Covid-kwarantyn se dae is dalk getel

  • 0

Suid-Afrikaners wat simptome van COVID-19 toon of in kontak was met iemand wat positief getoets het vir die virus, sal hulleself nie meer hoef te isoleer as die Ministeriële Advieskomitee (MAC) oor COVID-19 hulle sin kry nie.

Die komitee het volgens berigte in die media by die minister van gesondheid, Joe Phaahla, aanbeveel dat daar weggedoen word met kwarantyn en kontakopsporing. Die komitee se aanbeveling sal glo nog vandeesweek deur die Nasionale Koronavirus-bevelsraad bespreek word.

Volgens ’n dokument wat glo deur die advieskomitee se medevoorsitters onderteken is, moet kwarantyn met onmiddellike ingang gestaak word vir mense wat in kontak was met iemand wat COVID-19 onder lede het. Dit speel volgens hulle geen openbare gesondheidsrol meer nie.

Sunday Times het ook Sondag berig dat die vereiste om vir tien dae in kwarantyn te sit wanneer jy met ’n COVID-19-geval in aanraking gekom het, en die daaropvolgende kontakopsporing, binnekort iets van die verlede kan wees as minister Phaahla die voorstel goedkeur om hierdie vereistes te staak.

In die aanbeveling aan die Minister stel Kholeka Mlisana en Marian Jacobs voor dat kwarantyn met onmiddellike effek gestaak word.

“Die identifisering van kontakte van COVID-19-gevalle of kontakopsporing dien ewe min van ’n doel. Boonop is kontakopsporing onprakties sodra die COVID-19-gevallelading toeneem as gevolg van die groot aantal kontakte wat vir elke geval geïdentifiseer moet word, en is dit uiters lastig in die gebruik van menslike en finansiële hulpbronne,” het hulle volgens Sunday Times in ’n verklaring aan Phaahla en die waarnemende direkteur-generaal vir gesondheid, Nicholas Crisp, gesê.

Indien dit goedgekeur word, sal die staking van toepassing wees op beide ingeënte en nie-ingeënte kontakte.

“Geen toetsing vir COVID-19 is nodig nie, ongeag die blootstellingsrisiko, tensy die kontak simptomaties word. Ons stel verder voor dat kontakopsporing gestaak word. Aangesien huidige toetsing slegs ’n klein minderheid van alle COVID-19-gevalle identifiseer, dien die kwarantyn van kontakte van hierdie gevalle geen aantoonbare algemene openbare gesondheidsdoel nie,” lui die dokument.

Die advieskomitee sê die definisie van ’n hoërisikokontak is verouderd omdat wetenskaplikes die verspreiding van die virus nou beter verstaan. Die komitee is verder bekommerd oor die langtermyngevolge van kwarantyn en die invloed daarvan op mense se lewensbestaan soos inkomste, werksverliese en onderrig wat onderbreek word.

Volgens die komitee se aanbevelings is kwarantyn ook nie in baie sosiale omgewings haalbaar nie. Dit oefen ook groot druk uit op personeelvlakke en kom teen ’n prys vir die individu sowel as vir die breër samelewing.

Die raadgewers glo dat kwarantyn waarskynlik slegs in sekere omstandighede effektief en prakties is as ’n beheermaatreël vir ’n siekte-uitbraak, en nie ’n rol het vir endemiese siektes waar beheer nie moontlik is nie.

Die aanbeveling lui dat die getal mense met immuniteit teen COVID-19, hetsy teen infeksie of inenting, aansienlik gestyg het.

“Ons het meer geleer oor die manier waarop COVID-19 versprei word, en het ook nou te kampe met variante waarvan die epidemiologie verskil van dié van die oorspronklike stamme van SARS-CoV-2. Dit blyk dat pogings om die virus uit te skakel en te beveg, waarskynlik nie suksesvol sal wees nie. Daarom is dit van kritieke belang dat die rol van inperkingspogings soos kwarantyn en kontakopsporing herevalueer word.”

Intussen het president Cyril Ramaphosa Maandag ’n week van selfisolasie wat gevolg het op sy positiewe COVID-19-toets op 12 Desember 2021, beëindig.

Die President het alle Suid-Afrikaners en leiers en vriende internasionaal wat hul goeie wense in hierdie tydperk oorgedra het, bedank.

Op sy beurt wens die President alle persone wat met COVID-19 besmet is, ’n veilige en spoedige herstel toe.

Sy kantoor sê die President het na diens teruggekeer en sal op Woensdag 22 Desember 2021 oor die finale kabinetsvergadering vir 2021 voorsit.

Ramaphosa herhaal sy oproep aan almal in die land om veilig te bly deur ingeënt te word, gesigmaskers te dra, hande gereeld te was of te ontsmet, ’n sosiale afstand te handhaaf en byeenkomste te vermy.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top