Cordis Trust se Orde van die Goue Pen 2022: ’n onderhoud met Johan Allers

  • 0

Johan Allers (foto: verskaf)

Johan Allers is vanjaar met die Cordis Trust se Orde van die Goue Pen bekroon. Hy praat uit Nederland met Naomi Meyer oor sy pad met Afrikaans.

Johan, baie geluk met die Orde van die Goue Pen wat deur die Cordis Trust aan jou toegeken is. Kom ons begin voor: Jy vertel dat een van die belangrikste dinge van jou kleintyd af stories was. Waar het jy grootgeword, wat het jy studeer, wat wou jy word?

Ek is die jongste van vyf kinders en het in die dorpie Edenvale aan die Oos-Rand van Gauteng groot geword. Tydens my laerskooldae en weens gesinsarmoede het ek vir ’n tyd lank by ’n oom en tante in ’n klein myndorpie aan die grens van Limpopo grootgeword. Dit was ’n hartseer maar ook ’n gelukkige tyd. Ek onthou nog die ou oom wat ons elke dag met ’n donkiekar skool toe gevat het. Daar was net twee klaskamers, een vir die kleintjies en een vir die groter kinders. Ons het in die veld gespeel, berg geklim, wegkruipertjie in grotte gespeel en saam met die klonkies in die rivier geswem. Sommige aande kon jy die gesang van die swart mynwerkers in die nabygeleë woongebiede hoor.

My pa, kortbroek, veldskoene sonder kouse en hoed op sy kop, was ’n groot storieverteller. Hy was ’n vurige Afrikaner-nasionalis wat die Engelse gehaat het en soms na homself en sy familie as die laaste uitwerpsels van die Groot Depressie verwys het. Ons was die trotse afstammelinge van die Voortrekkers en die gelofte wat in 1838 te Bloedrivier afgelê is. God se uitverkore volk. Die Anglo-Boereoorlog en die konsentrasiekampe waar duisende vrouens en kinders gesterf het, het die Engelse ons vyand gemaak – nie die swart man nie. Aan ons is gegee die opdrag van God om die swart volke van Suid-Afrika na die beskawing te lei. Hierdie Godgegewe taak was ’n dubbelsnydende swaard, want ons moes ook hard leer en werk om die bedreiging van die swart gevaar af te weer.

My liefde vir taal het ek van my pa se stories, sy gebeitelde woordgebruik en die oordrewe dramatiese en meesal komiese verhale wat hy vertel het. Voeg hieraan toe ’n klein transistorradio wat altyd op die kombuistafel gestaan het. Ek was ’n kind van Springbokradio, en die stemme wat die kombuis gevul het, het my betower en ander wêrelde vir my oopgemaak. Ek het toe al daarvan gedroom om eendag ’n omroeper te word.

............
My liefde vir taal het ek van my pa se stories, sy gebeitelde woordgebruik en die oordrewe dramatiese en meesal komiese verhale wat hy vertel het. Voeg hieraan toe ’n klein transistorradio wat altyd op die kombuistafel gestaan het. Ek was ’n kind van Springbokradio, en die stemme wat die kombuis gevul het, het my betower en ander wêrelde vir my oopgemaak.
............

Ek het Afrikaans-Nederlands en politieke wetenskappe op die Randse Afrikaanse Universiteit gestudeer. Op agtien was ek kind-alleen in ’n R36-per-maand-enkelkamerwoonstel in Hillbrow. Die familie het intussen na Grootfontein in die ou Suidwes-Afrika (Namibië) verhuis. Geldnood het hy my uiteindelik gedwing om my studies vroegtydig stop te sit en het ek wonder bo wonder daarin geslaag om die destydse nuusredakteur van Die Transvaler, Dave Viljoen, te oorreed om my as junior joernalis by die koerant aan te stel. Dave Viljoen het die deure na die nuuswêreld vir my oopgemaak. In later jare het ek onder die redakteurskap van Wimpie de Klerk (broer van oudpresident FW de Klerk) vir Rapport gewerk en uiteindelik by die SAUK se nuusafdeling beland. My loopbaan by die SAUK het teen ’n vinnige tempo gegroei. Ek het al gou saam met bekende figure uit die tyd, mense soos Christopher Dingle, Carole Charlewood en John Bishop gewerk. Na drie jaar by die SAUK is my werk met ’n eerste Artes-nominasie beloon.  

