Die Koninkryk van die Nederlande en ’n aantal Suid-Afrikaanse organisasies het in 2018 weer hande gevat om digkuns oor taalgrense heen aan te bied in Kaapstad.
Onder die vaandel #cocreatePOETICA is 21 verskillende poësiegeleenthede tydens die jaarlikse Open Book Festival aangebied. Moeite is gedoen om veeltaligheid en kultuur onder die loep te neem.
Die inisiatief #cocreatePOETICA word ondersteun deur die Nederlande se program #cocreateSA, ’n uitgebreide program waarby die Nederlandse ambassade en konsulaat baie nou betrokke is.
Die laaste geleentheid van #cocreatePOETICA op Sondag 9 September, wat ook die afsluiting van die fees was, was genoem Wisdoms of Water. Die geleentheid is aangebied deur InZync Poetry, wat in Stellenbosch gebaseer is, en moontlik gemaak deur #cocreateSA en die Koninkryk van die Nederlande. Op die verhoog is Engels, Afrikaans, Nederlands en Zoeloe gepraat.
InZync is die breinkind van ’n groep studente van Stellenbosch wat mekaar oor taalgrense heen in die digkuns wou vind. Dit word bedryf onder die vaandel SLiP (Stellenbosch Literary Project) en ondersteun deur die Departement Engels aan Stellenbosch-universiteit. InZync staan bekend as “die plek waar digkunste ontmoet” en doen reeds jare lank wonderlike werk om polarisering oor taal- en rasgrense te help verhoed.
Heelwat van die gedigte wat Sondagaand voorgedra is, was nuut, want die digters het drie dae lank saam deur Kaapstad getoer om oor die wyshede van water te gesels.
In Nederland is water ’n konstante gevaar, veral met seevlakke wat altyd styg. In Suid-Afrika is daar ’n kroniese tekort aan water en Kaapstad is in 2017 en 2018 deur ’n versengende droogte gekniehalter.
Wisdoms of Water is in die Fugard Teater aangebied.
DJ Deco het die geleentheid geopen.
Adrian “Diff” van Wyk was die seremoniemeerster. Diff is ’n bekende digter wat al op 17 sy eerste slam gewen het. Deesdae is hy betrokke by die oplei van nuwe digters.
Diff het ook die eerste voordrag gelewer, terwyl Jethro Louw hom op die boog begelei. Om ’n boog te speel, is deel van die oergeskiedenis van Suid-Afrika se eerste nasies.
Tshiamo Malatji van Bloemfontein was volgende. Hy het in Engels en Afrikaans gedig.
Babs Gons is van Nederland, waar sy as skrywer, teaterbestuurder en onderwyser werk. Sy behoort aan De Vurige Harten Club en Club Spoken wat albei die gesproke woord bevorder. Die Nederlandse Stigting vir Literatuur het haar reis na Suid-Afrika geborg.
Allison-Claire Hoskins is nou betrokke by InZync.
Hoskins se voordrag is begelei deur Kagiso op kitaar.
Twee lede van die die Khoi Khonnexion, Glen Arendse op boog en Jethro Louw, het toe opgetree.
Louw het voorgedra.
Ivan Words is ’n talentvolle digter en akteur. In 2016 het hy die House of Poets Poetry Slam in Rotterdam gewen. Sy ouers is van Suriname, maar hulle het oor die water na Nederland verhuis. So het water hom afgesny van sy moedertaal, want in Nederland wou sy ouers hom laat inpas en het dus slegs Nederlands met hom gepraat.
Kwazi Ndlangisa het pragtige gedigte in Zoeloe gelewer.
Jolyn Phillips is ’n bekende Kaapse digter en het onlangs ook as sanger ontpop.
Quaz Roodt was volgende op die verhoog.
Vangile Gantsho. Sy en Toni Stuart het saamgewerk.
Toni Stuart is deesdae internasionaal bekend en tree gereeld in Europa en Engeland op.
Pieter Odendaal en Jolyn Phillips het daarna saamgewerk. Pieter het aanvanklik voorgedra terwyl Jolyn hom op die kitaar begelei. Pieter Odendaal is die uitvoerende direkteur van InZync. Sy PhD van die Queensland University of Technology in Brisbane het gehandel oor die manier waarop die gesproke woord verdraagsaamheid kan bewerkstellig.
Pieter het daarna agter die klavier ingeskuif om Jolyn te begelei. Verskeie mense, selfs Toni Stuart wat hulle al baie hoor optree het, was gaande oor Sondagaand se optrede. Dit was ’n gepaste afsluiting van Wisdoms of Water.
Die digters word toegejuig.
Ná die tyd het die Nederlandse konsul almal in die gehoor genooi vir drankies en springmielies.
Teatergangers kon toe informeel met die digters gesels.
Boeke is geteken.
Die Nederlandse konsul-generaal, Sebastiaan Messerschmidt, het tydens ’n kort toespraak hulde gebring aan Bonnie Horbach, sy voorganger. Horbach het geweldig hard gewerk om #cocreateSA ’n sukses te maak. Messerschmidt het beloof om voort te bou op haar werk. (Horbach is nou die nuwe Nederlandse ambassadeur in Litoue.)
Open Book is ’n fees wat beslis ondersteun kan word. Die digter Alfred Schaffer was ook Sondagaand in die gehoor. Meer as 10 000 mense woon jaarliks vertonings by en ’n deel van die inkomste word geskenk om leesprojekte in Gugulethu te bewerkstellig. Onder die vaandel van #cocreatePOETRY het verskeie ander groot name ook in 2018 opgetree. Hier is enkeles van hulle: Athena Farrokhzad, Roseline Ella Mesma, Gabeba Baderoon, Sindiswa Busuku-Mathese, Phillippa Yaa de Villiers, Roché Kester, Puleng Lange-Stewart, Mbongeni Nomkonwana, Megan Ross en Lwanda Sindaphi.
Mervyn Sloman, die eienaar van The Book Lounge, was een van die stigterslede van die Open Book Festival.
Buro: MvH