Covid-ongerymdhede beloop miljarde

  • 0

Die meeste kontrakte wat tydens die Covid-pandemie deur tenderaars in Suid-Afrika bekom is om die pandemie hok te slaan en wat ondersoek is, was onreëlmatig.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het bevind dat miljarde rand aan onreëlmatige kontrakte bestee is.

Die SOE se derde, finale verslag oor sy omvattende ondersoek na COVID-19-verkrygingsonreëlmatighede ingevolge Proklamasie R23 van 2020 is nou aan die publiek beskikbaar.

Die organisasie Corruption Watch het Donderdag skakels na die volledige verslae op hulle webwerf geplaas.

Met meer as 90% van die ondersoeke wat afgehandel is, blyk dit dat meer as die helfte van die kontrakte wat toegeken is, onreëlmatighede bevat het.

Van die sowat 5 000 kontrakte waarvan die ondersoeke afgehandel is, is daar onreëlmatighede in 2 965 kontrakte geïdentifiseer, met ’n yslike waarde van R8,9 miljard. In 2 010 kontrakte ter waarde van R6,7 miljard kon daar geen onreëlmatighede gevind word nie.

Daarbenewens is bevind dat 85 kontrakte met ’n totale waarde van R174 951 van “buite” ontvang is – wat beteken dat dit nie binne die vasgestelde parameters of omvang van die verkrygingsprojekte val nie.

Die proklamasie wat die ondersoeke moontlik gemaak het, het die SOE gemagtig om die verkryging van tenders te ondersoek wat onder die COVID-19-ramptoestand gedoen is.

Die doel was om verkrygingsprosesse op te spoor wat nie regverdig, mededingend of deursigtig was nie, sowel as dié wat wetgewing, riglyne of regulasies oortree het. Die SOE moes ook enige onbehoorlike of onwettige optrede deur amptenare of werknemers by staatsinstellings ondersoek.

Die finale verslag strek oor die ondersoektydperk 1 Julie 2022 tot 31 Oktober 2022, en is reeds op 15 Desember 2022 aan president Ramaphosa oorhandig, maar die volledige inhoud daarvan is nou eers openbaar gemaak.

Die eerste en tweede verslae het 23 Julie 2020 tot 30 November 2021 en 1 Desember 2021 tot 30 Junie 2022 onderskeidelik gedek.

Altesaam het die SOE sy visier gerig op 5 515 kontrakte wat aan 3 025 diensverskaffers toegeken is, met ’n totale waarde van R17,8 miljard.

Wat die 90,2% van afgehandelde sake betref, het die SOE bevind dat die waarde van onreëlmatighede in kontrakte veel meer is as dié van kontrakte wat korrek uitgevoer is.

Corruption Watch sê as gevolg van hierdie monumentale stuk werk is 59 sake teen 31 Oktober 2022 by die Spesiale Tribunaal ingedien, terwyl 476 sake na vervolgingsowerhede verwys is; 458 amptenare is vir dissiplinêre stappe verwys en drie sake is na die uitvoerende gesag verwys.

Volgens Corruption Watch is dit egter kommerwekkend dat die aangeleenthede wat by die Spesiale Tribunaal ingedien is, slegs ’n klein deeltjie van die onreëlmatighede, naamlik R2,5 miljard van die R8,9 miljard, behels wat ontdek is.

Sou al hierdie ingeskrewe sake en verwysings suksesvol hanteer word, kan die staat sowat R566 miljoen in kontant of bates verhaal, met R119 miljoen se verliese wat voorkom kan word, en R729 miljoen se kontrakte wat opsy gesit is.

Die waarde van die werklike kontant of bates wat tot dusver verhaal is, staan ​​tans egter op ’n skamele R36 miljoen.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top