Coup d'état vanuit Nkandla

  • 0

Sewe honderd jaar na die dood van Dante Alighieri, hy wat die Christelike verhaal as ’n heilige komedie voorgestel het, byna 60 jaar na die stigting van die Republiek, is dit asof Suid-Afrika verval het in ’n soort Karoofees, ’n Kaktes op die Vlaktes, waar al die stalletjies en gigs oorgeneem is deur narre. Hier is The life of Brian, hy van Saxonwold-sjebien-faam; daar is Julius Teaczar, ’n koppie tee beet aan die oor; doer is antie Doedoe, wat probeer om ’n direkteur te bly maar dan verslaap; regter Sloffie wat sy Bongo-drom aanrand … dit hou nie op nie. ’n Mens sluip na jou B&B en gaan kyk rugby, maar dis ook maar ’n narrespel, net met spiere en fluitjies.

Dit maak ’n mens skoon lighoofdig, die ooraanbod. Jy lag nie eens meer nie, maar steeds kom dring hulle hul op aan jou: regter Moegoe die Moegoe, Uys Nikspluys en Carl Nikshuys, Jakkie die Waterfrontpou, die geenmanvertoning deur Cyril the Silent, en bo almal pryk die laggende profiel van Hy-wat-lag-met-sy-knie-op-jou-nek, Jacob Gedleyihlekisa Zuma.           

Daar is ’n lekker Engelse woord vir lighoofdig: “giddy”. Dit is een van die vele wat deur Shakespeare gepopulariseer is, en die interessante is dat dit in ’n baie politieke betekenis was. Dit kom voor in Richard III, die verhaal van ’n tipiese Engelse coup d’état, wanneer Citizen 2 in ’n amperse “noises off”-posisie sê daar wag “giddy times” op hulle. (Die woord het ook ’n Danteske flikkering, want een van sy wortels is in die 14de-eeuse Middelengelse gydig vir “besete”, wat verwant is aan Oudengels god, vir “god”).           

Een van die lekkerste gerf artikels wat ek die laaste tyd gelees het, is die reeks vergelykings tussen Donald Trump en Jacob Zuma, byeengebring deur Rita Barnard van Penn-universiteit in Safundi, ’n joernaal gewy aan verbande tussen Suid-Afrika en die VSA. Daarin skryf Adam Sitze van Arnhem-universiteit merkwaardig  profeties – die artikel is in laat November 2020 gepubliseer – oor ’n moontlike putsch deur Trump, en watter geklike affêre dit waarskynlik sal wees. En hy insinueer dat dieselfde soort ding Suid-Afrika se voorland kan wees.           

Sitze skryf hoe giddy ook ’n cliché geword het in die frase giddy with fury, en dit is hierdie woede wat uiteindelik tot Richard se ondergang op die slagveld lei. Maar in die hedendaagse tye het dit vir Sitze ’n heel ander betekenis: van die futiliteit van rasionele kritiek teen groteske leiers soos Trump en Zuma. Hy wys in sy briljante essay dat sulke kritiek en lighoofdige woede hulle trouens net in hul kwaad sterk.

Dante se komedie was natuurlik nie regtig ’n komedie nie. Waar tragedie die proses is van die held wie se morele Achilles-hiel aan hom onthul word voor hy nogtans ondergaan daarvan, kom die onderwerp van die komedie nie agter wat sy foute is nie. Nogtans is daar geen salf aan hom te smeer nie – komedie wys aan ons wat die perke van selfkennis is wanneer ons die held op sy teenstrydighede wys.           

Maar waar die nar op die verhoog ’n nar bly, is die groteske leier, die een wat die kameras en ligte op hom gevange hou omdat hy of sy so vermaaklik is in die werklike lewe in ’n posisie met werklike gevolge. Sy teenstrydighede ondermyn naderhand alles rondom hom, want na al die onthullings oor sy geklikhede is hy nog steeds die een wat die storie dikteer, die een om wie die land se politieke teater draai.           

Dit is treffend gedemonstreer deur Zuma se openlike uittarting van die land se gesag en grondwetlike demokrasie vanuit Nkandla. Die magshebbers wie se eie sondes, oortredings en teenstrydighede swaarde bokant hul koppe is, het lustig meegehelp om Nkandla die nuwe setel van die presidensie te maak. Lede van die regerende party se top ses het dit agtergekom en daarom aangedring daarop dat hy na Luthulihuis in Johannesburg toe kom om sy verontagsaming van ’n bevel deur die Konstitusionele Hof te bespreek.

Selfs al sou hy soontoe gegaan het, sou die skouspel van afgesperde strate, kavalkades van blouligmotors en TV-lakeie van hom ’n besoekende staatshoof gemaak het. Maar die streetwise Zuma het nog verder gegaan en dieselfde troefkaart gespeel wat so goed by die Zondokommissie gewerk het: Hy het eenvoudig nie opgedaag nie. Dit het beteken hy kon die toon aangee van Nkandla af, ook aan die werklike president van die land, Cyril the Silent, wat hom oënskynlik gedwee onderwerp het aan Ace Magashule se gebrabbel oor “the best meeting ever”.

