
Hierdie moet ongetwyfeld een van die grootste verleenthede ooit vir pres Cyril Ramaphosa wees. Nie dat dit so voorkom nie; waar hy wandel, lyk dit of alles orraait is by die huis. Maar wat anders is dit as ’n absolute skande wanneer die staatshoof ewe plegtig ’n ondersoek na baie ernstige bewerings aangaande ons polisiediens aankondig – en dan agt weke later kom alles tot ’n stilstand?
’n Stappie terug: Suid-Afrikaners het jou waarlikwaar op Sondagaand 13 Julie met groot afwagting voor die televisiestelle ingeskuif, nader aan die radio, aanlyn ingeskakel. Die president sou ná ’n baie lang tyd, eintlik vir die eerste keer sedert die Covid-era, ’n “familievergadering” hou. Hierdie keer was dit nie oor die verskerping of verslapping van grendeltydperk-maatreëls nie, maar wel om die land mee te deel wat hy dink van – en veral wat hy gaan doen aan – die plofbare bewerings van ’n provinsiale polisiehoof.
Die provinsiale polisiehoof is lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi van KwaZulu-Natal, wat die land op hol gehad het toe hy die Sondag tevore by ’n spesiale nuuskonferensie tot die minister van polisie Senzo Mchunu by onbehoorlikhede betrek het. Die meeste van sy bewerings het gesentreer rondom die minister se ontbinding van ’n taakspan wat sogenaamde “politieke moorde” moes ondersoek.
Sonder om dit alles hier te herhaal, het hy ook melding gemaak van ’n gesofistikeerde misdaadsindikaat wat glo wetstoepassings- en intelligensiestrukture in Suid-Afrika geïnfiltreer het. Inmenging deur die minister was ’n ander aspek waarna Mkhwanazi verwys het – en wat uiteindelik gemaak het dat die president Mchunu versoek het om verpligte verlof te neem. Maar daar is ook ’n spreekwoordelike derde skoot deur Mkhwanazi afgevuur toe hy bekend gemaak het dat die (ontbinde) taakspan ook ’n dwelmkartel in Gauteng ontmasker het waarby politici, wetstoepassers, metropolisielede, korrektiewe dienste-beamptes, aanklaers en die regsbank, asook sakelui betrokke sou wees.
Gwa! Gwa!
’n Week later was Ramaphosa aan die woord. Hierdie aantygings, sê hy, opper ernstige bekommernisse oor die Grondwet, oppergesag van die wet en nasionale sekuriteit. Indien dit waar is, dreig dit om Suid-Afrikaners se vertroue te ondermyn in die vermoëns van die Suid-Afrikaanse Polisiediens om hulle te beskerm en misdaad en korrupsie effektief te beveg. Die bewerings vereis daarom ’n “dringende en deeglike ondersoek”. Hiervoor het Ramaphosa ’n geregtelike kommissie van ondersoek onder leiding van die uittredende waarnemende adjunk-hoofregter Mbuyiseli Madlanga aangestel.
En nou dit: ’n aankondiging dat die ondersoek vir ’n onbepaalde tyd uitgestel word weens die nie-verskaffing van broodnodige hulpbronne aan die kommissie. Gelukkig het die minister Mmamoloko Kubayi – heel verontwaardig – die skok probeer versag deur voor te gee dat die impak nie so erg is nie. Maar daarmee saam het sy onmiddellik ook stappe teen amptenare geneem, waarvan die mees senior een – direkteur-generaal Doctor Mashabane – deur haar met ’n brief bedien is oor haar voorneme om hom te skors.
Waarom moet ons met woede hierop reageer? Omdat dit ’n voorbeeld is van die soort onbeholpenheid – of gebrek aan dringendheid – wat dikwels te bespeur is wanneer “die staat” iets moet doen. Hoe ernstig was die president dan met sy aankondiging of is dit onregverdig om hierdie vertraging op sy brood te smeer? Die president sou seker kon sê dat hy die saak in die minister van justisie se hande laat en dat sy wel besig is om sake reg te stel.
Terwyl hier geskryf word, verskyn ’n “brekende nuus”-flits op die televisieskerm: 121 SAPS DOCKETS TO BE RETURNED TO POLITICAL KILLINGS TASK TEAM. Dit alleen moet ’n mens se mening oor die uitstel van die kommissie se werk ietwat verstel: Iets het skynbaar gebeur met betrekking tot die ernstige bewerings. Nou kan die taakspan (hopelik) weer sy werk hervat. Saam daarmee, is Mchunu immers ook reeds deur Ramaphosa op verlof geplaas en ’n waarnemende minister in sy plek aangestel: Firoz Cachalia is sy naam.
Beriggewing wil dit ook hê dat die minister van justisie se optrede oor die vertraging was in werklikheid in opdrag van Ramaphosa, wat met die aankondiging in die buiteland was, maar die minister met “presidensiële magte” toevertrou het om stappe teen die DG van justisie te neem. Of dit as troos moet dien vir die skade wat reeds aangerig is, is te betwyfel. Maar dat die uitstel besliste skade aanrig aan dit wat Ramaphosa in sy “familievergadering” oor gevrees het, is gewis: dat Suid-Afrikaners se vertroue in die vermoëns van die Suid-Afrikaanse Polisiediens om hulle te beskerm en misdaad en korrupsie effektief te beveg, ondermyn kan word. Dit is waarom ’n ernstige en indringende ondersoek nodig was – maar nou doen die staat nie sy deel om te verseker dat Madlanga met die werk kan begin nie.
Ongeag die remediërende stappe wat deur Ramaphosa en Kubayi geneem is, is dit steeds ’n verleentheid vir die president – en die land – dat hierdie struikelblok nou in die pad van die kommissie se ondersoek na Mkhwanazi se bewerings gekom het. Hulle sal moet verseker dat dit spoedig uit die weg gerol word – anders sal Ramaphosa en in werklikheid die hele regering van nasionale eenheid verder geloofwaardigheid inboet.
