Terwyl Suid-Afrikaners steeds hoofsaaklik tot hulle huise beperk is, te midde van die vlak 4-inperking om die koronavirus te beveg, is die res van die wêreld ook steeds besig om vure dood te slaan met dié virus wat net nie bes wil gee nie.
Tans is VSA die land wat die ergste geraak is deur COVID-19, met meer as 1,3 miljoen gevalle en meer as 80 duisend sterftes. New York is die deelstaat van die VSA wat die ergste geraak is. New Jersey, ’n aangrensende staat, is kort op sy hakke.
Jan-Johan Nel, ’n Suid-Afrikaanse burger wat vanjaar na die stad New York toe getrek het, vertel hoe hy die virus as Suid-Afrikaner in die buiteland ervaar.
Jan-Johan, jy is oorspronklik van Suid-Afrika – wanneer het jy New York toe getrek, waarom het jy daarheen getrek en hoe lank bly jy al in daar?
Ek het aan die begin van Januarie 2020 hierheen getrek. Ek het vir Ernst & Young in Kaapstad gewerk en hul bied jou die opsie om ’n korttermynkontrak te sluit met van hul ander kantore regoor die wêreld. Ek het op New York besluit, want ek glo in die American Dream en dat dit “the land of opportunity” is. Dus is ek al hier vir ’n bietjie langer as vier maande.
Hoe is die situasie rakende die virus tans spesifiek in New York teenoor ander dele van Amerika?
Ek is nie regtig ingelig oor hoe die situasie in ander dele van Amerika is nie, aangesien dit nie aanbeveel word om tans te reis nie. Ek weet New York is egter swaar getref en mense neem die virus baie ernstig op. Almal dra maskers en pas streng social distancing toe en loop selfs draaie om mekaar in supermarkte.
Is julle tans in lockdown in New York (en ander dele van Amerika)? Hoe werk dit daar?
New York is tans in lockdown. Dis basies net apteke en supermarkte wat oop is. En restaurante word toegelaat om wegneemetes te verkoop. Gelukkig kan jy nog drank en sigarette koop. Mens word gelukkig ook toegelaat om te oefen en buite rond te loop, met social distancing wat streng toegepas word. Ander dele van Amerika is ook in lockdown met sekere dele wat stadig maar seker lockdown-regulasies verslap.
Watter ander dele in Amerika is ook onder lockdown?
Sover my kennis strek was die grootste deel van Amerika onder lockdown; ek dink egter die mate van lockdown het gewissel na gelang van hoe swaar die staat getref was. Sekere dele is egter besig om ’n groter mate van ekonomiese aktiwiteit te hervat.
Hoe is die atmosfeer in New York? Is mense bang? Stem hulle saam met die stappe wat gedoen word om die virus te beveg?
Die stad is soos ’n spookdorp. Mense gehoorsaam regulasies, so ek glo hul stem saam met die stappe wat gedoen is. Mense betoon ook groot dankbaarheid teenoor noodsaaklike werkers. Elke aand 7-uur hang die hele stad by hul vensters uit en timmer op potte en panne om hul dankbaarheid aan essential workers te betoon.
Wat dink jy is die grootste wanopvattings wat mense in die gebied waar jy bly, tans oor die virus het?
Om eerlik te wees dink ek mense in New York het die virus redelik vroeg ernstig opgeneem. Met al die onsekerheid het mense nie regtig geweet wat die toekoms inhou nie. Talle besighede het reeds voor lockdown begin het hul werknemers opdrag gegee om van die huis af te werk. Dit was duidelik sigbaar in hoe stil die subways in die oggende was en baie mense het vroeg reeds maskers begin dra.
Voldoen die mense in New York aan die sluitingsregulasies, en watter gevolge is daar vir mense wat nie die regulasies nakom nie?
Mense voldoen vir seker aan regulasies. New York voel soos ’n spookdorp in vergelyking met hoe dit was toe ek in Januarie hier aangekom het. Alhoewel jy steeds vrylik kan rondbeweeg, word dit streng aanbeveel om eerder by die huis te bly, en as jy wel iewers heen gaan, om social distancing toe te pas. En dis duidelik dat inwoners wel die regulasies gehoorsaam. Jy kan beboet word as jy nie social distancing toepas nie.
Watse werk doen jy en word jou werk beïnvloed?
Ek werk as ouditeur by Ernst & Young. Die aard van my werk laat dit gelukkig toe om van die huis af te werk. Ek ervaar dit as vreeslik vreedsaam, aangesien daar nie iemand gedurig oor jou skouer loer nie en jy baie meer outonomie het. Hopelik beïnvloed dit die manier waarop mens in die toekoms gaan werk!
Hoe beïnvloed hierdie krisis jou emosioneel; hoe bly jy positief?
Ek voel baie dankbaar dat my inkomste nie op die oomblik bedreig is nie. My hart breek vir entrepreneurs en kleiner besighede wie se solvensie bedreig word en wat nie hul werknemers kan betaal nie. Daar is baie mense wat baie swaar getref is en ek het absoluut niks om oor te kla nie.
Wat doen jy om jouself besig te hou tydens lockdown as jy nie werk nie? Bly jy alleen?
Ek bly alleen. Ek gaan draf om Central Park of ry met my fiets rond in die stad. Verder lees ek gereeld. Gelukkig kan jy boeke op Amazon koop.
Verlang jy na Suid-Afrika? Indien jy kon, sou jy wou terugkom?
Ek mis die kos en my familie. Maar dan sien ek wat die rand/dollar-wisselkoers tans is en word sommer dadelik gedrewe om nog ’n bietjie langer te bly.
Wat is jou opinie oor hoe die krisis deur die Amerikaanse regering hanteer word?
Ek glo alle leiers probeer hul bes om die inwoners van hul land te beskerm. Ek dink dis baie moeilik om tans besluite te neem, want dit maak nie saak wat jy besluit nie, iemand gaan benadeel word. Ek glo die Amerikaanse regering doen ’n fantastiese werk onder die omstandighede – alhoewel die publiek ook ’n verantwoordelikheid het om riglyne te gehoorsaam en social distancing toe te pas en by die huis te bly.
Wat is jou grootste vrese en bekommernisse oor hierdie globale krisis?
Vir myself het ek nie regtig vrese nie. Ek glo daar is ’n geleentheid vir millennials van my ouderdom om tans aandele te koop, aangesien dit die eerste finansiële krisis is sedert ons begin werk het en aandele redelik onder druk was die afgelope tyd – indien jy dapper (of dalk onnosel) genoeg is, want ek dink dis ’n baie onsekere tyd wat voorlê. Ek het egter baie simpatie vir besighede en entrepreneurs wat swaar getref is en glad nie kan handel dryf nie. Ek dink dis ’n baie onsekere en moeilike tyd wat vir hul voorlê.
- Foto's: verskaf
Lees ook
"Ek het positief getoets vir COVID-19": ’n Suid-Afrikaner in Washington, DC
Buro: MvH