............
“In ander COVID-19-verwante nuus het gesondheidskenners gewaarsku teen onnodige toetsing vir COVID-19 wanneer mense nie ’n verskeidenheid van simptome toon nie. Dit volg nadat die Sentrum vir Siektebeheer nuwe simptome bygevoeg het tot die lys vir COVID-19-simptome.”
............
Die versekeringseiskenners Insurance Claims Africa sê hulle gaan hulle tot die hof wend om die dooiepunt op te los nadat sommige versekeringsmaatskappye geweier het om eise uit te betaal wat met COVID-19 verband hou.
Die organisasie verteenwoordig ondernemings in die toerisme- en gasvryheidsbedryf. Volgens RSG het baie toerisme- en gasvryheidsondernemings duur dekking vir sakeonderbrekings weens onvoorsiene omstandighede. Die staat van inperking het die ondernemings glo gedwing om hul deure tydelik te sluit, maar die weiering van hul versekeringseise kan tot gevolg hê dat die ondernemings permanent sluit en talle mense hul werk sal verloor.
Foto: Canva.com
Intussen het AfriForum Woensdag in ’n brief aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) kommer uitgespreek oor die interne hersieningsprosesse en die verslagskrywingmetodologie wat deur die NIOS gevolg word.
NIOS is vandeesweek op foute in sy weeklikse epidemiologieverslag gewys, waarna daar wysigings aangebring en verskoning gevra moes word. In die gewysigde verslag het daar weer foute ingeglip.
AfriForum sê in ’n verklaring die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) het vasgestel dat die totale getal bevestigde COVID-19-gevalle vir die ouderdomsgroep 35–39 verkeerdelik as 9 794 in die hergepubliseerde epidemiologieverslag vir week 25 aangedui word, terwyl dit in werklikheid 13 164 is.
............
“Die staat van inperking het die ondernemings glo gedwing om hul deure tydelik te sluit, maar die weiering van hul versekeringseise kan tot gevolg hê dat die ondernemings permanent sluit en talle mense hul werk sal verloor.”
............
“Dít volg nadat ANI op 29 Junie 2020 ’n brief aan die NIOS gestuur het om ander foute in die oorspronklike verslag uit te wys. NIOS het op 30 Junie skriftelik gereageer, verskoning vir die foute aangebied en daarop ’n veranderde verslag gepubliseer.”
AfriForum sê in die verklaring hulle het nou versoek dat die NIOS hul interne verslaghersieningsproses asook die verslagskrywingsmetodologie wat gevolg word, verskaf.
AfriForum het verder ook voorgestel dat stappe gedoen word wat behels dat:
- ’n verslag hersien word deur direkte vergelyking met die voorafgaande verslag
- ’n lys van vinnige kontroles opgestel word vir die identifisering van foute
- dataontledingsagteware opgestel word om ook kontroleberekeninge te doen
- dataontledingsagteware opgestel word sodat syfers na verslae gekopieer kan word
- onverwerkte data aan verslagsamestellers en ontwerpers verskaf word sodat hulle ook akkuraatheid kan nagaan.
“Dit is onaanvaarbaar dat daar weer ’n fout in ’n verslag is nadat foute in ’n vorige weergawe van dieselfde verslag reeds deur ’n derde party geïdentifiseer en gerapporteer is. Dit is baie duidelik dat gemeenskapsinstellings soos AfriForum onontbeerlik is in die stryd om die beskerming van burgers se belange,” sê Barend Uys, hoof van Navorsing en Ontwikkeling by AfriForum.
In ander COVID-19-verwante nuus het gesondheidskenners gewaarsku teen onnodige toetsing vir COVID-19 wanneer mense nie ’n verskeidenheid van simptome toon nie. Dit volg nadat die Sentrum vir Siektebeheer nuwe simptome bygevoeg het tot die lys vir COVID-19-simptome. Die nuwe simptome sluit in diarree, buikpyn, naarheid en braking. Dit is bykomend tot algemene simptome wat hoes, koors, lyfseer, kortasem, ’n seer keel en borspyn insluit.
President Cyril Ramaphosa het Woensdagaand tydens ’n presidensiële imbizo deur middel van meer as 80 verskillende radiostasies, verskeie TV-kanale en sosiale media met gemeenskappe regoor die land ook oor COVID-19 gepraat. Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko, het in ’n verklaring gesê die imbizo het ten doel om ’n platform te skep vir openbare deelname waar gemeenskappe direk met die regering kan kommunikeer oor uitdagings waarmee hulle worstel.
Buro: MvH