of soos dit die geval is in baie stede, word daar voltyds water gepomp uit die kelders van groot geboue. In Kaapstad word daar duisende liters water uit die kelder van die Burgersentrum gepomp en dit gaan see toe – al is daar ’n droogte en die damme is leeg. Volgens wetgewing kan die Stad Kaapstad nie ’n watervoorsiener wees nie en kan dit dus tegnies nie hierdie water aan mense lewer nie.

Hokkies. Almal word in hokkies geplaas en sit daarin vasgevang.

Faragher werk tans aan voorleggings om gesprekke tussen al die rolspelers moontlik te maak, maar dit verg talle rolspelers om die konsepte met mekaar te laat praat.

Faragher het ook, soos Carden, gesê dat Durban se stormwaterstelsels ander stede, insluitende Kaapstad, jaloers gemaak het. Puik idees. Hoe het dit dan skeef geloop?

Gewone mense word ook nie betrek by die oplossings nie. Eintlik moet almal, ook die inwoners, deel hê aan die oplossing. Plante laat die water stadiger vloei en gee die grond sodoende kans om water te absorbeer. Plante maak stede ook lekker plekke om in te bly.

Maar hoe verander ’n mens stede wat al lank bestaan?

’n Blougroen stad moet beplan word. Dit is moontlik, maar dan moet al die rolspelers saamwerk.

Die ingenieurs kan byvoorbeeld die skouers langs seker paaie verwyder. In plaas daarvan om die water dan in pype te kanaliseer, kan daardie water afloop in groen gebiede en moontlik by vleilande uitkom.

Gewone mense kan help.

  • In droë dele is ’n kommetjie in die stort ideaal om die toilet mee te spoel, maar die korrekte plante in jou tuin is ewe belangrik.
  • Hoe word reënwater in ons tuine benut?
  • Loop die geute van jou dak af na die tuin toe dat dit weer die grondwater kan aanvul?

Stede kan lekker wees om in te bly – veral as almal kan begin saamwerk en saamdink aan oplossings.

Julia McLachlan

(Foto verskaf)

Julia McLachlan is ’n landskapargitek. Sy het lank in Singapoer gewerk en was al betrokke by talle bekende projekte in groot stede. Vir haar PhD doen sy tans navorsing oor die beste manier om stormwater op ’n blougroen manier in ons stede te inkorporeer.

Vir haar is dit belangrik dat ons sal besef dat die mens en die natuur nie sonder mekaar kan leef nie. Stede is onnatuurlike stelsels met harde oppervlakke van waar water so gou as moontlik weggevoer moet word.

In die natuur word die wegvloei van water deur plante en ander natuurlike dinge soos klippe vertraag. So kan die grond die water opsuig wat weer plante, diere en insekte onderhou.

Wat meer is, plante en bome koel ruimtes af deur skaduwee te gee en die son se strale te absorbeer. Teer en beton, daarenteen, word warm en straal weer daardie hitte uit.

Die natuur is nie bloot oulik nie, dit is noodsaaklik, sê sy.

Sy moedig stede aan om die bestaande stormwaterpype te behou en te onderhou, maar om dan daarmee saam blougroen oplossings te skep.

(Skermgreep uit video)

Hierdie foto’s en sketse toon ’n projek waarin sy betrokke is. Durhamlaan in Soutrivier, Kaapstad, is ’n semi-industriële gebied met heelwat kantoorwerkers wat ook daar werk.

Hier het hulle die skouers van die pad weggeneem en bome geplant. Nou kan die stormwater eers in die bome se bakke inloop en dan oorvloei in die bestaande stormwaterpype. Nie net help dit met waterbeheer nie, dit skep ’n mooi beeld en koel die sypaadjie af.

(Skermgreep uit video)

By ’n ander projek, naby die historiese houtbrug wat na Woodbridge Island gaan, het hulle ’n tuin ontwerp om die water op te vang wat van die parkeerterrein na die rivier vloei.

Die kontrakteur het toe alles byna volgens die planne gedoen, behalwe dat hy aanvanklik die blombakke hoër gebou het as wat die planne aangedui het, en die water toe juis nie daar kon inloop nie, want dit is waaraan hy gewoond was. Ná hulle verduidelik het waarom die planne anders geteken is, is veranderings aangebring.

Dit is dus baie belangrik om fyn te kommunikeer en te verduidelik hoekom daar ander metodes gebruik word as dié waaraan ons jare lank gewoond is.

McLachlan sê hierdie “nuwe” metodes is eintlik nie nuut nie. Vir duisende jare reeds is sulke planne gemaak in stadspleine in lande soos Indië. Dit is dalk juis tyd dat ons weer terugkeer na die verlede en kyk hoe stede in die verlede ontwerp is.

