Covid
Nederland is weer volledig op slot
Demissionêre premier Mark Rutte, die demissionêre minister van volksgesondheid Hugo de Jonge en die voorsitter van die Advieskomitee, die OMT, het Saterdagaand ’n perskonferensie gehou en opnuut ’n harde inperking afgekondig. Die aankondiging is gedoen op advies van die OMT om die verspreiding van die Omikron-variant van die koronavirus in bedwang te bring. Nederland sit op die oomblik net oor die kruin van die vyfde golf. Daar is elke dag effens minder opnames in hospitale, maar hospitale is steeds vol met COVID-19-pasiënte, wat veroorsaak dat ander noodsaaklike mediese sorg uitgestel moet word.
Ingevolge die nuwe maatreëls moet alle winkels, behalwe noodsaaklike winkels soos supermarkte, apteke, drankwinkels en kraampies waar jy oliebolle en vis kan koop, sluit. Restaurante, bioskope, teaters en konsertsale moet ook hul deure sluit. Skole, wat nog nie gesluit was nie, moes vroeg sluit, so ook universiteite en ander opleidingsinstansies. Die publiek word opnuut gevra om soveel as moontlik tuis te werk.
Die streng inperking het baie Nederlanders onkant betrap, met talle wat nou ander planne moet maak vir Kersfees en ouers wat skielik saam met gillende kinders in dieselfde huis moet probeer werk. Restaurante sit nou met voorraad wat hulle vir Kersfees bestel het wat nie gebruik kan word nie.
OMT-voorsitter Jaap van Dissel het die publiek aangemoedig om ’n skraagdosis te kry, maar die Gemeentelijke Gezondheidsdienst, die GGD, sit met hul hande in hul hare om die toestroming van mense te hanteer. Buite inentingsplekke staan lang toue in die ysige koue en mense sukkel soms dae lank om ’n afspraak te kry.
Intussen berei Nederlanders hulle voor op nog ’n droewige Kersfees met weinig vooruitsig van hoop, aangesien dit dus blyk dat die inentings glad nie so goed werk om langtermynimmuniteit te verseker as wat vantevore gedink is nie.
BN'ers kritisch en verbaasd over #persconferentie #Rutte #HuogDeJonge #VanDissel #ruggengraatloosKabinet #lockdown https://t.co/6nAuS2CC2V
— Joke Thepass (@Twin0903) December 19, 2021
Sake loop anders in België
In België heers daar ook kommer oor die stygende aantal infeksies wat aan die Omikron-variant toegeskryf word. De Morgen berig dat die Advieskomitee in België nie van plan is om ’n streng inperking in dié land in te voer nie. Daar word wel verwag dat die Omikron-variant teen Kersfees besmettings in België sal oorheers. Hoewel daar sprake is dat dié variant mense minder siek maak, is daar steeds mense wat weens die infeksie in die hospitaal beland.
Die Advieskomitee in België vergader Woensdag om nuwe maatreëls te bespreek. Volgens inligting kan Belge verwag om weer, soos vroeër, sogenaamde contactbubbels van twee tot drie huishoudings te vorm wat gereeld bymekaar mag kom. Tuiswerk word verplig en restaurante sal vroeër, om agtuur saans, moet sluit. Daar word ook verwag dat die getal mense in ’n winkel beperk sal word en dat burgers van lande buite die EU wat na België wil reis, ’n verpligte COVID-19-toets sal moet ondergaan.
Duisende betoog teen koronabeleid in België
Sowat 3 500 betogers het Sondag in die Belgiese hoofstad Brussel die strate ingevaar uit protes teen die huidige koronabeleid. Dit is die derde keer in ’n maand dat betogers in die stad protes aanteken. Veral twee aspekte van die huidige beleid steek die betogers dwars in die keel: die inentingsplig vir mediese personeel en die koronapas.
Die polisie was vroeg al op die toneel om ’n oog te hou. Hoewel die optog meestal kalm verloop het, was daar ’n paar insidente waar betogers vuurwerk na die polisie geslinger het. Minstens 13 mense is aangehou.
