COVID-19 se skokkende gevolge laat navorsers stom

  • 0

Ongeveer 3 000 000 Suid-Afrikaners het sedert die begin van die grendeltyd in Maart hulle inkomste verloor en byna die helfte van alle huishoudings in die land sê hulle het die afgelope drie maande honger gely.

Hierdie skokkende onthullings is vervat in ’n verslag wat Woensdag deur ’n span Suid-Afrikaanse navorsers in die elektroniese koerant Daily Maverick bekendgemaak is. Die National Income Dynamics Coronavirus Rapid Mobile Survey (NIDS-CRAM) het die ekonomiese impak van die COVID-19-pandemie in die land ondersoek.

Sowat 7 000 Suid-Afrikaners is tydens die navorsing betrek en dit word beskou as die mees verteenwoordigende navorsing oor die ekonomiese impak van die koronapandemie tot dusver.

Die vernietigende gevolge wat die pandemie op Suid-Afrikaanse huishoudings gehad het, word in besonderhede in die verslag uitgespel. NIDS-CRAM het die sosio-ekonomiese impak ondersoek van die landwye inperking en die ramptoestand wat in Maart deur die regering afgekondig is, asook die sosiale en ekonomiese gevolge van die wêreldwye koronaviruspandemie op Suid-Afrikaners.

Die studie is gedoen deur navorsers van drie universiteite: die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Witwatersrand. Dit bevat ook insette van navorsers van ander universiteite, regeringsamptenare, ontleders en ander kundiges soos ekonome. Meer as 30 navorsers van Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite het gehelp om die inligting in te samel by die meer as 7 000 Suid-Afrikaners wat daaraan deelgeneem het. Dit sluit ook buitelandse universiteite soos Harvard en Oxford in.

Verskeie skokkende feite het tydens die omvattende navorsing na vore gekom, waarvan die ongeveer drie miljoen mense wat hulle werk tussen Februarie en April verloor het, een van die ergste is. ’n Skrale 17 persent van diegene wat aan die vraelyste deelgeneem het, was daarvan seker dat hulle ná die inperking nog ’n werk sal hê.

Behalwe die meer as drie miljoen mense wat skielik sonder ’n werk sit, het byna die helfte van die land se mense in minder as ’n maand honger gaan slaap. Altesaam 47 persent van die respondente sê in April was daar nie meer genoeg geld in hulle huishoudings om kos te koop nie. Volgens Statistieke Suid-Afrika was die persentasie mense wat voor die landwye inperking nie genoeg geld gehad het om kos mee te koop nie, ongeveer 21 persent van die land se huishoudings.

Die armstes in die land is disproporsioneel ook die swaarste getref as gevolg van werksverlies.

Die koronaviruspandemie word deur die navorsers bestempel as die grootste maatskaplike en ekonomiese skok in ons leeftyd. “Dit sal ongekende aksie van die regering verg om grootskaalse lyding en ekonomiese skade te voorkom,” het CRAM op hulle webwerf aangekondig.

Die verslag het aan die lig gebring dat vroue die meeste onder die inperking gely het. Talle mense se gesondheid het ook daaronder gely afgesien van COVID-19. Byna 40 persent mense met chroniese siektes soos diabetes, hartsiektes en tuberkulose het nie in April of Mei hulle medisyne gaan haal nie omdat hulle bang was dat hulle COVID-19 sal opdoen.

Ongeveer twee derdes van diegene wat hulle werk verloor het, was vroue, van wie baie enkelouers is wat alleen vir hulle kinders moet sorg. Selfs onder diegene wat nog gelukkig is om ’n werk te hê, is vroue die swaarste getref en is hulle werkure die meeste afgeskaal.

Die navorsers sal nog tot die einde van die jaar met hulle werk voortgaan en minstens nog vyf fases van hulle navorsingsverslae uitreik. Dit is die grootste niemediese navorsingsprojek oor COVID-19 wat nog gedoen is.

Die hoofnavorser van die projek, Nic Spaull, sê die studie is die eerste gesaghebbende maatstaf van die impak wat COVID-19 op werksgeleenthede, hongersnood en armoede het.

Hy het aan die Daily Maverick gesê die impak van die navorsingstudie is kolossaal en het die navorsers geskok. “Almal van ons was verstom. Dit is vernietigend en ontstellend,” het Spaull aan die koerant gesê

  • Die volledige CRAM-verslag kan hier gelees word.
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top