 

Jy vertel dat jy aanvanklik by die SAUK begin werk het, en vertel een televisiestorie wat jy oor huiswerkers se omstandighede gemaak het maar wat nooit uitgesaai is nie. In die apartheidsjare was alle stories nie daar om te vertel nie. Of hoe? Miskien kan jy ’n storie uit jou jong dae uitlig wat vir jou spesiaal was en wel uitgesaai of gepubliseer is? En ook meer vertel van die verhaal van huiswerkers – die een wat nooit uitgesaai is nie.

Die vryheid van die media is altyd onderworpe aan die eienaarskap van die media. Die ou Suid-Afrika het in die greep van sensuur gefunksioneer. Ons het in ’n dig-getimmerde laer opgegroei. Ons onderwys het ons nie geleer om kritiese vrae te stel nie of om krities te dink nie. Ons denke en wêreldbeskouing was ons met ’n paplepel die keel afgeforseer. Onkennis het die trop bymekaar gehou. Natuurlik was die stories daar – ons het dit net nie vertel nie.

.............
Die vryheid van die media is altyd onderworpe aan die eienaarskap van die media. Die ou Suid-Afrika het in die greep van sensuur gefunksioneer. Ons het in ’n dig-getimmerde laer opgegroei. Ons onderwys het ons nie geleer om kritiese vrae te stel nie of om krities te dink nie. Ons denke en wêreldbeskouing was ons met ’n paplepel die keel afgeforseer. Onkennis het die trop bymekaar gehou. Natuurlik was die stories daar – ons het dit net nie vertel nie.
...............

Dit was ook nie  noodwendig ’n moedswillige nievertel van die storie nie. Ons was produkte van wit dorpe, wit skole, wit kerke en mense en rasse wat in absolute terme ruimtelik van mekaar geskei was. Ons het nie die wêreld van die ander gesien en/of op welke maniere ooit beleef nie. Wat dit betref, het ek nogal empatie met baie Duitsers (die gewone volk) wat sê “Wir haben es nicht gewusst.” Dit beteken nie dat (veral) joernaliste nie die waarheid moet verken of ontbloot nie. Staatsensuur was egter ’n onverbiddelike instrument en het ’n kultuur van bewuste en onbewuste selfsensuur geskep. Buite die akademiese en politieke diskoers rondom apartheid, netjies verpak in woorde soos “die reg op selfontplooiing en selfbeskikking”, het ons nooit die menslike verhale, die stories van gewone mense, die slagoffers van die sisteem, gehoor en/of vertel nie.

Jy vra oor ’n televisiestorie wat ek vir die SAUK oor huiswerkers se omstandighede gemaak het.

In die vroeë tagtigerjare publiseer die sosioloog Jacklyn Cock Maids and madams: Domestic workers under apartheid. Met haar studie deurbreek sy die mite (onder wittes) dat die swart huishoudster in die kombuis deel van ons familie” is.

Ons is baie lief vir Sara. Sara is baie lief vir die kinders. Sara gaan op vakansie saam met ons. Sara is soos familie.

Maids and madams het my onkennis deurbreek. Hierdie was ’n storie oor mense, hul harte en hul psige. Dit was ’n skok vir my om te ontdek dat die vriendelike swart vrou in die kombuis haar in geen enkele opsig as deel van die betrokke wit familie beskou nie Die teendeel is waar. Huishoudsters het met wantroue, argwaan, wrok en antipatie na hul madam gekyk en hulself nooit as deel van die familie gevoel nie. Tydens die maak van die program het ek tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Dit was ook die eerste keer in my toe nog prille loopbaan (en lewe) dat ek werklik met my swart medeburgers gepraat het.

“I can no longer ask how it feels  / To be choked by a yoke-rope / Because I have seen it for myself in the chained ox. / The blindness has left my eyes. / I have become aware, / I have seen the making of a servant / In the young yoke-ox.” (Uit: The making of a servant and other poems deur JJR Jolobe; aangehaal in Maids and madams)

Uiteraard was die program nooit uitgesaai nie. Gedurende die maak van die program het ek ook met die politikus en anti-apartheidsaktivis Helen Suzman gesels. Suzman het ’n beskuldigende vinger na my gewys. "As julle by die SAUK die werklikheid op julle skerms sal laat sien, sal die blankes van hierdie land baie vinnig hul rug teen hierdie onmenslike stelsel keer."

