Suid-Afrikaners wat gedurende die Covid-inperkings in ’n hof skuldig bevind is aan die oortreding van die betrokke regulasies, sal heel waarskynlik eersdaags uiteindelik weer ’n misdaadvrye rekord hê.
Die Wysigingswetsontwerp op Geregtelike Aangeleenthede wat hierdie week in die Nasionale Vergadering aanvaar is, is ’n noodsaaklike stap in die proses om persone se kriminele rekords wat tydens die Covid-ramptoestand opgelê is, te skrap.
Die wetsontwerp het ten doel om talle wette te wysig wat bedoel is om praktiese en tegniese kwessies van ’n "niekontensieuse aard" aan te spreek, asook grondwetlike uitsprake.
Dit sluit onder meer die Wet op Landdroshowe, Wet op Staatsaanspreeklikheid en die Strafproseswet in.
Duisende mense is tussen Maart 2020 en Januarie 2021 in hegtenis geneem vir die oortreding van die aandklokreëls, omdat hulle nie ’n masker gedra het nie, alkohol gebruik het of op die strand of in parke was terwyl dit ingevolge die rampbestuurwet verbode was.
Wanneer die wysigingwetsontwerp aanvaar word, sal sulke kriminele rekords iets van die verlede wees.
Bulelani Magwanishe, voorsitter van die justisiekomitee, het gesê die wysigingswetsontwerp sal die lei skoonvee vir diegene wat skulderkenningsboetes betaal het.
“Die voorgestelde nuwe artikel 57C maak voorsiening vir die verwydering van kriminele rekords van persone wie se name op die rekords by die kriminelerekordsentrum verskyn nadat hulle skulderkenningsboetes betaal het.”
Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het al in Junie 2022 laat blyk dat hierdie wysigingswetsontwerp voor die parlement sou dien.
Die proses het egter maande lank gesloer.
Die burgerregte-organisasie AfriForum sê die skrapping van COVID-19- kriminele rekords is ’n reuse-oorwinning vir Suid-Afrikaners en AfriForum.
AfriForum sê in ’n verklaring die uiteindelike aanvaarding van die wysigingswetsontwerp volg na volgehoue druk deur dié organisasie.
Skrapping van Covid-19-kriminele rekords kom waarskynlik ná volgehoue druk deur AfriForum https://t.co/Ieze7MkzXU
— AfriForum (@afriforum) September 20, 2023
Teen 2021 het die polisie meer as 400 000 individue aangekeer wat die inperkingsregulasies oortree het. Bheki Cele, minister van polisie, het dié syfer destyds bevestig.
AfriForum het in Augustus vanjaar aan Lamola geskryf en duidelikheid geëis oor die regering se planne om amnestie toe te staan aan individue wat tydens die nasionale ramptoestand skuldig bevind is aan die oortreding van COVID-19-inperkingsregulasies.
AfriForum sê hulle het ook spesifiek gevra of die minister bewus is van enige stappe wat deur die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gedoen word om ’n vorm van amnestie aan hierdie individue te verskaf, en of die minister dit oorweeg om enige stappe te doen om wetgewing voor te stel of regulasies in te stel om ’n vorm van amnestie en skrappingsproses in hierdie verband te implementeer.
Ná verskeie navrae deur AfriForum se regspan het die minister bevestig dat die wetsontwerp in die parlement ter tafel gelê is.
Afgesien van die EFF en Al Jama-ah, het al 12 ander politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is, die afgelope week ten gunste van die wetsontwerp gestem. Die wetsontwerp sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word vir instemming.
AfriForum sê hulle sal voortgaan om hierdie aangeleentheid te monitor totdat die wetsontwerp finaal deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur is. “Dit is onaanvaarbaar dat mense kriminele rekords ontvang het vir die oortreding van belaglike inperkingsregulasies. Sommige van hierdie individue kon intussen nie werk kry nie omdat hulle as misdadigers gebrandmerk is, en ander kon om dieselfde rede nie na die buiteland reis nie,” het Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, gesê.