COVID-19 plaas demper op feestyd

  • 0

Die Wes-Kaap staal homself om die tweede vlaag van COVID-19, wat besig is om die provinsie te tref, met so min skade as moontlik deur te sien.

In die aanloop tot die feesseisoen en duisende toeriste wat op die provinsie gaan toesak, is daar reeds verskeie voorsorgmaatreëls aangekondig om te keer dat daar weer teruggekeer word na die streng inperkings van vroeër vanjaar, wat groot ekonomiese skade aangerig het.

’n Dringende beroep is die afgelope week op die provinsie se inwoners gedoen om te help keer dat die koronavirus buite beheer versprei. Besighede sowel as individue is gevra om hulle samewerking te gee om die COVID-19-kurwe platter te maak.

Die Wes-Kaap se premier, Alan Winde, sê gedragsverandering is die mees effektiewe wapen teen die virus totdat daar ’n effektiewe entstof beskikbaar is om die verspreiding van die virus te keer.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het die week op ’n nuuskonferensie gesê Suid-Afrika bevind hom tans amptelik midde in ’n tweede vlaag COVID-19-infeksies.

Die provinsies wat op die oomblik die ergste getref word, is die Oos-Kaap, Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng. Die meeste van die 6 709 nuwe infeksies kom in die Wes-Kaap voor, naamlik 30%, gevolg deur die Oos-Kaap met 24%, het Mkhize gesê.

Die Wes-Kaap se regering sê sy herstelplan ná COVID-19 is nog op koers, ondanks die tweede vlaag van die koronavirus-pandemie wat die land, maar veral die Wes-Kaap, nou amptelik getref het.

Winde sê ekonomiese data toon dat verbruikersvertroue in die provinsie toegeneem het, hoewel negatiewe sentiment steeds bestaan. Winde sê die provinsie het ook ’n aansienlike verbetering in sakevertroue waargeneem. Hy sê die Wes-Kaap lê klem op veral drie punte in die herstelplan, naamlik waardigheid en welsyn, werksgeleenthede en veiligheid.

Die premier het ’n beroep op almal wat in die Wes-Kaap woon of die provinsie in die feestyd besoek gedoen om hulle maskers te dra. Hy sê die provinsie se hospitaalbesetting is besig om te styg maar met die publiek se samewerking kan die gesondheidstelsel beskerm word as almal maskers dra.

Inwoners is ook versoek om groot byeenkomste, beknopte publieke ruimtes en nabye kontak met vreemdes so ver moontlik te vermy.

Behalwe ’n beroep op al die inwoners om hul gedrag te verander, gaan daar ook strenger wetstoepassing wees om toe te sien dat besighede die COVID-19-regulasies nakom.

Mkhize het tydens sy nuuskonferensie vroeër die week gesê die tweede COVID-19-golf neem veral onder jongmense tussen 15 en 19 vinniger toe. Dit word toegeskryf aan die groot aantal partytjies wat skoolverlaters die tyd van die jaar hou waar daar dikwels geen maskers gedra word nie en drank vrylik vloei.

Die minister sê dit gee aanleiding tot superverspreiding wat soos ’n golf oor die res van die land kan spoel.

Mkhize sê hulle oorweeg dit om alle openbare byeenkomste, soos sportwedstryde, vermaaklikheidskonserte, strande en parke in brandpunte oor die feesseisoen te sluit. Hy het met rolspelers van die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit in Port Elizabeth gepraat.

Die distriksmunisipaliteit is as een van die brandpunte geïdentifiseer. Hy sê die aanbevelings het gekom van premiers en burgemeesters landwyd. Mkhize sê die aanbevelings word deur die nasionale bevelraad bespreek. Ontspanningsaktiwiteite is groot verspreiders van die koronavirus en dit moet verhoed word. Hy sê dit is tyd om agteroor te sit en na die see te staar, maar dat ons moet kies tussen vermaaklikheid of iemand wat die virus kry en sterf. Dit sou onverantwoordelik wees om die gevare te ignoreer.

Die nuusagentskap, Reuters, berig dit kan nog maande duur voordat bepaal sal kan word hoe effektief die entstof van AstraZeneca en die Universiteit van Oxford in Suid-Afrika is.

Volgens die jongste toetslopies is daar volgens Reuters bevind dat die entstof 70% doeltreffend in Brasilië en Engeland is. Goedkeuring word tans in verskeie lande gesoek vir die gebruik van die entstof. Suid-Afrikaners het ook aan die proeflopie deelgeneem om te bepaal hoe effektief die entstof is, maar geen data daaroor is nog bekend nie.

  • 0
Top