Baie jare later het ek op ’n dag met Xolisa Ndoyiya, Nelson Mandela se voormalige persoonlike sjef, gesels. Haar woorde het my terug gevat na Jacklyn Cock se Maids and madams. “Ek het vir jare lank vir ’n goeie blanke familie gewerk. Elke keer as ek die bediendekamer verlaat om in die groot huis te werk, het ek myself as ’n minderwaardige skepsel gesien. Wit mense in Suid-Afrika verstaan nie die psigiese pyn wat my mense voel nie.”

Die menslike gesig van apartheid was tot die laat tagtigerjare onbelig, ’n abstrakte iets sonder ’n gesig.

Johan Allers en Nelson Mandela (foto met erkenning aan die fotograaf Darin Campbell en met sy toestemming geplaas)

Jy praat oor die dag toe jy besef het jy moet weggaan, jou stories word verdraai om die regering se agenda te pas. Ek dink nou as volwassene hieroor na: Dis ’n groot skuif om te maak, ’n groot kopskuif. En dit het baie implikasies. Jy maak jou ongewild by jou mense in die land, jy offer ’n inkomste op. Wil jy daardie dag beskryf toe jy besef het jy moet gaan? Die tema van stories – ek bly daarby: Jy vertel van jou herinneringe aan die eerste halssnoermoord en wat jy gesien het. Dis die beelde wat mens nie gesien het nie. En jy vertel so roerend daarvan in jou video.

Ek was 28 jaar oud toe ek besluit het om weg te gaan. Jy is jonk, naïef en nog baie dom al glo of weet jy dit nie. Ek was ’n wannabe leftie wat nie geweet het wat dit beteken om ’n leftie te wees nie. Ek was ’n bewonderaar van Breyten Breytenbach (terwyl ek nie sy werk geken het nie) en was baie beïnvloed deur die sogenaamde Beat Generation. Ek het Allen Ginsberg se Howl, William S Burroughs se Naked lunch en Jack Kerouac se On the road gelees. Ek wou eintlik in die sestigerjare geleef het. Janis Joplin, The Rolling Stones, John Lennon, Leonard Cohen. Ek was idealisties en het geglo dat ons die wêreld kan verander. Ek het ’n paar swart vriende gehad en het byvoorbeeld  deelgeneem aan die begrafnisoptog van Neil Aggett. Die bomme het gebars. PW Botha se wysvinger het geswaai. Daar was spanning in die land.

Wat my veral gedurende hierdie tyd verbaas het, is dat gewone Afrikaners (my vriende en familie) nie werklik geweet het waaroor die stryd in Suid-Afrika gaan nie. Die Rooi Gevaar was die vyand. Om die kombuistafel het my mense, die gewone volk, dinge gesê soos “Hulle, die K-mense, wil die land vat en ons gee vir hulle skole en hulle brand dit af.” Die politieke onkunde van die gewone (wit) burger was verstommend. Mense ontken dit natuurlik vandag.

My eie politieke bewussyn het stadig gekiem.

Tydens die noodtoestand van 1985 het ek ’n vaag omskrewe opdrag van my SAUK-base gekry om ’n televisieprogram te maak oor geweld (terreur) as ’n politieke instrument. Die opdragbeskrywing het my verwys na internasionale terreurorganisasies soos die RAF (Red Army Faction, ook bekend as die Baader-Meinhof-bende), die PLO (Palestynse Bevrydingsbeweging), die Swart September-organisasie (BSO), ook ’n Palestynse militante organisasie, en die Baader-Meinhof-bende. Laaste op my lysie van terreurorganisasies was uiteraard die African National Congress.

So bevind ek myself te midde van die opstande en geweld in die land in die argiewe van die Suid-Afrikaanse Buro vir Staatsveiligheid (BOSS) waar ek onder streng toesig toegang kry tot (selektiewe) informasie, waaronder ANC-propagandamateriaal en selfs foto’s van Nelson Mandela. Onder toesig van die Geheime Diens voer ek onderhoude met askari’s, gevange ANC- en PAC-kaders wat as informante vir die Suid-Afrikaanse polisie gefunksioneer het.

