Talle Suid-Afrikaners is honger, maar daar is hoop.
In die tydperk September 2020 tot Desember 2020 was daar 9,34 miljoen Suid-Afrikaners wat nie geweet het of hulle genoeg kos sal hê om te eet nie. COVID-19 en die grendelregulasies het die reeds ongelyke situasie in die land verder vererger. Twee maal soveel kinders gaan deesdae honger slaap as in die tyd voor die pandemie die land getref het.
- Kan ons iets daaraan doen?
- Meer nog: Kan ons stelsels ontwerp om te sorg dat minder mense honger ly?
Dit was die groot vrae wat Woensdag 2 Junie tydens ’n webinaar gevra is. Die webinaar is aangebied deur #cocreateSANL en die Craft + Design Institute (CDI) in Kaapstad.
...
#cocreateSANL is ’n inisiatief van die Koninkryk van Nederland in Suid-Afrika. Die doel is om langtermynverbintenisse en -vennootskappe tussen Suid-Afrika en Nederland te skep. #cocreateSANL dien ook as ’n platform vir Suid-Afrikaanse en Nederlandse ondernemings om idees en innovasies uit te ruil vir ’n volhoubare toekoms.
...
Hande vat deur ontwerp
Die CDI is ’n maatskappy sonder winsbejag. Dit dien as ’n ontwikkelingsagentskap vir ambagte en beywer hulle om ontwerpvoorstelle aan te moedig deur bekwame mense te ontwikkel wat kreatiewe ondernemings kan bou om op plaaslike en internasionale markte handel te dryf.
#cocreateSANL is ’n inisiatief van die Koninkryk van Nederland in Suid-Afrika. Die doel is om langtermynverbintenisse en -vennootskappe tussen Suid-Afrika en Nederland te skep. #cocreateSANL dien ook as ’n platform vir Suid-Afrikaanse en Nederlandse ondernemings om idees en innovasies uit te ruil vir ’n volhoubare toekoms. Dit sluit ook kulturele vernuwing in.
Die CDI en #cocreateSANL bied tans ’n reeks maandelikse lesings aan om kennis uit te ruil oor Suid-Afrika se grootste COVID-19-verwante uitdagings. Dit word in Engels aangebied en staan bekend as die 2021 Creative Exchange-reeks.
Vanjaar se reeks bou voort op die #cocreateONTWERPFEES wat sedert 2018 elke jaar deur die CDI en die Nederlandse konsulaat-generaal in Kaapstad aangebied word.
In September 2021 sal daar weer ’n #cocreateONTWERPFEES wees, maar Covid het gemaak dat alles herbedink en herontwerp moes word. Die fokus van die 2021-Creative Exchange-reeks, wat sal oploop na ’n eiesoortige #cocreateONTWERPFEES, val dus op kreatiewe oplossings om diegene te help wat deur COVID-19 nog kwesbaarder gelaat is as te vore.
Die vier fokuspunte van hierdie jaar se aktiwiteite is:
- Toegang tot veilige water en sanitasie.
- Toegang tot gesondheidsorg.
- Toegang tot ’n veerkragtige ekonomie.
- Toegang tot voedsel- en voedselsekerheid.
Sebastiaan Messerschmidt, die konsul-generaal by die Nederlandse konsulaat-generaal in Kaapstad, staan persoonlik aan die hoof van #cocreateSANL en alles wat daarmee gepaardgaan.
Op die tafel, 2 Junie 2021
Die Verenigde Nasies het 17 doelwitte vir volhoubare ontwikkeling. Nommer 2 is “Zero honger” en nommer 11 is “Volhoubare stede en gemeenskappe”.
Die gesprek van Woensdag 2 Junie 2021 het gefokus op nommers 2 en 11. Die vraag is gevra: Hoe kan ons aan nuwe ontwerpe dink om dié twee kwessies aan te spreek?
Die sprekers was Gareth Haysom, ’n navorsers aan die Afrikasentrum vir stede aan die Universiteit Kaapstad, Miles Kubheka, ’n entrepreneur en raadslid van die maatskappy SA Harvest, en Gill Cullinan, die operasionele uitvoerende beampte van die Wes-Kaapse ekonomiese-ontwikkelingsvennootskap.
Die praatjie se titel was “Op die tafel, die ontwerp van oplossings vir voedselsekerheid in Suid-Afrika”.
Die bekende mediapersoonlikheid Africa Melane het die gesprek gelei.
Melane het ook spreekwoordelik die tafel gedek deur te vertel dat hy in Gugulethu grootgeword het, ’n bitter arm woonbuurt in die Kaap waar baie mense honger gaan slaap. Aan die ander kant van die pad, die M7, lê Philippi, een van die vrugbaarste landbougebiede in Suid-Afrika. Daar word die meeste groente gekweek wat deur supermarkte in Kaapstad verkoop word.
