’n Skrikwekkende 85% van Suid-Afrikaanse maatskappye kan ondergaan as die staat van inperking drie maande sou duur, waarsku Statistiek Suid-Afrika.
Byna die helfte van alle besighede in Suid-Afrika moes hulle deure sluit gedurende die tyd van inperking. Talle van die besighede sal heeltemal tot niet gaan en nooit weer hulle deure kan oopmaak nie. Dit blyk uit ’n verslag wat Statistiek Suid-Afrika Dinsdag vrygestel het.
Dit is deel van ’n uiters donker prentjie oor die impak wat COVID-19 na verwagting op die land se ekonomie gaan hê. Die opname deur Statistiek Suid-Afrika toon dat slegs 50% van besighede verwag dat hulle werksmag dieselfde sal bly ná die opheffing van die regulasies.
Die statistiek is bekendgemaak enkele ure voordat president Cyril Ramaphosa die nasie op TV en radio sou toespreek oor die ekonomiese en sosiale impak wat COVID-19 op die land het.
Die blitsopname wat die afgelope weke deur Statistiek Suid-Afrika gedoen is, wou by besighede weet hoe die huidige krisis hulle geraak het gedurende die twee-weke-tydperk vanaf 30 Maart tot 13 April.
’n Totaal van 707 besighede in die formele sektor het op die opname reageer. Die inligting wat ingesamel is, handel oor die impak wat die pandemie het op omset, handel, arbeidsmag, invoere en uitvoere, aankope, pryse en die vermoë van besighede om die huidige krisis te oorleef. Die vooruitsigte lyk nie goed nie.
Die volledige verslag kan hier afgelaai word.
Vier uit tien van die besighede voel hulle is nie in staat om voort te gaan met besigheid nie. Op ’n vraag oor hulle finansiële hulpbronne het 42,2% van die respondente aangedui dat hulle nie voel hulle het die finansiële hulpbronne wat hulle in staat sal stel om hulle deur COVID-19 te dra nie. Op die vraag hoe lank hulle besigheid sonder omset sal kan voortbestaan, het 54% gesê tussen een en drie maande.
Bykans die helfte van alle besighede wat aan die opname deelgeneem het, moes hulle deure tydelik sluit. Die industrieë wat die hardste getref is en die grootste persentasie tydelike sluitings verteenwoordig, of hulle handelsaktiwiteite op ys moes plaas, was konstruksie-, vervaardigings-, handels- en mynbedrywighede. Die vervoerbedryf en die eiendomsmark is ook swaar getref.
Vyf uit ses besighede, of meer as 85%, het ’n afname in omset ondervind, wat beteken veel meer as die helfte van alle besighede is in die moeilikheid.
Bykans twee derdes (65%) van alle besighede sê die gevolge van die koronavirus gaan hulle erger tref as die globale 2008/09-resessie. Slegs 4,3 persent van die respondente glo die impak gaan min of meer dieselfde wees.
Die data bied ’n oorsigtelike blik op die ekonomiese vooruitsigte as gevolg van die COVID-19-pandemie. Dit skets egter nie die volle prentjie nie. Mikrobesighede met ’n jaarlikse omset van minder as R2 miljoen is nie by die navorsing ingesluit nie. Die bevindings weerspieël dus slegs ’n deel van die totale ekonomiese prentjie in die land.
Sommige besighede wat vrees dat hulle dit nie gaan oorleef nie, het reeds op sosiale media by hulle getroue klante gevra om met finansiële bydraes te help as hulle kan. ’n Gewilde restaurant se eienaar in Somerset-Wes het ’n fonds begin om sy besigheid te probeer red. Die eienaar van Old Bridge Tavern sê die huur van die perseel alleen beloop R75 000 per maand en die besigheid sal dit nie oorleef as dit vir drie maande gesluit moet bly nie.
Buro: MvH