In dieselfde tyd word die swart Suid-Afrikaanse vrou Maki Skosana deur ’n skare anti-apartheidsaktiviste wat haar as ’n informant verdink het, doodgebrand. Sover ek weet, was dit die eerste halssnoermoord wat op ’n televisiekamera opgeneem is. Haar gruwelike dood het die wêreld verstom en tekenend geword van die geweld van die anti-apartheidstryd. Hierdie beelde sou ’n onderdeel word van my televisieprogram oor geweld as politieke instrument. So beskryf ek dit in my eie memoir:

Ek sit in ’n dofverligte redigeersuite van die SAUK, omring deur stapels videobande. Buiten die girts-girtsgeluide van die videoband wat op en neer spoel, is dit doodstil. Jou brein werk teen ’n vinnige tempo en jou oë skandeer die beelde teen ’n spoed. Druk die knoppie. Stop. Druk die knoppie vinnig vorentoe. Druk die knoppie. Speel. Jy knyp jou oë toe. Jy skud jou kop en kyk weer. ’n Swaar klip tref haar kop. Sy steier in ’n dwaal vorentoe, agtertoe. Waansin in haar oë. Die kinders sing. Druk die knoppie en speel vinnig vorentoe. Die beelde stotter haar val, haar knieë wankel, die seun se grynslag drink bloed. Iemand swaai die swaar deur van die ateljee oop. ’n Silhoeët teen die lig. “Is jy nog besig met daai vrou?” Die deur slaan toe. Nou lek die vlamme aan haar liggaam. Sy kyk verdwaas. Jy druk die knoppie.

Ek het vir ure lank na hierdie beelde gekyk. My besluit om Suid-Afrika te verlaat was gebaseer op ongegronde maar werklike angsbeelde wat in dié tyd in my kop posgevat het. Ek was in privaat besit van ANC-propagandamateriaal wat ek onder my matras weggesteek het. Ek het saam met die “verkeerde” mense rondgehang. Ek het my eie paranoia geskep. My eie angs. My eie kwaad. Apartheid was lankal nie meer iets abstrak nie.

My televisieprogram het in die donker argiewe van die SAUK opgeëindig. My base was ontevrede en het my daarvan beskuldig dat ek “die ANC te sterk laat lyk”. Maande later sal ek van my redakteur te hore kry dat “daai program wat jy oor die ANC gemaak het, word vanaand uitgesaai”. ’n Dag later het die Suid-Afrikaanse Weermag ’n militêre  aanval op ’n ANC-kamp in Swaziland uitgevoer. Jy is ’n klein pion in ’n groot spel waarvan jy niks weet nie, het ’n vriend aan my gesê. Onmag voed kwaad. En angs. Ek wou weg. Jy kies nie die bestemming waarna jy vlug nie ... jy hardloop weg van die plek wat jy vrees. So het ek in Duitsland beland.

Dink jy baie (wit) mense wat nou sê apartheid is lankal verby en talle uitsprake maak van “destyds was dinge beter” ... Dink jy dinge sou anders wees as mense in Suid-Afrika meer stories kon gehoor en gesien het?

Ek dink dit is oneerlik om te sê dat apartheid lankal verby is. Dit is wel waar dat die grondwetlike strukture van apartheid nou iets van die verlede is. Die ekonomiese, ruimtelike en geestelike/psigiese mure van apartheid is ’n blywende erfenis. Dit ontken nie die wanhoop, woede en frustrasie van al die mense van die land wat blootgestel is aan die verskriklike verval, wanbestuur, korrupsie en gewelddadige misdaad in die land nie. Ons lewe steeds in aparte wêrelde – ekonomies, kultureel en sosiaal. Solank as wat ons nie in mekaar se kombuise kuier nie, sal ons mekaar nooit werklik leer ken nie. Objektief (en van buite gesien) het ek self nogal begrip vir die agitators aan die linkerkant van die politieke (ANC-) vleuel wat beweer dat die einde van apartheid ’n handelstransaksie was waarvan die enigste doel die behoud van die status quo was. Die bewerings dat die ANC, die wêreld se oudste bevrydingsorganisasie, sy siel verkoop het, het meriete. Ongeveer 55,5 persent (30,3 miljoen mense) van die bevolking leef in armoede terwyl ’n totaal van 13,8 miljoen mense (25 persent) voedselarmoede ervaar. Suid-Afrika se misdaadsyfers tel onder die hoogste ter wêreld en vergelyk sleg met die res van Afrika. Armoede, wys alle studies, is die vader van misdaad.