Iets is iewers verkeerd, sê hy, en ons moet uitvind wat dit is.
...
Melane het ook spreekwoordelik die tafel gedek deur te vertel dat hy in Gugulethu grootgeword het, ’n bitter arm woonbuurt in die Kaap waar baie mense honger gaan slaap. Aan die ander kant van die pad, die M7, lê Philippi, een van die vrugbaarste landbougebiede in Suid-Afrika. Daar word die meeste groente gekweek wat deur supermarkte in Kaapstad verkoop word.
...
Gareth Haysom
Gareth Haysom sê as ons die toekoms van Afrika se voedselsekerheid wil verander, moet ons kyk na stede. Daar is twee redes daarvoor. Histories is stede ontwerp om werkers afhanklik te maak van groot industrieë, en in Afrika se toekoms gaan nog meer mense na stede stroom om hulle drome te probeer najaag.
In die 1860’s het groot dele van Suid-Afrika se bevolking nog agraries geleef; hulle het in landelike gebiede gebly en het kos verbou vir hul eie gesinne en om te verkoop of te verruil vir produkte wat hulle nie self kon verbou of maak nie.
Ná goud en diamante ontdek is, het die mynmaatskappye die regering versoek om swart mense te dwing om hulself beskikbaar te stel vir goedkoop arbeid.
In 1894 is die Glen Grey-wet deur Cecil John Rhodes onderteken. Dit het grondbesit beperk tot “reservate”, maar belangriker nog: Elke grondeienaar moes ’n grondbelasting van 10 sjielings per jaar betaal – tensy hulle kon bewys dat hulle vir ’n minimum van drie maande per jaar buite die “reservaat” gewerk het.
Dit was die begin van trekarbeid in Suid-Afrika.
Die Wet op Naturrellengrond van 1913 het die probleem vererger.
In die jare ‘50 het grootskaalse kommersiële landbou in Suid-Afrika posgevat wat gepaard gegaan het met die gebruik van middele soos kunsmis en grootmaatbesproeiing, elektrisiteit en diesel wat van buite die plaas moes kom. Dié boere kon dan weer op ’n baie groot skaal produkte lewer vir die groeiende stede – ver, dus, van waar die produkte verbou is.
In die jarige ‘70 het die supermarkindustrie begin. Dit het beteken dat voedselverkopers op groot skaal produkte ingekoop het om pryse laag te hou. Hulle kon dan meeding met kleiner besighede deur hoër omsette en kleiner winsgrense na te jaag.
Die supermarkindustrie het in die jare ‘80 ook ’n omwenteling laat gebeur in die manier waarop produkte aangekoop en in winkels verkoop word. Die plaaslike varsproduktemark was nie meer die belangrikste kern van die voorsieningsketting nie.
Die jare ‘90 het groot omwentelinge getoon in die subsidiestelsel wat onder apartheid aan kommersiële boere bystand verleen het, en privatisering het die Nasionale Party se beleid van staatsondersteuning begin vervang.
Die supermarkkettings was van toe af koning – hulle het die koopkrag om pryse af te dwing en die vermoë om ’n enorme aantal produkte aan verbruikers te bied. Alles goed en wel vir diegene wat dit kan bekostig, en veral vir diegene wat in die goeie woonbuurte bly waar daar wel groot supermarkte is, maar wat van al die ander wat nie so gelukkig is nie?
Teen 2020 het 67% van ons land se bevolking in stedelike gebiede gewoon. Die meeste stedelike mense kan nie meer vir hulself kos produseer nie en moet dus kontant hê om kos vir hulle gesinne te voorsien. Nie almal het werk nie en Covid, met inperking wat daarmee saam gaan, het dit vererger.
In Mei en Junie 2020, toe talle besighede nie hulle werkers in diens kon hou nie, het 22% van Suid-Afrikaanse gesinne honger gaan slaap, terwyl 47% van Suid-Afrikaanse gesinne nie meer geld oorgehad het vir kos teen die einde van die maand nie. Dit het effens verbeter soos wat besighede weer toegelaat is om te begin opereer. In Januarie en Februarie 2021 het “net” 17% gesinne honger gaan slaap en “slegs” 39% se geld was teen die einde van die maand op.
...
Suid-Afrika se huishoudings het baie skuld. Selfs in die hoogste inkomstekategorie ly mense soms honger.
...
Suid-Afrika se huishoudings het baie skuld. Selfs in die hoogste inkomstekategorie ly mense soms honger.
