’n Voorstel deur senior ANC-politici in Limpopo dat persone wat nie teen COVID-19 ingeënt is nie, verbied moet word om drank te koop, het hewige reaksie onder Suid-Afrikaners en opposisiepartye uitgelok.
Limpopo se LUR vir gesondheid, Phophi Ramathuba, het die voorstel vroeër die week tydens ’n radio-onderhoud met JacarandFM gedoen. Volgens mediaberigte geniet sy die steun van die provinsie se premier.
Ramathuba het in ’n onderhoud met die TV-kanaal eNCA bevestig dat sy in gesprek is met die drankbedryf oor die voorstel. Sy het egter toegegee niemand kan gedwing word om ingeënt te word nie en dat dit nie verpligtend vir Suid-Afrikaners is om die entstof te ontvang nie.
Volgens haar het mense “so ’n bietjie druk” nodig om te verstaan waarom hulle hul moet laat inent. Sy het daarop gesinspeel dat die voorgestelde verbod nie slegs op drankverkope van toepassing moet wees nie, maar ook wanneer mense winkels en byvoorbeeld sportstadions wil besoek. Ramathuba het ook aan die TV-kanaal gesê net soos wat daar tydens die Vigs-pandemie gesê is geen seks sonder voorbehoedmiddel nie, behoort daar nou gesê te word geen afsprake sonder inenting nie.
Haar voorstel is egter deur verskeie Suid-Afrikaners afgemaak en as onprakties bestempel.
Die Liquor Brandowners Association (Salba), die DA en die Vryheidsfront Plus was van die instansies en partye wat die voorstel summier afgeskiet het. Op sosiale media het dit ook gegons onder gewone Suid-Afrikaners wat daarteen gekant is.
Die DA in Limpopo se woordvoerder oor gesondheid, Risham Maharaj, sê in ’n verklaring die DA is diep besorg oor die onlangse opmerkings wat deur Ramathuba gemaak is. Maharaj sê dit kom neer op vooroordeel teen ’n deel van die publiek en, volgens hom, het die LUR nie die mag om die regte van Limpopo se inwoners op dié manier in te perk nie.
Hy sê terwyl dit belangrik is dat soveel moontlik mense ingeënt word om die breër bevolking te beskerm, moet die regte van diegene wat kies om hulle nie te laat inent nie, ook gerespekteer word. Volgens hom moet daar eerder strategies gedink word hoe om inentings aan te moedig.
Die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor gesondheid, Philip van Staden, sê in sy verklaring inentings is steeds elke persoon se vrye keuse en verpligte inenting sal neerkom op ’n skending van die land se Grondwet.
“Nie alle mense kan sonder meer die entstof neem nie weens onderliggende siektetoestande en verskeie persone moet eers die nodige mediese ondersoeke ondergaan om te kan bepaal of hul wel geskik én gesond genoeg is om die entstof te kan neem.”
Van Staden sê net so kan gesondheidsdienste nie geweier word aan mense wat nie ingeënt is nie. Dit sal ook ongrondwetlik wees. Die VF Plus sê die Minister van Gesondheid moet LUR’e vra om op te hou met hierdie soort uitsprake en het hom gemaan dat die regering versigtig moet wees oor die implikasies van sulke uitsprake weens die ongrondwetlikheid daarvan.
Salba sê hulle neem kennis van die mediakommentaar oor die voorstel.
The South African Liquor Brand owners Association (SALBA) notes the media comments suggesting that COVID-19 vaccination should be a requirement for purchasing alcoholic beverages.#NoVaccine #SALBAhttps://t.co/EvqrniafjD pic.twitter.com/m99CXJU7Os
— SALBA (@salba_za) August 25, 2021
Salba sê in ’n verklaring hulle glo nie dat die voorstel lewensvatbaar is nie, omdat besighede, ongeag die produkaanbod, nie toegang tot verbruikers kan weier nie. “Gesondheidsopvoedings- en bewusmakingsprogramme is die gevestigde maatreëls om vrywillige opname vir gesondheidsintervensies aan te moedig.”
Salba sê die alkoholbedryf ondersteun egter pogings om inenting aan te moedig en gedrag soos sosiale distansiëring, die dra van maskers en gereelde gebruik van ontsmettingsmiddels. “Salba-lede moedig hul werknemers aktief aan om die entstof te neem en ons werk saam met alle belanghebbendes om die entstof te bevorder om kudde-immuniteit te bereik.”
Intussen het die Kaapse Hooggeregshof uitspraak voorbehou in die hofsaak waarin Vinpro die regering se benadering ten opsigte van beperkings op drankhandel binne die Wet op Rampbestuur betwis.
Vinpro sê in ’n verklaring hulle bly hoop vir ’n positiewe uitkoms in afwagting op die uitspraak oor hierdie belangrike beginsel wat besluitneming rondom ’n toekomstige verbod op wynverkope sal bepaal. “Intussen bly ons toegewyd aan al ons pogings om die Suid-Afrikaanse wynbedryf ten volle te heropen en herbou,” sê Rico Basson, die bestuurshoof van Vinpro.
VINPRO COURT CASE:JUDGMENT RESERVED
The Cape High Court today reserved judgement in the court case during which Vinpro contested the approach followed by Govt towards liquor ban restrictions within the Disaster Management Act#lifttheban @RicoBasson
READ: https://t.co/EWgHg1CVNV pic.twitter.com/rX22in7q35— Vinpro (@Vinpro_za) August 25, 2021