Ons moet onsself – ten minste as ons onsself Christene noem – in die skoene van die ander plaas. Ja, stories kan help, want ons moet na mekaar luister en mekaar se verhale aanhoor en respekteer. Dit is nie net ’n morele verpligting nie, maar ook ’n noodsaaklikheid vir oorlewing.

In ’n volgende afdeling van die YouTube-video praat jy oor hoe jou stories jou die wêreld vol laat reis het. Vir wie het jy jou stories geskryf of aan wie het jy dit verskaf? Dis stories wat jou toe weer teruggelok het na die nuwe SAUK. Want toe word jy genooi om weer vir die SAUK te werk, as buitelandse korrespondent. Wil jy iets daaroor vertel?

Eers moet ek wel vertel dat dit uiters moeilik is om ’n nuwe lewe in ’n vreemde land op te bou. Ek het in die verskriklike winter van 1986 in Hamburg in die noorde van Duitsland gearriveer. Twee pare sykouse onder jou dun Suid-Afrikaanse broek beskerm jou teen die koue. My eerste werk in Duitsland was dié van ’n chauffeur. Ek het ook later as ’n vertaler vir ’n klein besigheid gewerk. Die noodsaak om te oorleef dryf kompromisse en ek het uiteindelik vryskutwerk vir die SAUK se radioprogramme Monitor en Spitstyd gedoen. My werk was uitsluitlik gerig op Europese nuusgebeure. Dit het nie lank geduur vir allerlei SAUK-televisieprogram-vervaardigers om my te vra om televisie-items te vervaardig nie. Ek het na alles ’n eerste Artes-nominasie op my kerfstok gehad en was bekend onder ’n hele klomp televisievervaardigers in Suid-Afrika. So het my reise deur Europa en uiteindelik die res van die wêreld begin. Teen 1994 was ek ’n gevestigde naam in die Suid-Afrikaanse mediasfeer met ’n derde Artes-nominasie op my kerfstok en toe al bekend as “ons man in die buiteland”. In dieselfde jaar het die SABC se nuwe nuusredakteur, Allister Sparks, my ’n kontrak aangebied om as vryskutjoernalis vir die uitsaaier se nuusafdeling te werk. Allister was in Amsterdam en ons het ’n nogal vurige debat gehad oor die rol van joernalistiek tydens tye van omwenteling en verandering. Dit was die begin van die gekste en mees opwindende tyd van my lewe. Vir die volgende tien jaar het ek deur 54 lande en tallose stede gereis, die  somtotaal van die nuwe Suid-Afrikaanse politieke elite en ’n menigte wêreldleiers ontmoet.

Jy vertel van die oorgangstye en hoe jy die nuwe ANC-regering as individue leer ken het. En dis tog besonders om mense as ménse te leer ken. Jy vertel hoe jy dit byna Bybels nagestreef het. Om ’n nuwe Reënboognasie te help bou. Jy skryf dat jy baie dinge geskryf het ter wille van die narratief. Maar daardie narratief moes vertel word, dan nie? Want dink jy nou: Is dit soos liefdesgedigte wat ’n tiener naïef skryf, of is dit ook noodsaaklike groei?

Ek is nou 65 jaar oud en skryf steeds naïewe liefdesgedigte. Baie van daai gedigte is ook steeds ter wille van die narratief. Ek probeer altyd om die groter prentjie te sien. Ek dink meer in terme van mense as individue eerder as in groepe waarin eiebelang die botoon voer. Die sukses of ten minste die groei/floreer van die geheel bepaal en beskerm die belang van die groep en/of die individu. In dié opsig is ek nogal ’n aanhanger van die filosofie van ubuntu. Ek herhaal die woorde van oudpresident Thabo Mbeki aan my tydens ’n konferensie in Montreux, Switserland. Hy het diep aan sy pyp gesuig. “Geen kind op aarde hoef sonder skoene skool toe gaan nie. Geen mens hoef honger te ly nie. Ons bevind ons op ’n tydstip in die ontwikkeling van die mens waar daar genoeg rykdom bestaan, genoeg kennis, intellektuele en kreatiewe kapitaal bestaan om daarvoor te sorg dat elkeen van ons ’n plekkie in die son kan kry. Wat ontbreek, is morele wil.”

