COVID-19 knip moontlik SAL se vlerke finaal

  • 0

Die koronavirus mag dalk die heel laaste spyker wees in die reeds bankrot Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se doodskis.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het weke gelede al gesê dat SAL se vlerke dalk geknip en hul deure gesluit gaan word. Verskeie ekonome het ook lankal voorspel daar is geen salf meer te smeer aan hierdie korrupte en bankrot semistaatsinstelling nie. Hulle het gesê dit is neusie verby met die SAL en geen privaat instansie sal met ’n tang daaraan wil raak nie, omdat die SAL se skuldlas eenvoudig te groot is.

Nou lyk dit of die koronavirus dalk gaan regkry wat niemand anders tot dusver kon doen nie, naamlik om die regering te laat besef die doodskoot is al opsie vir SAL.

Netwerk24 het Woensdag berig SAL en SA Express se lot kan in die volgende dae bepaal word nadat die kabinet Woensdag ’n voorstel sou oorweeg om die twee lugdienste te sluit.

Dit kom nadat Mboweni Dinsdag in ’n telefoonkonferensie met die media aangedui het dat die sluit van die twee lugdienste deel is van die tweede fase van ekonomiesebeleidsreaksie van die regering op die COVID-19-pandemie.

Terwyl Mboweni die SAL se lyding reeds vroeër so gou moontlik agter die rug wou kry, het die ANC tot dusver ten alle koste probeer om weer lewe te blaas in ’n onderneming wat die Suid-Afrikaanse belastingbetalers al miljoene rand gekos het en steeds vir meer vra.

Die regering het die SAL se sakereddingspraktisyns egter nou ingelig dat hulle versoek om ’n verdere reddingsboei van R10 miljard geweier is. Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, sê die regering sal geen bykomende finansiering vir sakeredding gee nie. Daar sal ook geen leningswaarborge ten opsigte van die sakereddingsproses toegestaan word nie. Die lugdiens is in Desember verlede jaar onder sakeredding geplaas. Die sakereddingspraktisyns het ook nog nie ’n sakereddingsplan voorgelê nie.

Volgens Netwerk24 bestaan daar onsekerheid oor presies hoe die tesourie dink die SAL moet sluit. Die laekostelugdiens Mango, wat ’n filiaal van die SAL is, het voor die inperking in wese reeds feitlik al die SAL se binnelandse bedrywighede oorgeneem. Volgens die vervoerekonoom Joachim Vermooten was Mango wel winsgewend toe hy nog net vier vliegtuie bedryf het, maar dis nie bekend of Mango tot voor die inperking steeds winsgewend was nie.

Die ekonoom en direkteur van Econometrix, Azar Jammine, het aan Fin24 gesê een of ander tyd sou die regering genoodsaak word om te besef dit is nutteloos om aan te hou geld inpomp in ’n onvolhoubare lugredery. Hy sê die SAL funksioneer in elk geval byna glad nie op die oomblik nie, afgesien van enkele noodvlugte. Daar is geen inkomste nie. Die enigste manier waarop hulle kan oorleef, is as die regering aanhou om miljarde rand in ’n nimmereindigende put te bly inpomp.

Duisende mense kan sonder werk sit wanneer die SAL finaal sy laaste asem uitblaas. Sowat 5 000 werkers van die SAL en 800 werknemers by SA Express sal werkloos wees indien die lugrederye sluit.

Talle vlieëniers is boonop reeds regoor die wêreld afgelê of op langverlof geplaas as gevolg van lugverkeer wat feitlik tot stilstand gekom het weens die koronavirus. Daar word voorspel dat dit nog geruime tyd sal duur voordat die lugdiensbedryf weer sal herstel tot dieselselfde vlak van bedrywighede as voor die pandemie.

Die onafhanklike ekonoom Mike Schüssler sê die regering kan sowat R6 miljard bespaar as hy die twee lugrederye sluit. Hy stem ook saam dat die verlore werkgeleenthede nie gou teruggekry sal word nie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top