Pasop vir die plakkaat op die paal

  • 0

Die begin van pres Cyril Ramaphosa se toespraak Sondagaand aan die nasie, soos ons hom laas met Covid gereeld gesien doen het, was wat jy van enigste staatshoof sou verwag: statig, opreg, bemoedigend, saambindend.

Ramaphosa het die toespraak ingelei deur “mede-Suid-Afrikaners” te vertel dat hy ons oor twee kwessies wil toespreek. Dit was die land se gereedheid vir die opkomende verkiesing, wat môre plaasvind, en dan wou hy ook, “soos wat die sesde demokratiese administrasie tot ’n einde kom”, praat oor “ons gesamentlike reis van die afgelope vyf jaar”.

Die invoeging van “demokratiese” in die formulering van die tweede tema is nie toevallig nie. Ramaphosa span dit in om die weg te berei vir die inhoud van die reis waarna hy verwys. Maar die bedoeling is spesifiek ook om afstand te skep tussen die “apartheidsbestel” van die verlede en die huidige “bevrydingsbestel”.

“Hierdie sal die sewende keer wees dat Suid-Afrikaners van alle rasse, van alle lewensvlakke en uit alle uithoeke van ons land, vir ’n nasionale en provinsiale regerings gaan stem,” het Ramaphosa ons herinner. Dit is belangrik dat ons dan moet besef dat om aan die verkiesing deel te neem met veel meer te doen het as slegs die uitoefening van ons grondwetlike reg om te kan stem. “Ons sal die rigting bepaal wat ons land inslaan. Ons sal verantwoordelikheid neem vir ons toekoms, die toekoms van ons families, ons gemeenskappe en ons nasie.”

Die leser moenie mislei word deur die vanselfsprekendheid in die voorgaande stellings nie. Dit kom onskuldig voor; dit is immers waaroor verkiesings altyd behoort te gaan: Wie ingestem word, is tog (rigting)bepalend vir wat in die afsienbare toekoms in ’n land gebeur. Maar jy moet dit saamlees met Ramaphosa se daaropvolgende verwysing na die vryheidstryd (“Soos wat ons ons stem uitbring, sal ons die stryd en opofferings erken van die generasies wat ons voorafgegaan het en vir hierdie demokrasie geveg het”) en ook ’n vroeëre voorbeeld in sy toespraak oor hoedat stemdag “die fundamentele beginsel vaslê, soos verwoord in die Vryheidsmanifes, dat geen regering op outoriteit aanspraak maak tensy dit gegrond is op die wil van al die mense nie”.

Nou ja, die Vryheidsmanifes is natuurlik die stigtingsdokument van die ANC – en daardie spesifieke bepaling is in 1955 by Kliptown geskryf as ’n aanklag teen die destydse wit minderheidsregering. Om dit nou op te diep, hou nie rekening daarmee dat die land wel die afgelope 30 jaar deur ’n party geregeer is wat (tot nou) die voorkeur van die meerderheid kiesers geniet het nie.

Ramaphosa het ’n doel met hierdie taktiek. Hy span dit in as teenvoeter vir die groeiende ongedurigheid onder groot dele van selfs daardie meerderheid wat die party aan bewind gehou het. Enersyds moet jy hulle lojaal probeer hou aan die lofwaardige geskiedenis van ’n stryd vir menswaardigheid; andersyds moet jy hulle maan teen ’n veronderstelde terugkeer na slegte(r) tye toe die ou Afrikaner-nasionalistiese Nasionale Party regeer het.

Jy het hom dit reeds vroeg vanjaar hoor doen by die ANC se 8 Januarie-byeenkoms – met “verenigde optrede om ons vryheid te beskerm” as tema – in ’n toespraak deurspek van skimpe na ongeïdentifiseerde “maatskaplike en politieke magte wat die voordele van vryheid wil ondermyn” en die gevaar van ’n “aanslag teen transformasie”. Dié aanval het sowel bestaande opposisiepartye in gedagte gehad (soos die DA) as nuwe, ANC-splinterpartye (soos die MK-party) – ’n teenrevolusionêre aanslag, as ’n mens die ANC se 8 Januarie-verklaring lees, teen “die demokratiese hernuwing, nasionale oplewing en sosio-ekonomiese transformasie-agenda”.