..............
Ek het werklik geglo dat die koms van demokrasie die koms van ’n meer deernisvolle samelewing teweeg sal bring. Ek het nog altyd gedink dat die hart van die mens belangriker is as die kleur van sy vel en dat ons fisieke, kulturele en ander lewensbeskoulike verskille die geheel sterker, meer kleurvol en meer dinamies maak.
...............

Ek het werklik geglo dat die koms van demokrasie die koms van ’n meer deernisvolle samelewing teweeg sal bring. Ek het nog altyd gedink dat die hart van die mens belangriker is as die kleur van sy vel en dat ons fisieke, kulturele en ander lewensbeskoulike verskille die geheel sterker, meer kleurvol en meer dinamies maak. Dit is dan ook die narratief wat die leidraad was van my byna Bybelse nastrewe van en  hoop en geloof in dit was ons in dié tyd as die Reënboognasie beskryf het. In wese het hierdie narratief nog nie verander nie. Wat wel gegroei het, is teleurstelling en sinisme en die ondraaglike gedagte dat ons werklik Darwinistiese wesens is. Ons kan slegs deur hierdie diep ingewortelde wenner-en-verloorder-mentaliteit en -kultuur breek as ons na mekaar se stories luister.

Jy praat van momente wat uitstaan, nie noodwendig mense nie. Tog lig jy mense uit. Wil jy uitbrei op die momente wat vir jou betekenisvol in jou loopbaan was?

Daar is te veel betekenisvolle momente om te beskryf. Die val van die Berlynse Muur. Die ineenstorting van die Sowjetunie. Die val van apartheid. Die hervereniging van die twee Duitslande. Die brutale onttroning van Nicolae Ceaușescu. Die oorlog in Kosovo. Ek het baie van hierdie groot gebeure in brokkies en flardes gesien en stukkies daarvan beleef.

..............
Daar is te veel betekenisvolle momente om te beskryf. Die val van die Berlynse Muur. Die ineenstorting van die Sowjetunie. Die val van apartheid. Die hervereniging van die twee Duitslande. Die brutale onttroning van Nicolae Ceaușescu. Die oorlog in Kosovo. Ek het baie van hierdie groot gebeure in brokkies en flardes gesien en stukkies daarvan beleef.
................

Ek het op die Berlynse Muur gestaan op die dag toe die muur geval het. Ek het Moskou beleef in die tyd van perestroika en glasnost. Ek het deur die straatjies van verwoeste dorpies tussen uitgebrande huise in Kosovo gestap. Ek het op ’n Rooikruis-trein tussen Srebrenica in Bosnië en Herzegovina en Dresden in Oos-Duitsland tussen oorlogsvlugtelinge geslaap.

Ek het hande geskud met groot wêreldfigure en uiteraard byna die gehele nuwe Suid-Afrikaanse politieke elite van die tyd. Mandela, Mbeki, Zuma (meneer en mevrou), Blair, Athisaari, Kofi Anaan, Boutros Boutros-Ghali, Gorbatsjof , die Clintons, noem maar op. Ek was diep onder die indruk van mense soos Olara Otunnu, president van die Internasionale Vredesakademie in Kampala.

Ontroerende oomblikke. Die ontmoeting tussen Nelson Mandela en pous Johannes die Derde. Twee ou manne wat mekaar omhels. Die wit Suid-Afrikaanse moeders en vaders wat ambassadeur Ruth Mompati se hand styf vasklou terwyl reddingswerkers op soek is na die lyke van hul verdrinkte kinders in ’n rivier in Switserland. ’n Swart Suid-Afrikaanse banneling in Warskou in Pole wat my omhels en smeek om Afrikaans met hom te praat want dit herinner hom aan sy moederland. My ontmoeting met Muhammad Ali, die grootste bokser ooit in die wêreld, ’n gebroke skoenlapper waarvan die vlerke al lankal geknak was. Sy woorde “sweef soos ’n skoenlapper, steek soos ’n by”.

