........
“DC is hard geslaan deur die virus en voldoen nog nie aan al die vereistes om weer oop te maak nie. Volgens die New York Times het DC die sesde hoogste voorkoms van COVID-19-gevalle per kapita in Amerika.”
........
Heloïse van Huyssteen het vanjaar na die administratiewe hoofstad van die VSA verhuis. Sy vertel oor haar ervaring toe sy en haar man Ian die koronavirus opgedoen het en oor die lewe in Washington, DC.
Ian en Heloïse weer op die been. (Foto: verskaf)
Hoe is die situasie rakende die COVID-19-virus tans in Washington, DC?
Die “lockdown” is nie so streng soos in Suid-Afrika nie. Virginia en Maryland het onlangs beperkings begin verslap vir nienoodsaaklike dienste, maar DC se burgemeester, Muriel Bowser, het daarteen besluit. DC is hard geslaan deur die virus en voldoen nog nie aan al die vereistes om weer oop te maak nie. Volgens die New York Times het DC die sesde hoogste voorkoms van COVID-19-gevalle per kapita in Amerika. Ons “stay at home”-bevel is dus tot 8 Junie verleng.
Jy en jou man Ian is positief getoets vir COVID-19. Vertel asseblief meer van wat dit behels het.
Ons het einde Maart wakker geword met simptome wat gewissel het van koors tot lyfseer, moegheid, kort asem en ’n droë hoes. Dinge het egter interessant geraak toe ons ons reuk-en smaaksintuie verloor het – koffie, water en wyn het basies dieselfde geproe. Ná ’n week in kwarantyn het ons by ’n teledokter toestemming gekry om vir die virus te gaan toets. Die hele prosedure het ongeveer vyf minute gevat en ja, dis so ongemaklik soos wat dit lyk.
Foto: Pixabay.com
Hoe het jou siening van hierdie reëls verander na jul siekte?
My siening van die reëls het nie veel verander ná ek positief getoets is nie – ek was steeds hande meer as wat ek treë gee en ek behou te alle tye ’n afstand van twee meter. Ek het wel nie in Maart ’n masker in die supermark gedra nie, maar nou sal jy my nie sommer die huis sien verlaat sonder een nie.
Is julle tans in kwarantyn in die stad? Watter maatreëls is in die stad ingestel?
Met die “stay at home”-bevel kan ons steeds uitgaan vir oefening, noodsaaklike produkte en dienste, of as jy ’n noodsaaklike werk verrig. Slegs supermarkte en apteke is oop. Oortreders kan tot $1 000 beboet word, van ’n “misdemeanor” aangekla word of 90 dae tronkstraf opgelê word.
........
“Ons leef die American Dream op ons sitkamerbank uit.”
........
Stem inwoners saam met die maatreëls wat ingestel is?
Wanneer jy buite rondloop en mense agter modieuse maskers sien pronk, wil ek sê dat inwoners saamstem, maar die media skilder ’n ander prentjie. Trump druk natuurlik vir die state om weer oop te maak, en baie van die state het weer begin handel dryf met sekere vasgestelde beperkings. Daar het al hier en daar ’n protesoptog in DC plaasgevind, soos die trokke wat in Constitution Avenue geparkeer en geprotesteer het teen lae vervoertariewe wat die einde van baie van hulle se besighede kan beteken.
Wat dink jy is die grootste wanopvattings wat mense in die stad oor die virus het?
Trump het so ’n paar weke gelede by ’n perskonferensie gesê dat wetenskaplikes moet toets of ontsmettingsmiddels in ’n mens se liggaam ingespuit kan word om COVID-19 te beveg. Ná hewige teenreaksie het hy beweer dat hy dit sarkasties bedoel het, maar ek het nog nie weer Lysol in die winkels gesien nie.
Ek kry ook die gevoel dat mense dink dat slegs ouer mense met onderliggende gesondheidsprobleme deur die virus geaffekteer word. Daar is selfs op die nuus berig dat ouers speelgroepies vir kinders reël om immuniteit te kry soos met waterpokkies. Tog diskrimineer die virus nie, en daar is nou vyfjariges wat in die hospitaal opgeneem word met ernstige COVID-19-simptome.
Foto: Pixabay.com
Watter invloed het die pandemie op jul lewe, veral nadat julle nou positief getoets is?
Ons is onlangs positief getoets vir COVID-19-teenliggaampies, wat beteken dat ons moontlik in ’n beter posisie is as diegene wat nog nie immuniteit teen die virus het nie. Daar is egter te min navorsing hieroor om met sekerheid te sê. Dus hanteer ons dit soos dit ’n goeie mens betaam: Ons leef die American Dream op ons sitkamerbank uit.
Wat is jou grootste vrese en bekommernisse oor hierdie globale krisis?
Ek vrees vir die toekoms van klein besighede. Ek vrees vir dié wat met onderliggende gesondheidsprobleme worstel. Ek vrees vir diegene wat hulle herfsjare in isolasie afsluit. Ek vrees dat hierdie toestand ons nuwe normaal gaan word. En bowenal vrees ek dat ’n Zoom call die tradisionele drukkie gaan vervang.
Hoe beïnvloed hierdie krisis jou emosioneel; hoe bly jy positief?
Ek het myself al so ’n paar keer met cabin fever gediagnoseer. Dan steek ek gewoonlik my kop by die venster uit, brou ’n bietjie kombucha, pen die gesprekke neer van die karakters in my kop en herinner myself: “This too shall pass.” 2020 is immers die jaar van die stokperdjie – ons kan net sowel die beste daarvan maak.
Lees ook
Buro: MvH