Ons land se inkomsteverspreiding word in vyf kwintiele verdeel. Selfs in die heel hoogste kwintiel het is daar gesinne wat nie elke maand genoeg kos in die huis het nie. Hierdie tabel se syfers is reeds voor Covid (naamlik in 2013) nagevors. Dit kyk na mense in Kaapstad.
Kwintiele*
|
1 |
2 |
3 |
4 |
5 |
Het nie voedselsekerheid nie |
91,7% |
78,3% |
67,3% |
33,8% |
7,1% |
(*Wat die kwintiele beteken: 1 = laagste 20% itv inkomste; 5 = hoogste 20% itv inkomste)
Haysom sê ons stelsel is sedert die ontdekking van goud en diamante ontwerp om ongelykheid aan te moedig. Dit is tyd om aktief te begin ontwerp aan ’n doelwit om kos by mense te kry.
Daar is genoeg kos. Die kos bereik gewoon nie die armste deel van ons bevolking nie. In wêreldstede soos Amsterdam, Londen, Oakland en Vancouver is daar rade wat seker maak dat mense gevoed word. Dit is hulle werk.
- Waarom het ons in Suid-Afrika nie sulke rade in ons stede nie?
- Waarom is daar in ons kabinet nie ’n departement vir voedselsekerheid nie?
- Waarom word daar nie in ons stede aandag gegee aan infrastruktuur wat kos weer van die plaas na die verbruiker kan kry nie?
Miles Kubheka
Miles Kubheka is eintlik bekend weens ’n fiktiewe persoon.
Kubheka het die TV-advertensie gesien van Vuyo in die Hansa Pilsner-advertensie; Vuyo was die kêrel wat ’n boereworskraampie in ’n enorme maatskappy ontwikkel het.
Kubheka was gefassineer daardeur. Waar kom dit vandaan? Is dit waar?
Nee, dit was fiksie, maar Kubheka het die naam geregistreer en in boereworsrolle begin handel dryf.
Kyk gerus na sy storie.
Vuyo’s was egter nie die enigste stukkie fiksie wat hy laat waar word het nie.
Nadat hy sy seun geneem het om die Black Panther te sien, het Kubheka besluit om in die gees van Wakanda, die fiktiewe Afrikaland, honger in die townships te begin beveg.
Hy het uiteindelik die Wakanda Food Accelerator Programme begin.
Kubheka doen egter meer as om fiksie in die werklikheid te probeer omskep. Hy is ook ’n direkteur van SA Harvest, ’n maatskappy wat kos wat naby die vervaldatum is, by supermarkte te gaan haal en aan honger mense te herversprei.
Die probleem, sê Kubheka, is dat die strukturele ongelykhede tot allerlei probleme lei wat niks met kos te doen het, maar wat ’n impak op kosvoorsiening het.
- Tydens die groot brand op Tafelberg waartydens dele van die Universiteit Kaapstad vernietig is, het SA Harvest ook hulp aangebied – maar daar was reeds ’n oorvloed kos toe hulle hul skenking wou neem.
- Gaan egter township toe – daar is byna daagliks sinkhokkies wat uitbrand. Niemand samel kos in vir mense wat hulle huise gereeld verloor nie.
- Wat meer is: Die armste mense het nie toegang tot elektrisiteit nie. Hulle moet kerse brand vir lig en vuur maak om kos te maak of om warm te bly. Dit is juis in die huisies van sink en hout wat met karton uitgevoer is teen die koue. ’n Bose kringloop, dus.
Voeg daarby bestaande honger.
...
’n Deel van Kubheka se passie is dus om almal wat aan armoedeverligting meedoen, met mekaar te laat praat om seker te maak dat hulpbronne versprei word.
...
’n Deel van Kubheka se passie is dus om almal wat aan armoedeverligting meedoen, met mekaar te laat praat om seker te maak dat hulpbronne versprei word. Hy het, saam met ander, ’n databasis ontwerp waarop mense kan invul wat hulle waar doen. Op hierdie manier word skaars hulpbronne beter aangewend.
Daar is meer. Hy werk saam met ontwerpers om met nuwe oplossings vorendag te kom. Só is die draagbare slaapsak ontwerp – ’n jas wat netjies genoeg is om al op loopplanke gesien te kon word, wat in die nag in ’n slaapsak kan verander. So hoef hawelose mense nie hulle kosbare beddegoed iewers te probeer wegsteek waar dit weer gesteel gaan word nie. Hulle kan dit sonder moeite saamdra.