Maar dan keer Ramaphosa die staatsman terug wanneer hy in sy toespraak aan die nasie vermeld dat daar met goeie rede uitgesien word na ’n vreedsame, stabiele, vrye en regverdige verkiesing, soos wat sedert 1994 ervaar is. Die OVK word ook – ten regte – deur die President geloof vir hul “indrukwekkende werk” om vir die verkiesing voor te berei. Tesame met die OVK het hy die rol van partyverteenwoordigers, wetstoepassingsagentskappe, asook plaaslike en buitelandse waarnemers erken in die versekering daarvan dat een van die kenmerke van die land se verkiesings sedert 1994 “die integriteit daarvan was”.

Selfs al was die mededinging die afgelope paar maande robuus en in weerwil van kommerwekkende berigte van die obstruksie van verkiesingsaktiwiteite in KwaZulu-Natal, het partye in die algemeen getrou gebly aan die gedragskode vir die verkiesing en was hul ondersteuners se optrede daarmee belyn, aldus Ramaphosa.

Wat hy volgende gesê het, wou my opsluitlik na my slimfoon laat gryp om hom op sosiale media daarmee geluk te wens. Dit was: “Ongeag die uitslag, laat hierdie verkiesing ons demokrasie verder vestig en ons toewyding versterk om dit te onderhou.”

Maar toe kom hy by die tweede saak wat hy vooraf gesê het hy onder ons aandag wil bring, te wete “ons gesamentlike reis van die afgelope vyf jaar”. Hierdie deel van sy toespraak kon net sowel ’n finale verkiesingsveldtogtoespraak deur hom as ANC-leier gewees het, onsuksesvol versluier deur die aankondiging dat dit “die president” was wat die land gaan toespreek. Die woordtelling steun dié teorie: sowat 650 woorde is in die toespraak gewy aan ons land se gereedheid vir die verkiesing; nagenoeg 1 600 woorde aan die afgelope vyf jaar van ANC-heerskappy.

Christiaan du Plessis het op Netwerk24 berig oor hoe Ramaphosa die regering se prestasies van die afgelope vyf jaar opgehemel het. Die land was met die aanvang van die “sesde demokratiese administrasie” in 2019 by ’n draaipunt, het hy gesê. En dit was inderdaad so. Ook, soos hy uitgewys het, is die vyf jaar sedertdien ingespan vir “herbou en herstel”.

Maar dan probeer hy op ’n onregstreekse manier ons ’n rat voor die oë draai wanneer hy ’n pleidooi lewer, ter voorbereiding van ’n sewende demokratiese administrasie, dat voortgebou moet word op die vordering wat gemaak is: “[O]ns kan nie [nou] bekostig om terug te draai nie.”

Wat Ramaphosa egter skyn te vergeet, is dat die “dekade van korrupsie, staatskaping, swak ekonomiese groei en die erosie van ons openbare instellings” wat die 2019-draaipunt voorafgegaan het, enkel en alleen op sy eie party se brood te smeer is.

Die gevaar wat die land op die vooraand van die 2024-verkiesing in die gesig staar, is dus nie Ramaphosa se bangmaakstorie oor “teentransformasiemagte” nie. Geen party het tot nou enige uitspraak gemaak wat bots met die vordering wat gemaak is om die meerderheid se lewe te verbeter nie. Hulle het dalk ander idees, toegegee, oor hoe die “demokratiese hernuwing, nasionale oplewing en sosio-ekonomiese transformasie-agenda” volhoubaar voortgesit kan word.

Om die ANC nóg ’n kans te gee, kan dalk net daartoe lei dat ons vir ’n verdere vyf jaar saam met Frazer Barry en Tribal Echo moet sing: “Djy’s ’n plakkaat op ’n paal / en djy bly my mense faal.”

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top