Covid-19 ruk Suid-Afrika ook tot stilstand

  • 0

..........

“Kenners hoop steeds die land kan ’n katastrofiese uitbreking van die pandemie vryspring indien die lesse van elders ter wêreld ter harte geneem en dadelik toegepas word.”

..........

Sondagaand se aankondiging deur president Cyril Ramaphosa dat daar ’n landwye ramptoestand ingestel word as gevolg van die koronavirus het Suid-Afrika soos baie ander lande in die wêreld tot stilstand geruk.

Foto: Pixabay.com

Covid-19 se gevolge op die land se reeds struikelende ekonomie kan katastrofies wees. Die getal bevestigde Covid-19-gevalle in Suid-Afrika het sedert die naweek skerp gestyg. Maandag was daar reeds 61 Suid-Afrikaners wat positief getoets is vir die virus en die getal sal verder styg.

Kenners hoop steeds die land kan ’n katastrofiese uitbreking van die pandemie vryspring indien die lesse van elders ter wêreld ter harte geneem en dadelik toegepas word.

Terwyl mense wêreldwyd gemaan word om nie paniekerig te raak nie, waarsku kenners ook teen oorgerustheid. Medici berei hulle daarop voor dat die getal mense wat positief getoets gaan word, nog dramaties kan styg.

Alle groot byeenkomste is reeds gekanselleer en volgens die noodmaatreëls wat Sondagaand deur die president aangekondig is, mag daar geen byeenkomste plaasvind waar daar meer as 100 mense teenwoordig is nie.

Die meeste mense is dit eens dat sy verklaring vertroue ingeboesem het. Hy het ’n nasionale ramptoestand afgekondig, die grense tot ’n groot mate vir aankomelinge gesluit, skole sluit Dinsdag (en sal gesluit bly tot na die Paasnaweek) en samekomste van meer as 100 mense word verbied.

Oostenryk se regering het reeds ’n verbod geplaas op byeenkomste van meer as vyf mense.

Dit is moeilik om te voorspel presies hoe Suid-Afrika deur die virus geraak gaan word. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by die Tygerberg-hospitaal, het aan Netwerk 24 gesê daar is nog nie ’n volskaalse uitbreking van die siekte in Suid-Afrika soos byvoorbeeld in Italië nie. “Baie mense sê dit is net nog ’n griep – dit is nie. Maar dis ook nie ’n sars of ’n ebola wat mense op ’n enorme skaal kan afmaai nie.”

Vrye Weekblad se redakteur Max du Preez skryf Maandag in sy weeklikse nuusbrief die ding met die koronavirus is dat dit onsigbaar is, dat dit tot 12 uur lank op oppervlakke aan die lewe kan bly en dat mense wat nie siek voel of lyk nie, dit kan versprei.

..........

“Die regering hoop dat die maatreëls wat Sondag aangekondig is, binne drie weke vrugte sal afwerp en dat die getalle wat aangemeld word, beperk kan word.”

..........

“Dit kan die ou wees wat die naweek by die Woordfees daarop aangedring het om my hand te skud, eerder as om my ’n elmboog-groet te gee. Dit kan die kassiere by die supermark wees waar ek gister kruideniersware gaan koop het, of ek kon die virus opgetel het toe ek my pakkies van die toonbank in sakke gepak het. Ek kon selfs besmet geword het toe ek by die huis teruggekom en my skoene uitgetrek het.”

Hoe paranoïes moet ons wees? vra Du Preez. “Is die bravade van dié wat hulle nie te veel aan voorsorgmaatreëls steur nie, realisties of dwaas?”

Die Universiteite van Johannesburg en die Witwatersrand het reeds alle klasse en toetse gekanselleer. Lesings by die Universiteit van Kaapstad is opgeskort en alle koshuise sal gesluit word. Die universiteit sê in ’n verklaring dat studente 72 uur het om die koshuise te verlaat. Die vakansie vir die eerste kwartaal is onmiddellik van krag.

Ministers in die ministeriële komitee oor die koronavirus het Maandag tydens ’n nuuskonferensie verduidelik hoe president Ramaphosa se maatreëls om die verspreiding van die virus te beperk deur die verskillende regeringsdepartemente geïmplementeer sal word.

Die regering hoop dat die maatreëls wat Sondag aangekondig is, binne drie weke vrugte sal afwerp en dat die getalle wat aangemeld word, beperk kan word.

Hier is ’n webwerf met die jongste inligting en antwoorde op baie van die publiek se vrae.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top