Ek het ook die voorreg gehad om baie destydse bannelinge te ontmoet wat hul stories met my gedeel het, onder wie Solile Magugu, die hoof van die ANC se hoofkantoor in Amsterdam. Na die val van apartheid sou ek ure lank informele gesprekke voer met byna al Suid-Afrika se hoofverteenwoordigers in Europa. Ek het ure lank in ’n sauna in Finland saam met Alfred Nzo (toe minister van buitelandse sake) gesit terwyl hy my sy storie vertel. Op ’n dag in Genève het een van Nelson Mandela se sekuriteitswagte my in die voorportaal van die Hilton Hotel op die skouer geklop. Die president het hom opdrag gegee om my en my kameraman, Darin Campbell, uit te nooi om saam met hom, die president, in sy hotelkamer tjoklits te eet. “Hier is te veel tjoklits – nooi die manne van die SABC uit om saam te kom eet.” Tydens die kuier het Mandela min vertel, maar wou hy alles oor my en familie weet. Daar is te veel betekenisvolle oomblikke in my loopbaan om te vertel.

’n Storie klink soos iets wat mens in ’n boek lees, iets wat mens veilig in ’n boekrak kan terugsit. Maar jy vertel van een van jou belewenisse waar jy gekonfronteer word met die menslike kondisie. Waar ’n ouma jou hand gryp as jy iets moet rapporteer. Mens is nog steeds ’n mens en betrokke by mense as jy ’n storie vertel. Dis maar wat ’n romansier ook moet doen. Jy kan tog nie ’n storie skryf as jy nie betrokke is by jou karakters nie. Hulle word vir jou wérklik. Hoe gemaak met almal oor wie jy stories geskryf het? Skuil hulle nog iewers in jou onbewuste en kruip hulle soms snags uit?

Ek dink elke storie skuil vir altyd in jou binnekant. Ek dink ook dat elke storie jou bewussyn laat groei en so ook jou identiteit en lewensbeskouing. Op die ou einde, dink ek, is jy die somtotaal van jou geskiedenis, jou intermenslike kontak en verhoudings en die kronkelpaaie wat ons almal deur die lewe loop.

............
Ek dink elke storie skuil vir altyd in jou binnekant. Ek dink ook dat elke storie jou bewussyn laat groei en so ook jou identiteit en lewensbeskouing. Op die ou einde, dink ek, is jy die somtotaal van jou geskiedenis, jou intermenslike kontak en verhoudings en die kronkelpaaie wat ons almal deur die lewe loop.
............

Die oumatjie op die vlugtelingtrein wat huilend jou hand gryp om jou haar verhaal te vertel is eintlik ’n spieëlbeeld van jouself en die wêreld waarin jy leef. Jy erken haar pyn (die soldate het haar man se geslagsdele afgekap) en jy begryp haar woede en haat. Haar verhaal is jou lewensles. Haar smart en woede vertel jou dat daar ’n dun draad tussen liefde en haat is. Sy waarsku oproerige politici om hul woorde en retoriek te weeg en vertel vir ons dat dit belangrik is om na mekaar te luister. Haar trane smeek om medemenslikheid en vertel ons wat gebeur wanneer mense blind word.

Ek het aan die voete van die skrywer Miriam Tlali gesit. Sy is die eerste swart vrou wat oor die lewensomstandighede van mense in Soweto geskryf het. Haar boek Between two worlds wat in 1975 verskyn het, was in Suid-Afrika verban. Sy het vir my kos gemaak in my huis in Amsterdam en die ironie van die swart vroutjie voor die stoof het ons (spottenderwys) nie ontgaan nie. Sy het my hand vasgehou terwyl ek soos ’n kind na my ouma geluister het. Miriam was ook ’n spieëlbeeld van myself. Ek herken haar in my eie  menslikheid en dié van haar.

Agter elke masker skuil daar ’n mens wat nie anders as jy is nie. Die beroemde filmregisseur Oliver Stone het eens gesê dat ’n goeie joernalis (of onderhoudvoerder) homself altyd in die skoene van die ander moet plaas. Dit vra om ’n stuk empatie en behoort eintlik ons vertrekpunt vir alles in die lewe te wees. Ek het vir langer as tien jaar deur die wêreld geswerf om na stories te luister. My denke, drome en ideale is deur hierdie stories gevorm en hervorm.

Vertel my van jou lewe nou, die jare in Nederland. Wat doen jy daar? Is dit a luta continua, gaan jou storie(s) voort?

Die stryd gaan inderdaad voort. Die dryfkrag en die motief is onveranderd. Getemper. Minder spiere. Meer gebreke. Soos die sanger Stef Bos eenkeer aan my gesê het: Ek veg al lankal nie meer téén dinge nie, maar vír dinge.