Tydens hierdie oudiënsie is die absolute irrelevansie van regter Raymond Zondo se liefdeslewe in sy jeug ewe veel gewig gegee as generasies van stryd en pynlike kompromieë tydens onderhandelinge te midde van 30 000 sterftes en wat uitgeloop het op ’n republikeinse demokrasie waarin die grondwet die soewerein is.           

Giddier kan dit nie. Maar enige kritiek, ook my eie onderdrukte woede wat hopelik deurskemer in hierdie rubriek, voed net Zuma se ooglopend gefabriseerde storie. Ons is almal nou net nog byspelers in die teater van die verontregte Zuma; ons is almal omgekoop deur die magte wat teen Nkandla ontplooi is, en wat daardie magte presies is, maak kwalik meer saak.           

Maar goed, kan dit nog ontaard in ’n coup d’état, soos Sitze suggereer, en soos in Richard III se Engeland en in Dante se Machiavelliaanse wêreld? Miskien verras Zuma ons nog en daag hy tog by die Zondokommissie op. Miskien sal Cyril the Silent se onaksie pleks van water-op-Jacob-se-meul-uitsprake tog blyk die korrekte benadering te wees.           

Die ding is net: Met die staat se beleid wat eintlik deur die ANC se uitvoerende komitee beheer word en dus nie eintlik meer deel is van die demokratiese potensiaal van die land nie, het die magsgreep nie reeds plaasgevind nie? Bewys Zuma nie juis dat in die era van sosiale media as die tiran se tribunaal, met trolle as sy laksmanne, dat mag nie meer afhang van wie in Mahlamba Ndlopfu slaap nie?           

Uit ’n ander Safundi-artikel, deur Neville Hoad van die Universiteit van Texas te Austin, blyk dit dat Mar-a-Lago, waarheen Trump gevlug het tydens die putsch op die Kapitool, en Nkandla, waarheen Zuma van Zondo gevlug het, iets gemeen het. Beide het eers aan die staat behoort. Trump se veiligheidskostes wanneer hy daar gaan gholf speel het, was bykans dieselfde as Zuma se wederregtelike “verbeterings”.           

Nkandla (Foto: John A Forbes [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Mar-a-Lago is goedkoop aan Trump afgestaan omdat die Amerikaanse staat nie meer die onderhoud van die voormalige biljardêrslandgoed kon bekostig nie. Nkandla is as een van FW de Klerk se laaste dade as president aan die Ngonyamatrust geskenk – waaroor die Zoeloekoning, Zwelithini, soewereiniteit kan opeis as hy sou wou. Dit tel onder daardie gebiede, soos dele van Venda of dele van die diep Transkei, wat nog nooit regtig deur enigiemand anders as plaaslike stamhoofde of krygshere geregeer is nie.           

As Zuma sou weier om die Zondokommissieverrigtinge by te woon en die Konstitusionele Hof beveel sy inhegtenisneming, sou dit ’n Pandorakis van politieke moontlikhede skep. Die “diep Zoeloes” rondom Zwelithini, en dalk die koning self, sou dit kon vertolk as ’n inval, hoewel dit nie lyk of so iets in die koning se broek sit nie. Carl Niehaus en sy kammakrygers sou dit in ’n bloedbad kon omskep wat Zuma finaal die slagoffer van iets sou maak.           

Dis alles bespiegeling, maar daar is die narreslagspreuk “Only in South Africa …” Die meeste politieke waarnemers verwag dat Zuma op die laaste oomblik Zondo toe sal gaan, maar dis ook maar meer hoop as ware kennis. ’n Meer oortuigende heenwyser is die samesweringsteorie dat Zuma op die aand van sy bedanking as president nog gedink het om ’n magsgreep af te kondig, maar toe op die nippertjie daarteen besluit het. Aan die ander kant redeneer Zuma  miskien hy gaan nie weer daardie fout maak nie.           

Sou hy egter nie opdaag nie en hy word in hegtenis geneem te midde van geweld en doodslag, of die staat doen niks nie en staan daarmee finaal die inisiatief aan hom af, sou ’n mens verder kon bespiegel dat De Klerk, wat mos glo dat die balkanisering van Suid-Afrika in die Nasionaliste se verdeel-en-heers-strategie met goeie bedoelinge ontwerp is, die laaste lag sal inkry. Dis egter natuurlik een samesweringsteorie te ver, en dit is ook so dat ek nie kan onthou dat ek De Klerk ooit sien lag het nie, ook nie toe hy in 2005 in Taiwan as Suid-Afrika se president voorgestel is nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top