Brussel -- Duizenden betogers tegen coronabeleid https://t.co/qorj5zH2D0
— 🚴♂️ Jassogne (@jassogne) December 19, 2021
En die woord van die jaar is ...
Die Van Dale-woordeboek het pas die Woord van die Jaar 2021 bekend gemaak. En dit is ... “prikspijt”. Die betekenis hiervan is die “spijt die iemand heeft van het feit dat hij zich heeft laten vaccineren tegen een bepaalde besmettelijke ziekte”. Die hoofredakteur van die Dikke Van Dale, Ton den Boon sê: “Het is een interessant woord, je vindt het de laatste tijd ook wel in de tegengestelde betekenis: dat je spijt hebt van je níet laten prikken.” Altesaam 82,2 persent van die nagenoeg 50 000 stemme het die woord gekies. Talle mense is op Twitter aangemoedig om vir die woord te stem – meestal deur mense wat hulle nie wil laat inent nie. Volgens Den Boon is dit ’n weerspieëling van die polarisasie in die samelewing rakende die koronabeleid.
Van Dale in België het ’n ander woord gekies. Hul woord van die jaar is “knaldrang”. Die betekenis van die woord is “een sterk verlangen om in de bol te gaan”.
Demissionêre minister van volksgesondheid Hugo de Jonge het kort na die aankondiging só op Twitter gereageer:
Als je op de IC ligt omdat je géén prik hebt genomen. Dan heb je pas #prikspijt. https://t.co/oVOHBhEcwX
— Hugo de Jonge (@hugodejonge) December 21, 2021
Eerste matige ryp van die winter
Die eerste ryp het Nederlanders Dinsdagoggend begroet. Motorvensters was toegeryp en selfs op grasperke kon jy tot ná middagete nog die ryp sien lê. Die laagste temperatuur wat Dinsdagnag gemeet is, was –5,2 grade Celsius in De Bilt, aldus weeronline.nl. Die koue het verskeie vertragings op die treinverkeer tot gevolg gehad, maar die meeste probleme is teen laat die oggend uitgestryk. Die owerhede het strooiwaens ingespan om sout op paaie te strooi om gladheid te voorkom. Verlede winter het die eerste ryp eers op 31 Januarie sy verskyning gemaak.
Wat een prachtige zonnige dag in de berijpte tuin van de @Menkemaborg #uithuizen. Helaas zijn de tuin en de borg momenteel gesloten vanwege de lockdown. Vanaf de singels rondom de borg heb je ook een prachtig zicht op de tuin. pic.twitter.com/z9i8VUnW0A
— maria cgg (@mariacggnoord) December 21, 2021
Wolf slaan weer toe
Daar word vermoed dat die wolf wat afgelope Saterdag in die omgewing van Renesse, suid van Rotterdam, opgemerk is, vyf skape doodgebyt het. ’n Woordvoerder van die provinsie Zeeland, Teresa Kalverboer, het die publiek gemaan om die wolf met rus te laat. “Een uitgeputte wolf pakt makkelijke prooien, in dit geval dus schapen,” sê sy. Volgens haar is dit ’n jong wolf, aangesien swerwende wolwe meestal jonk is. Indien hulle iets opmerk waarvan hulle nie hou nie, sal hulle verder gaan soek. “Het is de bedoeling dat hij de rust vindt en op wilde dieren gaat jagen,” sê sy in ’n radio-onderhoud op Omroep Zeeland.
Die provinsie bied bekommerde veeboere spesiale geëlektrifiseerde nette van 1,20 meter hoog aan.
Toch te belachelijk voor woorden een wolf bij Ellemeet & Renesse aan de kust op het eiland Schouwen Duiveland? Hoe kan het kreng daar komen? pic.twitter.com/Y9j2BsYstv
— Jean van der Horst (@jeanvanderhorst) December 19, 2021