Ek is al vir 20 jaar weg van die Suid-Afrikaanse mediawêreld en het so ’n jaar terug begin om ’n kleinskaalse terugkeer te maak. Ek noem myself “gister se Hollywood” en het geen besondere ambisies om sogenaamde groot dinge te doen nie. Ek het vir jare lank in die Nederlandse mediabedryf gewerk, heelwat televisieprogramme gemaak, toevallig ’n onderwysvernuwingsprys gewen en werk steeds aan Nederlandse dokumentêre films. Daarnaas versorg en bied ek ’n weeklikse radioprogram aan wat op ’n aantal Suid-Afrikaanse plaaslike radiostasies uitgesaai word. Ek geniet dit baie en is byna elke dag weer in kontak met mense in Suid-Afrika met wie ek oor van alles en nog wat, kuns, kultuur en politiek gesels. Ek het ook pas my eie kamtig-kamtige memoires geskryf met die titel Kaalkop sonder ’n tuiste. Die boek bestaan uit ’n reeks kombuisverhaaltjies en staaltjies oor my omswerwinge as joernalis deur die wêreld. Ek is besig met ’n klankweergawe van die boek wat vanaf Oktober op Afrikaans.com gepubliseer word. Genoeg om ’n ou kaalkop besig te hou.

Wat beteken ’n toekenning soos hierdie een van die Cordis Trust vir jou? Dalk kan jy ook vertel hoe jy die toekoms sien, ten spyte van al sy onvoorspelbaarhede, uit die aard van wat die toekoms is. En waar pas Afrikaans vir jou in?

Die Cordis Trust-toekenning beteken alles vir my. Meer as erkenning vir my werk neem die toekenning my terug na die land en die taal van my hart. Selfs ná meer as 30 jaar in Europa is my murg soos dié van Hendrik Biebouw wat sê: “Ik ben een Afrikaander, al slaat die landdrost mijn dood, of al zetten hij mij in de tronk, ik zal, nog wil niet swijgen.”

Wat my eie toekoms betref, wil ek bly doen wat ek nogal altyd gedoen het en vir solank as my liggaam en verstand dit toelaat.

Die toekoms? Die toekoms sal die geskiedenis herhaal. Wat Suid-Afrika betref dink ek aan die woorde van Aleksandr Solzjenitsin. “Die maag,” sê hy, “is ’n ondankbare ellendeling; dit onthou nooit vorige gunste nie en wil môre altyd meer hê.” Iewers het ek ook gelees dat ’n miljard mense in die wêreld chronies honger is. Terselfdertyd is daar ook ’n miljard mense wat oorgewig is. Jongmense en die generasie wat nog kom, is meer bewus, en sal meer bewus wees – te danke aan digitale kommunikasie – van die ongeregtighede op aarde. Byna 60 persent van ons jongmense in Suid-Afrika is werkloos en sommige ekonome voorspel dat 90 persent van hierdie mense nooit in hul lewens deel van die formele sektor sal wees nie. Dit vat my onmiddellik na die advies van Albert Einstein wat gesê het dat ’n leë maag nie ’n goeie politieke adviseur is nie. Hoe ons vandag met hierdie bedreigings omgaan, sal in groot dele die toekoms en die karakter van Suid-Afrika bepaal.

.............
Afrikaans? Die taal is, wat my betref, gesond. Ons is lief vir die taal. Ons praat, skryf, dig en sing in die taal. Ons lees Afrikaanse koerante, kyk Afrikaanse televisie en maak liefde in Afrikaans. Afrikaans sal uiteindelik al sy openbare funksies verloor.
...............

Afrikaans? Die taal is, wat my betref, gesond. Ons is lief vir die taal. Ons praat, skryf, dig en sing in die taal. Ons lees Afrikaanse koerante, kyk Afrikaanse televisie en maak liefde in Afrikaans. Afrikaans sal uiteindelik al sy openbare funksies verloor. Reken maar met wetenskappers wat voorspel dat Suid-Afrika se bevolking teen die einde van hierdie eeu 80 miljoen mense sal tel. Ondanks die getalle-oorwig is daar geen enkele rede waarom Afrikaans nie sy amptelike status in Suid-Afrika behoort te behou nie. Wat dit betref, lê ons taal in ons eie (goeie) hande.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top