Kubheka werk ook aan ander projekte om menswaardigheid te verhoog. Hy sou graag wou sien dat sopkombuise vriendeliker omgewings word vir hulle kliënte. Daar is baie te leer by die restaurantbedryf oor hoe om mense te bedien op maniere wat hulle sal laat goed voel oor hulself. Baie straatmense sou ook graag wou stort voor hulle aansit vir ’n maaltyd. Daar is klaarblyklik nou ook maatskappye wat die konsep van “Shower to the people”, wat skynbaar rondom ’n voedingskema ontstaan het, hier in Suid-Afrika probeer steun.
Lees meer:
Dit is alles maniere om nuut te dink oor wyses waarop arm mense hul menswaardigheid gegun kan word, sê Kubheka.
Gill Cullinan
Gill Cullinan, van die Wes-Kaapse ekonomiese-ontwikkelingsvennootskap (EDP), het verduidelik hoe en waarom die provinsie gedurende die Covid-inperkings digitale bewyse gebruik het.
Daar was ’n loodsprojek in Ceres wat goed gewerk het en die provinsie het dit van daar na ander gemeenskappe geneem.
Maar waarom nie gewoon kos verskaf nie?
Cullinan sê kospakkies word gesteel en kom dikwels nie by die mense uit wat dit nodig het nie.
Die elektroniese bewys kan direk aan die begunstigdes gestuur word – daar is nie ander partye by betrokke nie.
Verder gee ’n bewys die verbruiker keuses. Dit is byna soos kontant – die kliënt kan dus besluit wat om vir hulle huishouding te koop, maar aangesien dit nie geld is nie, moet dit spandeer word op voorafgekeurde produkte wat mense sal voed.
...
In hierdie geval was die begunstigdes sopkombuise wat talle mense van kos voorsien het gedurende inperking. Die kliënte was dus nie individue nie, maar mense wat reeds bewys het dat hulle armsorg doen.
...
In hierdie geval was die begunstigdes sopkombuise wat talle mense van kos voorsien het gedurende inperking. Die kliënte was dus nie individue nie, maar mense wat reeds bewys het dat hulle armsorg doen. Die EDP het met die Stad Kaapstad en met die DG Murray-trust saamgewerk om te verseker dat die korrekte sopkombuise begunstig word. ’n Privaat skenker het toe geld geskenk wat aan die sopkombuise gestuur is in die vorm van elektroniese bewyse. Die DG Murray-trust het die bewyse gestuur en het gehelp om die projek te monitor. Die EDP het ook die projek gemonitor. Só is die kanse op moontlike misbruik verminder én is belangrike lesse geleer.
Die eerste ronde was ’n direkte respons op mense wat honger was gedurende die eerste inperking, dus kon die koopbewyse toe net by Shoprite ingeruil word, aangesien Shoprite ’n stelsel gehad het wat vinnig kon voorsiening maak vir sopkombuise om die nodige te kry. Vir die tweede ronde is die projek egter uitgebrei om te verseker dat sopkombuise ook by spazawinkels in die townships kon koop.
Cullinan het afgesluit met ’n paar wenke aan diegene wat sulke projekte wil aanpak.
- Maak seker die produk is gebruikersvriendelik. Goeie tegnologie help nie as die eindverbruiker sukkel nie.
- Kommunikeer met al die rolspelers. Dit is die belangrikste deel van die hele projek – voor die tyd, veral tydens, en selfs ná die tyd. Nie net leer ’n mens baie nie, jy kan ook probleme oplos en voorkom deur gereelde en doelgerigte kommunikasie.
- Ondersoek risiko’s vooraf, kommunikeer dit aan moontlike kliënte en maak seker hulle verstaan die risiko’s en is bereid om hulle te aanvaar.
- Maak seker jou proses kan by veranderende omstandighede aanpas.
- Maak seker dat jy die konteks verstaan waarbinne jy help. Om in die kantoor te sit help nie. Gaan na die plekke waar elke kliënt werk om te verstaan waarmee hulle te kampe het.
- Maak seker dat die mense wat die bewyse kry, keuses het. Bemagtig hulle om te besluit wat hulle nodig het.
- Gee erkenning aan die groot werk wat die mense op grondvlak doen; maak dan ook seker dat jou intervensie nie onnodig baie tyd van hulle verg nie. Moet veral nie onnodige lang verslae en tydrowende rompslomp van hulle verwag nie.
Afsluiting
Sebastian Messerschmidt het na afloop van die gesprek sakelui en moontlike vennote genooi om deel te word van #cocreateSANL.
Daar is ook binnekort ’n opwindende geleentheid vir maatskappye wat met Nederland wil handel dryf. Die konsulaat gaan ’n geleentheid skep vir maatskappye om deel te neem aan ’n aanlyn geleentheid waar Suid-Afrikaanse maatskappye Nederlandse kliënte en moontlike vennote kan ontmoet.
Hy het belangstellendes genooi om die konsulaat te kontak om te kan deelneem.