DA betoog by Minister se kantoor oor Afrikaans

  • 0

Die DA eis dat die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, en die nasionale regering onmiddellik erken dat Afrikaans ’n volwaardige inheemse taal is.

Die party se leier, John Steenhuisen, het Dinsdag saam met ’n groep DA-lede in Pretoria ’n openbare protes gehou om hulle eis aan die Minister oor te dra.

Die DA sê in ’n verklaring Dinsdag se protes volg na maande se pogings van die DA om Nzimande te oorreed om rede te sien en sy foutiewe klassifikasie van Afrikaans as ’n “vreemde” taal in sy departement se taalbeleidsraamwerk vir hoëronderwysinstellings reg te stel. Die raamwerk erken tans slegs tale wat tot die "Suidelike Bantoetaalfamilie" behoort as inheems, en sluit Afrikaans uit.

Nadat Nzimande herhaaldelik geweier het om gehoor te gee aan die DA se oproep om Afrikaans in sy departement se definisie van Afrikatale op te neem, het die party verlede maand ook ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien en ’n petisie begin om Afrikaans as ’n inheemse taal erken te kry.

Tydens Dinsdag se betoging het die DA-afvaardiging onder leiding van John Steenhuisen, die skaduminister vir hoër onderwys, Chantel King, en die skaduminister van staatsdiens en administrasie, Leon Schreiber, die petisie, wat deur meer as 5 500 mense onderteken is, by Nzimande se kantoor oorhandig.

Volgens die DA en verskeie taalkenners is Nzimande se definisie van “inheems” onwetenskaplik. Dit is ook  in stryd met die onlangse uitspraak deur die Konstitusionele Hof oor Afrikaans by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Steenhuisen sê dit is kwetsend en haatlik teenoor die diverse Afrikaanssprekende taalgemeenskap.

Volgens die DA sal die “beledigende indeling van Afrikaans as ’n 'vreemde' taal” die grondslag  lê vir die nasionale regering van die ANC om Afrikaanse moedertaalonderrig by openbare universiteite verder uit te roei.

Die party wys daarop dat die indeling reeds opgeneem is in die voorgestelde nuwe taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US). Dit sal die status van Afrikaans aan een van die laaste universiteite waar daar nog in Afrikaans klasgegee word, verder verminder, meen die DA.

Die DA se versoekskrif eis verder dat Nzimande die Afrikaanssprekende gemeenskap in die openbaar onvoorwaardelik om verskoning vra vir die manier waarop hy hulle grondwetlike reg op waardigheid, moedertaalonderrig en gelykheid ondermyn het.

Volgens die DA behoort alle openbare universiteite versoek te word om hul taalbeleid aan te pas om Afrikaans se status as volwaardige inheemse taal in ag te neem, sodat moedertaalonderrig in Afrikaans uitgebrei word eerder as wat dit beperk word.

Tydens die Konstitusionele Hof se eenparige uitspraak in die Unisa-saak het regter Steven Majiedt  Afrikaans se status as inheemse taal bevestig as "een van die kultuurskatte van die Suid-Afrikaanse nasionale lewe [en] moontlik die 'reënboog' van alle Suid-Afrikaanse tale."

Die hof het in sy uitspraak ook die “wanopvatting” betreur dat Afrikaans die taal van blankes en onderdrukkers sou wees. Dit is volgens die hof ’n onregmatige uitbeelding van die taal en die ware wortels daarvan.

Majiedt het dit in sy uitspraak  beklemtoon dat Afrikaans “vandag oorwegend deur swart mense gepraat word – nie slegs deur swart mense in die sogenaamde 'gekleurde' townships nie, maar ook in baie swart townships in verskeie streke in die land. “Dit is die taal van prinse en armes en wat gemaklik bestaan ​​in die akademie en die beroepswêreld aan die een kant maar andersyds ook in die alledaagse taal,” lui die hof se uitspraak.

Die DA sê in teenstelling met Nzimande en die ANC-beheerde nasionale regering se voortdurende verset teen hierdie uitspraak, is die DA trots op die siening wat deur die hof verwoord is, naamlik dat Afrikaans ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal is.

“Ons sal voortgaan om elke instrument tot ons beskikking te gebruik om Nzimande te dwing om sy haatlike klassifikasie van Afrikaans reg te stel, en om al ons land se taal- en kultuurskatte te beskerm teen die ANC se ideologiese aanslag op ons inheemse tale,” sê die DA in hulle verklaring.

  • Foto's verskaf deur die DA
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top