Ewe belangrik sou wees om mense te laat inkoop en verstaan; en deels word dit moontlik deur mooi en bruikbare ruimtes te skep.

(Skermgreep uit video)

Hierdie tuin neffens ’n kantoorgebou is eintlik ’n stormwateropvangdam. Die gebou het orals tenks wat die reënwater opvang, maar sou dit oorloop, sal die water in hierdie tuin inloop van waar dit dan kan wegsyfer. Vir die gemiddelde kantoorwerker is dit egter ’n mooi omgewing om in te ontspan. Die tuin is dus funksioneel al reën dit nie.

McLachlan se droom is om talle sulke ruimtes te skep en dan mense aan te moedig om daar kos te verbou. Ongelukkig is die vraag dan onmiddellik: Onder wie se jurisdiksie gaan dit val en wie gaan daarvoor verantwoordelik wees?

Martin Knuijt

(Foto verskaf)

Martin Knuijt is ’n stigterslid van OKRA Landschapsarchitecten. Die firma se hoofkantoor is in Utrecht, Nederland. Hulle poog om mens en natuur, funksie en genot, alles met mekaar te laat saamwerk.

’n Besoek aan hulle webruimte gee ’n oorsig oor hoe hulle dié filosofie uitleef.

Knuijt werk ook in verskillende Afrikalande en hy doen baie om armer dele van Afrika veilig te maak.

Regdeur Afrika woon mense op vloedvlaktes wat in die winter oorstroom word en in die somer só warm en droog word dat brande uitbreek.

Dit is altyd die armes wat die meeste ly, se Knuijt.

(Skermgreep uit video)

Knuijt het onlangs ’n groot projek in Akkra gedoen waar ’n nuwe deel van die stad uitgelê is. Aangesien dit ’n nuwe uitbreiding was, kon hulle begin deur groen te dink. Die eerste stap was toe om die blou gebiede te merk, hulle te bewaar, en hulle volhoubaar te maak deur byvoorbeeld seker te maak dat kos verbou word op dele waar dit moontlik en wenslik is. Daaromheen is gemeenskappe toe gevestig.

In talle ander stede is dit moeiliker om só te werk, want daar bestaan reeds onder andere plakkerskampe. Knuijt was in Kaapstad op uitnodiging van die Nederlandse konsulaat en het begin met pogings om oplossings vir woonbuurte soos Khayelitsha te vind.

Knuijt wys daarop dat dit nie genoeg is om ’n groen strook te hê nie, want as dit nie benut word nie, sal mense gewoon daar gaan plak.

Sy voorstel was om skole te teiken as die begin van gemeenskapsprojekte wat die hele gemeenskap sal baat. Watertenks kan byvoorbeeld reënwater van die skool se dak aan inwoners beskikbaar stel.

Talle skole het groot oop stukke sandgrond om hulle. Daar kan groente vir die gemeenskap gekweek word – met die water wat van die dakke af kom.

’n Bestaande projek in Khayelitsha. Die persoon heel links hou die gemeenskapstuin in stand. (Skermgreep uit video)

Hierdie groentetuine moet iemand hê om hulle in stand te hou – en dit skep weer werk.

(Skermgreep vanaf www.okra.nl)

Soos wat sulke projekte traksie kry, kan van die geld wat ingesamel word, gebruik word om akwaboerderye op die mure van die skole te begin.

Ter opsomming

Om die natuur in ag te neem is nie bloot in idealistiese droom nie, dit is noodsaaklik binne ons stede.

Korrekte energiebenutting en plantbenutting (groen) saam met die onderhou van natuurlike waterbronne (blou) is moontlik en haalbaar – selfs ook in die armste dele van ons kontinent se stede.

Ryk en arm het een ding gemeen – hulle sal makliker deel word van ’n oplossing as die voordele voor die hand liggend is.

Die groot uitdaging is nog begrotings en veral die kompartemente waarin daar gewerk word – beide op nasionale vlak en op stadsvlak – ook die kompartemenge  waarbinne stede en nasionale departemente se beplanners werk.

Deur die blougroen konsep egter aan gewone mense – ryk en arm – sigbaar en positief te maak, is dit moontlik om inkoop te kry en moontlik selfs beleidsverandering wat van voetsoolvlak af aangevra word – nie bloot van bo af afgedwing word nie.

 

  • Die volgende gesprek oor hierdie onderwerp vind op 18 Mei 2022 plaas. Bywoning via YouTube of Facebook is gratis.
Lees ook:

#cocreateSANL: Die ontwerp van voedselsekerheid

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top