Die burgerregteorganisasie AfriForum sê president Cyril Ramaphosa en die minister van polisie Bheki Cele moet verantwoordelikheid aanvaar vir Dinsdag se gebeure in Senekal tydens die eerste hofverskyning van die moordverdagtes van Brendin Horner (21).
Die regering se herhaalde miskenning van plaasmoorde en hul weiering om dit tot prioriteitsmisdaad te verklaar, is volgens AfriForum die rede vir gemoedere wat in dié Vrystaatse dorp oorgekook het tydens die hofverskyning van die twee mans wat vir die moord aangekla word.
Cele en ander ministers eis nou dat dié mense in hegtenis geneem moet word, terwyl dieselfde ministers bloot toegekyk het hoe EFF-ondersteuners Clicks-winkels geplunder en aan die brand gesteek het.
— AfriForum (@afriforum) October 7, 2020
AfriForum sê in ’n verklaring Ramaphosa het die bestaan van plaasmoorde vroeër op ’n internasionale platform ontken, terwyl Cele boere verlede maand op ’n vergadering in KwaZulu-Natal oor hul probleme uitgelok en verneder het.
“Die regering is geensins in voeling met die stryd en pleidooie van landelike gemeenskappe en boere nie.”
Die veroordeling van die optrede van die mense in Senekal spreek volgens AfriForum van die regering se dubbele standaarde. “Cele en ander ministers eis nou dat dié mense in hegtenis geneem moet word, terwyl dieselfde ministers bloot toegekyk het hoe EFF-ondersteuners Clicks-winkels geplunder en aan die brand gesteek het.”
Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat mense deurlopend met die werklikheid van plaasmoorde gekonfronteer word en dat hulle hul geliefdes moet troos terwyl die regering geen ag op hul smart slaan nie.
Die EFF-leier Julius Malema het intussen op Twitter gesê aangesien die regering en president Ramaphosa bang is om doeltreffend op te tree is “ons op ons eie”. Malema sê tydens die volgende verskyning van die beskuldigdes sal alle “grondmagte” van die EFF en “vredeliewende” Suid-Afrikaners by die hof teenwoordig wees om die demokrasie en eiendom te verdedig. “Magwala a chechele morago! Fighters attack!” het Malema getwiet.
Since the government of @CyrilRamaphosa is extremely scared to respond decisively, we are on our own. Next appearance, all ground forces and peace loving South Africans will be in attendance, in defence of our democracy and property. Magwala a chechele morago! Fighters attack! pic.twitter.com/HIddc4gOV3
— Julius Sello Malema (@Julius_S_Malema) October 7, 2020
Die Vryheidsfront Plus (VF+) het in hulle reaksie op Dinsdag se gebeure by die hof gesê Cele se uitsprake dat hy “geskok en gewalg” is deur die optrede van die boere by die hof op Senekal, en die uitsprake van Ronald Lamola, minister van justisie, dat sulke optrede “anargistiese geweld” is wat nie geduld kan word nie, is niks anders as dubbele standaarde nie.
“Tydens die EFF se plundertogte van die Clicks-winkels is sulke sterk uitsprake nie van hierdie ministers gehoor [...] nie. Dit is dus duidelik dat hulle verskillende standaarde vir die boere en vir die EFF het.”
Die VF+ sê in ’n verklaring geweld is nie die oplossing vir probleme in die land nie, maar dit is verkeerd om die byeenkoms by die hof op Senekal voor te stel as ’n gewelddadige protesoptog.
Die VF Plus doen ‘n beroep op boere om sterk te staan teen hierdie aanslag. Ek wil as leier van die VF Plus aan die boere sê ons sal saam die probleme oplos. Nie met geweld nie, maar met rede, billikheid en regverdigheid. @GroenewaldPJ #Senekal https://t.co/HVc2z2tzWj
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) October 7, 2020
“Dit was nie die geval nie en die geweld wat daar wel was, is ’n geïsoleerde voorval deur boere wat getart is. Hul optrede moet daarom teen dié agtergrond beoordeel word.”
Die VF+ sê hulle neem kennis van Malema se dreigement om saam met sy “soldate” op te ruk na die volgende hofsitting op Senekal onder die dekmantel daarvan om “eiendom te beskerm”.
“Na die EFF se optrede by Clicks is dit duidelik bloot uitlokking in die ergste graad en is dit duidelik dat die EFF konfrontasie soek, wat nie bekostig kan word nie.”
Die leier van die VF+, Pieter Groenewald, sê daar word nou ook beweer dat die twee persone wat in hegtenis geneem is weens die moord, deel is van ’n sindikaat, en daar is sterk bewerings dat ander lede van die sindikaat lede van die plaaslike polisie is.
“As leier van die VF Plus dring ek daarop aan dat Bheki Cele hierdie bewerings onmiddellik moet laat ondersoek en dadelik mense in hegtenis neem indien daar enige waarheid in steek.”
Die rede waarom emosies oor plaasmoorde en -aanvalle begin hoog loop, kan volgens Groenewald direk toegeskryf word aan president Ramaphosa se ontkenning in New York in 2018 dat boere in Suid-Afrika vermoor word.
“Voeg hierby die voortdurende demonisering van boere en beskuldigings dat hulle grond gesteel het, die voortdurende aanslae op boere en hul gesinne se lewe asook die wreedheid van plaasmoorde, die onlangse uitspraak van Cele wat hy nou skielik ontken, dat boere nie moet kla indien hulle seerkry nie, en alles kulmineer tot omstandighede wat boere emosioneel tot op breekpunt dryf.”
Groenewald sê die probleme kan nie met geweld opgelos word nie, maar met rede, billikheid en regverdigheid. “Deel daarvan is om druk op die regering te plaas om die volle verantwoordelikheid te aanvaar vir die landelikeveiligheidsituasie en om daadwerklike stappe te doen om dit op te los en nie om dit deur optrede en uitsprake te vererger nie.”