Strenger inperkings is moontlik Gauteng se voorland om die koronavirus wat besig is om soos ’n veldbrand in dele van die provinsie te versprei, te probeer bekamp.
Bykans 70 persent van die nuwe Covid-gevalle kom tans in Gauteng voor. Gauteng se bevelsraad het Dinsdag vergader om moontlike strenger inperking vir dié provinsie te bespreek.
President Cyril Ramaphosa het verlede jaar gesê provinsies kan moontlik op verskillende vlakke van inperking geplaas word toe hy die vyf vlakke van inperking bekendgestel het.
Volgens Gauteng se premier, David Makhura, is die pandemie op sommige plekke in die provinsie heeltemal buite beheer. Hy sê dit noodsaak buitengewone maatreëls, wat verdere beperkings bo vlak 3 kan insluit. Makhura het Dinsdag gesê die provinsie bevind hom in die middel van ’n krisis en daar is geen teken van enige verbetering nie.
[Read] @GautengProvince Premier @David_Makhura has warned that the province is in the midst of a #COVID19 crisis, as cases show no signs of slowing down @GautengHealth https://t.co/oTXq7vfLH6 pic.twitter.com/rZOBs9SRjd
— @SAgovnews (@SAgovnews) June 22, 2021
Makhura het die media ook vroeër die week tydens ’n besoek aan die Chris Hani Baragwanath-hospitaal toegespreek toe hy mediese personeel van die Suid-Afrikaanse Weermag by die hospitaal verwelkom het.
Hy het gesê die positiewe gevalle is oral in die provinsie uitsonderlik hoog. “Die kanse om besmet te word is gevaarlik hoog, waar jy jou ook al bevind.” Hy het inwoners verseker die provinsie doen alles in sy vermoë om die virus te beveg. Hy sê tydens die derde vlaag wat tans oor die provinsie spoel, het hulle meer hulp en samewerking as ooit nodig.
Makhura sê hy het die afgelope naweek in Gauteng rondgery om te kyk of mense hulle aan die inperkings steur en gevind dat restaurante en winkels in die townships sowel as die voorstede stampvol is.
Volgens Makhura kan strenger maatreëls nie uitgesluit word nie. Die finale besluit berus by die Nasionale Koronavirus Bevelsraad.
Intussen monitor die provinsie die situasie by skole en doen ’n beroep op die publiek om maskers te dra, insluitend diegene wat reeds ingeënt is teen COVID-19.
Die Tshwane-metroraad het ook sy kommer uitgespreek oor die skerp styging in COVID-19-gevalle die afgelope weke in Pretoria. Sipho Stuurman, die woordvoerder van die uitvoerende burgemeester, Randall Williams, het ’n dringende beroep op inwoners gedoen om die vlak-3-inperkingsmaatreëls na te kom. Stuurman sê volgens die jongste syfers het die positiewe gevalle in die metrogebied met tot meer as 17 000 toegeneem. Gedurende die piek van die tweede vlaag was daar 16 000 aktiewe gevalle in die metrogebied, waarna dit afgeneem het. Stuurman sê daar word daagliks tussen 2 100 2 300 nuwe gevalle bevestig.
#Covid19 Update: Active Covid-19 cases in Tshwane have now
exceeded the peak seen in the second wave. pic.twitter.com/sAEV9dJtPp— City of Tshwane (@CityTshwane) June 21, 2021
In KwaZulu-Natal word daar volgens die provinsie se premier, Sihle Zikalala, aansienlike vordering gemaak met die inenting van senior burgers ouer as 60 en gesondheidswerkers.
[Read] KZN Premier @sziks says the province continues to make significant progress with the vaccination of both senior citizens and healthcare workers who could not receive the jab during the first phase of the country's #COVID19 vaccination rollout https://t.co/LJ2ZRlfGAn pic.twitter.com/PV8sxOdJ5W
— @SAgovnews (@SAgovnews) June 22, 2021
Zikalala sê in ’n verklaring die provinsie ent tans 13 000 mense per dag in, terwyl daar ook meer gefokus word op die inenting van mense ouer as 60 en in plattelandse gebiede. Daar is reeds byna 400 000 mense ouer as 60 in die provinsie ingeënt, en meer as 100 000 gesondheidswerkers. Daar is sowat 500 000 mense in KZN ouer as 60 wat elektronies geregistreer het om ingeënt te word.
Die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het vroeër gewaarsku dat niemand weet hoe erg die derde vlaag Suid-Afrika sal tref nie. Sy sê Indië se jongste vlaag wys hoe ’n land se infeksiesyfer die hoogte kan inskiet en eksponensieel kan verdubbel.
In die Wes-Kaap het die DA ’n beroep op die Departement van Gesondheid gedoen om toe te laat dat mense vanaf 40 jaar kan registreer om ingeënt te word. In dié stadium kan slegs gesondheidswerkers en mense wat 60 jaar en ouer is, ingeënt word. Die DA se provinsiale woordvoerder vir gesondheid, Wendy Philander, sê indien die registrasieproses toegelaat word, sal die onderskeie provinsies ’n beter aanduiding hê van die aantal mense wat vir inenting kwalifiseer. Philander sê dit sal lei tot minder struikelblokke en vertragings soos wat die geval was gedurende die fase 2-inentingproses. Sy sê die omvang en erns van die derde vlaag hang grootliks van die doeltreffendheid van die inentingsveldtog af.
Government’s failures are to blame for loss of lives and livelihoods during the third wave!
To date, government has only met 5,3% of its target and at this rate, it will take almost 20 years to reach herd immunity.
Lockdown and bans are not the answer, SA needs a #VaccineNow.💉 pic.twitter.com/dhinhKbY0f
— Democratic Alliance (@Our_DA) June 21, 2021