COVID-19 omskep Oos-Kaap in ’n slagveld

  • 0

Vrese dat gesondheidsdienste in duie kan stort as gevolg van COVID-19 het reeds ’n werklikheid geword in die Oos-Kaap.

Dit volg nadat die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, verlede week gesê het die storm waaroor Suid-Afrikaners gewaarsku is, is nou op ons, berig Maroela Media. Volgens Maroela Media het hy verlede week gesê die land sal binne die volgende vier weke sy beskikbare kapasiteit vir hospitaalbeddens oorskry. Dit is veral in Gauteng en die Oos-Kaap dat daar ’n tekort aan beddens is.

In die Oos-Kaap is die toestande reeds haglik. Verskeie koerante rapporteer al weke lank dat die provinsie nie naastenby gereed is om die pandemie te hanteer nie.  

Rapport het twee weke gelede berig dat die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth, wat veronderstel is om een van die sleutelpunte in die stryd teen COVID-19 in die Oos-Kaap te wees, ten beste ’n vuil plek is, maar tans só vuil is dat mens vermoedelik bedwelmd raak daarvan.

Netwerk24 het verlede Donderdag berig dat die ergste vrese dat die gesondheidsdienste in die Oos-Kaap in duie kan stort, besig is om vinnig waar te word.

Vrye Weekblad het ook onder die opskrif berig: “Oos-Kaap: siek, vrot en bankrot” oor die haglike omstandighede in die provinsie se hospitale.

“Ons is midde-in die grootste pandemie denkbaar en die Oos-Kaap se staatsgesondheidsektor is steeds ’n ramp. En nou, onder die druk van COVID-19, kom die wiele behoorlik af,” skryf Vrye Weekblad se mederedakteur, Anneliese Burgess.

Sy sê die pandemie het die oog op die Oos-Kaap se gesondheidsektor gefokus. Volgens haar is die provinsie waarskynlik nou een van die gevaarlikste plekke in Suid-Afrika om te wees as ’n ernstige geval van COVID-19 by jou gediagnoseer word. Sy sê as iemand ’n hospitaal nodig het, is die vloer van ’n gang heel moontlik so ’n pasiënt se voorland.

Siek pasiënte in die Oos-Kaap moet volgens Netwerk24 reeds kamers met dooies deel, want die lykshuise is ook vol. Die provinsie se staatshospitale kan nie meer mense wat met COVID-19 gediagnoseer is, inneem nie.

Die gesondheidsjoernalis Elsabé Brits waarsku ook in Vrye Weekblad dat COVID-19 nou besig is om sy slagtande te wys. Sy sê Suid-Afrika is nóú in die kritieke stadium van die stryd teen die siekte. “Wat in die komende dae en weke gedoen word, sal bepaal hoeveel mense uiteindelik gaan sterf. Elke tien dae verdubbel die aantal sterftes, terwyl daar ’n ontploffing van gevalle in Gauteng is en die Oos-Kaap se gesondheidstelsel basies ineengestort het.”

Die TV-netwerk e.tv het die afgelope week ook berig oor die haglike omstandighede van die Oos-Kaap se gesondheidsdienste. Die stasie sê ook die provinsie se hospitale word so vinnig vol dat die provinsie se gesondheidstelsel dreig om in duie te stort.

Alex Welte, ’n wiskundige aan die Universiteit Stellenbosch wat ook modellerings doen, het aan Elsabé Brits gesê die Oos-Kaap se sondes is besig om hom in te haal. “Hoeveel keer is daar nie in die verlede gesê daar is probleme nie? Hierdie is die finale wekroep. Hoeveel rook moet ons nog sien trek?"

Die Oos-Kaap het minder gevalle van COVID-19 as byvoorbeeld Gauteng, maar byna twee maal soveel mense gaan dood as gevolg van COVID-19 as in Gauteng. Verskeie klinieke in die provinsie moes reeds sluit en selfs die groot hospitale beskik nie oor die basiese geriewe nie.

Die skuld vir die gemors wat tans in die Oos-Kaap aan die gang is, word feitlik deur die bank deur kenners aan die vermoedelike wanfunksionaliteit en korrupsie in die provinsie toegeskryf.

Wat COVID-19 betref, is daar niks in die Oos-Kaap wat dit van ander provinsies onderskei nie, maar die vermoedelike politieke gemors wat daar heers, maak van die provinsie, na bewering, ’n slagveld waarvan die einde waarskynlik nog lank nie gesien is nie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top