Covid-kenners meen maskers en ramptoestand is uitgedien

  • 0

Al hoe meer mediese kenners in Suid-Afrika voeg hulle stemme by oproepe vir die beëindiging van die nasionale ramptoestand en die verpligte dra van maskers, veral in die buitelug of waar daar nie ’n groot samedromming van mense is nie.

Shabir Madhi, dekaan, Fakulteit Gesondheidswetenskappe en professor in entstofkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, is een van verskeie Covid-kenners wat glo dat die wetlike vereiste om ’n masker in die openbaar te dra om die COVID-19-pandemie te help beveg, uitgedien geraak het.

Madhi het in ’n onderhoud wat die Sentrum vir Risiko-analise met hom gevoer het, gesê hy is oortuig daarvan dat die lapmaskers wat deur ’n meerderheid van die bevolking gedra word, bykans niks doen om te voorkom dat die virus versprei nie.

Hy glo wel dat diegene wat weier om ingeënt te word, die gevolge moet dra. Hy sê sulke mense sal moet aanvaar dat sekere deure vir hulle gesluit sal word soos wat met die tennisspeler Novak Djokovic in Australië gebeur het.

Madhi sê dit maak geen sin om met die maskermandaat voort te gaan nie. Veral nie as die manier waarop Omikron versprei, in ag geneem word nie. Hy sê die meeste mense gebruik die materiaalmaskers, wat nie regtig infeksie voorkom nie, selfs al kan dit die verspreiding van druppels help keer.

Sy siening stem ooreen met dié van verskeie ander kenners. ’n Groep gesondheidskenners vra in ’n meningstuk in Daily Maverick ook dat die nasionale ramptoestand beëindig word. Hulle sê daar is verskeie alternatiewe om die pandemie te bestuur in die geleidelike terugkeer na normaliteit.

Madhi sê: "Ons is in ’n heel ander fase van die pandemie en die dinamika van ons vermoë om onsself teen ernstige siektes en dood te beskerm, het heeltemal verander.

“Ondanks die beskeie ontplooiing van COVID-19-entstowwe in Suid-Afrika, het meer as driekwart van die bevolking reeds voor die Omikron-golf natuurlike infeksie [en] geïnduseerde immuniteit ontwikkel wat hulle uiters goed teen ernstige siektes en dood beskerm. Dit sal ons waarskynlik aanhou beskerm selfs wanneer daar weer ’n herlewing is, wat waarskynlik oor ’n paar maande sal plaasvind,” sê Madhi.

Hy word ondersteun deur kenners soos Francois Venter, een van Suid-Afrika se voorste kenners van die virus van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, Marc Mendelson, hoof van aansteeklike siektes en MIV, Universiteit van Kaapstad, Jeremy Nel, departementshoof, aansteeklike siektes, Universiteit van die Witwatersrand, Lucille Blumberg, Right To Care en Universiteit Stellenbosch en Zameer Brey, gesondheidstelseladviseur en raadslid van die Groote Schuur-hospitaal.

Hulle was almal medeskrywers van die artikel wat in Daily Maverick verskyn het waarin hulle pleit vir die beëindiging van die ramptoestand.

Hulle sê as mediese veterane van masker dra het hulle geen geduld met argumente oor ongemak, gesondheid of die verkeerde vertolking van skendings van vryhede nie. “Ons kan egter nie vir altyd maskers in alle binnenshuise omstandighede aanhou dra nie. Veral nie noudat die risiko van ernstige COVID-19 aansienlik minder is in vergelyking met vroeër stadiums van die pandemie toe daar min immuniteit teen ernstige COVID-19 was nie.

“Daar kan plekke wees waar maskers verpligtend bly (soos volgepakte openbare vervoer), maar oor die algemeen behoort die mandaat om binnenshuis maskers te dra uiteindelik weg te val.”

Masker behoort volgens hulle nie meer verpligtend wees in die buitelug nie. Kwesbare mense kan kies om ’n masker buite te dra in oorvol omstandighede en moet besef ​​inentings bied die grootste beskerming aan hul gesondheid.

Wat SARS-CoV-2 betref, moet die regering volgens die kenners doelgerig gefokus wees op die entstofprogram en die beskerming van gesondheidsfasiliteite teen die impak van groot getalle opnames.

Hulle pleidooi beklemtoon veral ’n sterker fokus op inenting vir mense met ’n hoë risiko vir infeksie omdat dit volgens hulle verreweg die grootste prioriteit bo ander maatreëls is.

  • ’n Regter in New York het Maandag die staat se maskermandaat van die hand gewys en beslis dat dit ongrondwetlik en ’n oortreding van staatswette is. Regter Thomas Rademaker van die New York State Hooggeregshof op Long Island het in sy uitspraak gesê dat hy geen twyfel het dat daar ’n goeie bedoeling agter die maskermandaat was nie en sy uitspraak is nie bedoel om die doeltreffendheid, behoefte of vereiste van maskers as ’n middel of hulpmiddel in die hantering van die COVID-19-virus te bevraagteken nie.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top