Cosatu se landswye optogte plaas werkers se ontevredenheid én ANC se verkiesingsprobleme in die kollig

  • 0

Cosatu se landswye protesaksie gister (Woensdag), minder as vier weke voor die plaaslikeregeringsverkiesing, stuur ’n ongemaklike boodskap aan die regering oor die groeiende ontevredenheid onder werkers oor werkloosheid, afleggings en die stygende lewenskoste.

Die protesaksie op dieselfde dag waarop petrolpryse vir die eerste keer die R30/liter-kerf binnelands verbygesteek het, kom op ’n besonder sensitiewe tyd vir Suid-Afrika.

Die vakbondfederasie en sy geaffilieerde vakbonde het optogte en betogings in al nege provinsies gehou ter viering van die Wêrelddag vir Waardige Werk. Die aksie het vanjaar ook simboliese betekenis omdat Cosatu sy 40ste bestaansjaar vier.

Die optogte was beskerm ingevolge artikel 77 van die Arbeidsverhoudingswet nadat Cosatu sy kennisgewing by Nedlac ingedien het. Werkers wat wettig aan die aksie deelgeneem het, mag nie bloot weens hul deelname gedissiplineer word nie, hoewel die beginsel van “geen werk, geen betaling” geld.

Cosatu sê werkers is toenemend “onder beleg” weens ’n kombinasie van afleggings, swak lone, die hoë koste van lewensonderhoud en ’n gebrek aan voldoende sosiale beskerming.

Die federasie wys veral op massa-afleggings terwyl werkloosheid reeds uiters hoog is. Werkgewers wat volgens hulle nie die nasionale minimumloon nakom nie, die toenemende gebruik van tydelike werknemers, en wat hy beskou as aanvalle op kollektiewe bedinging, is nog ʼn bron van kommer. Daar is ook kommer oor onvoldoende aftreefondse en ander vorme van sosiale beskerming.

Cosatu eis onder meer sterker toepassing van die minimumloon en dat die regering die 10 000 bykomende arbeidsinspekteurs aanstel wat president Ramaphosa vroeër vanjaar aangekondig het.

Die federasie se klagtes kry terselfdertyd ekstra politieke gewig weens die jongste brandstofprysverhoging. Vanaf Woensdag kos 95-oktaan-petrol binnelands R3,33 meer per liter, wat die prys tot R30,25 per liter opstoot. Diesel het met tussen R2,84 en R3,24 per liter gestyg.

Die brandstofskok dreig om verder deur die ekonomie te spoel, aangesien hoër vervoer- en logistieke koste uiteindelik druk op pryse van voedsel en ander goedere plaas. ’n Onlangse privaatsektoropname het volgens Reuters reeds gewys dat Suid-Afrika se private sektor in September sy skerpste inkrimping sedert Desember beleef het, met hoër koste en ontwrigte voorsieningskettings as van die probleme.

Gister se aksie was nie bloot op die regering gerig nie. Cosatu en sy geaffilieerde organisasies gebruik vanjaar ook die geleentheid om spesifieke ondernemings oor werkverliese aan te vat.

In Johannesburg en Tshwane is daar betoog teen die afdanking van byna 600 Makro-werkers. In Noordwes is daar ’n optog na Sun City gehou en in Kaapstad na GrandWest Casino oor beplande afleggings by Sun International.

Daar was ook optogte in Limpopo by Jumbo Stores in Polokwane, terwyl daar in die Vrystaat ’n provinsiale optog in Bloemfontein was. Vakbonde het ook aksies in KwaZulu-Natal en Mpumalanga gehou, onder meer oor arbeids- en sosio-ekonomiese probleme.

Die onmiddellike ekonomiese uitwerking van ’n enkele dag se optogte is moeilik om presies te bepaal, veral omdat dit nie ’n algemene staking van die hele ekonomie is nie. Die groter risiko was ontwrigting by werkplekke, winkels, openbare vervoer en logistieke roetes.

Die politieke betekenis daarvan kan egter groter wees as die direkte ekonomiese skade.

Cosatu is ’n belangrike komponent van die historiese drieparty-alliansie van die ANC, Cosatu en die SAKP. Daarom was daar ’n inherente spanning in gister se protes: Die federasie mobiliseer werkers teen ekonomiese toestande waarvoor die ANC  uiteindelik politieke verantwoordelikheid dra.

Dit is vir die ANC ’n ongemaklike boodskap. Wanneer Cosatu daarin slaag om groot getalle werkers te mobiliseer, wys dit dat die hoë lewenskoste nie bloot ’n abstrakte ekonomiese kwessie is nie, maar een wat direk deur kiesers ervaar word.

Vir politieke partye wat die ANC se steunbasis probeer wegtrek, bied die ontevredenheid oor werkloosheid, lone, brandstof en hoë lewenskoste ’n ideale verkiesingsboodskap.

Met minder as ’n maand oor voordat Suid-Afrikaners op 4 November stem, was gister se optogte dus meer as net ’n arbeidsaksie. Dit was ook ’n openbare toets van hoeveel ontevredenheid onder werkers bestaan en hoeveel daarvan uiteindelik in die stemhokkie kan beland.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top